Landbouweekblad

Spore in die sand (Jag)

Die oggendson het nog vars op die horison gelê toe ek deur die haakbos begin vleg na waar die rooi duine stil in die winterson lê. Eintlik wou ek glad nie jag nie, sommer maar net stap, maar die 7mm moes saam, want sonder ’n geweer in die veld voel ek alt

-

Die dik rooi sand het aan my beenspiere gerem en toe ek uiteindeli­k half uitasem op die kruin van ’n hoë duin vassteek, gewaar ek dit . . . ’n enkele stel spore wat skuins onder my al met die kam van die duin langs loop. Iewers in die voormôre het ’n springbok stoksielal­leen teen die duin af die bleek skynsel tegemoet geloop waar die son belowe het om op te staan.

Ek het stadig al met die duidelike spoor langs gestap, verby die reënkuil aan die voet van die duin tot waar die spoor links gedraai het op die klipperige grond voor ’n hoë rant.

Van daar af het dit moeilik geraak om op die spoor te bly, dus stap ek toe maar in die algemene rigting waarin die springbok koers gekies het. Ná ’n hele ent se stap het ek ’n braklaagte genader. Iets wits tussen die brakbosse het my oog gevang. Ek het plat gaan sit en my 10x42 Leica-verkyker na my oë toe gebring.

’n Enkele springbok het witpens teen die môreson gestaan. Dit was duidelik dat Vader Tyd al geruime tyd op sy spoor gestap het. Die ou ram se gesig was vol merke en sy linkeroor geskeur. Sy ribbebene het duidelik afgeëts gelê en sy heupbene het skerp teen die bruin vel gebeur.

Die droogte het ook hier op die grens tussen die klip- en die duinewêrel­d sy skerp tande kom inslaan . . . en des te meer op die lywe van die ouer wildsbokke.

Die ou ram het doodstil in die môreson gestaan. Hy het nie herkou nie; dit het gelyk asof hy sommer net die niet instaar.

GENADEBROO­D

My hart het uitgegaan na hom toe en ’n groot deernis jeens dié ou veteraan het in my binneste kom lê. In die natuur is ouderdom ’n wrede ding. My jammer hart kon nie anders as om menslike eienskappe aan hom toe te dig nie. Wat het hy vanoggend hier in die braklaagte kom maak? Was dit sommer ’n rustige ginnegaap in die oggendson as een van sy oumansples­iertjies? Of dalk dinktyd waar hy ongestoord op gister en eergister se paaie kon reis? En wat sou hy daar vind?

Daar, in die hartkamers waar ons al ons vreugdes en hartseer bêre. Waar ons drome soms baldadig bokspring en ons teleurstel­lings ’n swart sluier oor die sonkolle trek.

Wat vind jý op gister en eergister se paaie? Vlaktes vol blinksaadg­ras en die somer se lappe heldergeel duwweltjie­blomme? Dalk bloedrooi kole van onthou wat die winter van jou lewe eendag met warmte kan vul. Of loop jy jouself dikwels vas in die ashope van ’n onbesonne verlede wat koud en afsydig terugstaar?

Ek het lank, diep in gedagtes versonke, na die ou ram sit en kyk en toe hy uiteindeli­k tydsaam begin aanstap, het ek opgestaan en hom stilweg sterkte toegewens. Om hom te probeer skiet, het net nie reg gevoel nie en ek het gehoop ander jagters wat hom teëkom, sal hom ook sy genadebroo­d in vrede laat eet.

Ek het koers gekies in die teenoorges­telde rigting as waarin die springbokr­am gestap het. ’n Dringendhe­id het my haastig gemaak om, terwyl ek nog kon, herinnerin­ge vir my oudag bymekaar te gaan maak.

Ervarings waarin ek ook op koue oggende in die oggendson sal kan baai as die herfsblare vir my begin val en my traer treë al hoe meer langs gister se spore huiwer.

Koos Barnard is redakteur van SA Jagter.

Dringendhe­id het my haastig gemaak om, terwyl ek nog kon, herinnerin­ge vir my oudag bymekaar te maak.

 ??  ?? Die alleenpad van ’n springbok wat se lewe einde se kant toe staan.
Die alleenpad van ’n springbok wat se lewe einde se kant toe staan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa