Landbouweekblad

Die haan (Jou storie)

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

God wil hê ons lig moet só skyn dat die mense dit kan sien en ons Vader in die hemel daardeur verheerlik kan word.

Dorothea (skuilnaam) het stil-stil, soos sy geleef het, ook heengegaan. Om alleen te wees en haar ding alleen te doen, was vir haar ’n leefwyse. So het sy ook haar lewe op aarde afgesluit. Daar was minder as ’n handjievol mense op haar begrafnis. Dit was te verwagte, want niemand het eintlik vir Dorothea geken nie. Ook nie die dominee wat haar begrafnisr­ede gehou het nie. Een van Dorothea se weinige vriendinne het dit agtergekom en reguit vir die herder gesê: “Dominee, ek kan hoor jy het nie vir Dorothea geken nie.” Die dominee was verras en skaam, maar ook eerlik genoeg om te erken dat sy maar altyd vir hom ’n geslote boek was.

Dorothea se vriendin het die dominee probeer vryspreek deur te sê: “Toe maar, dominee, ek neem jou nie kwalik nie. Eintlik is dit ék wat moet skuldig voel, want ek is een van die weiniges wat haar op ’n manier geken het. Ons was vir ongeveer drie jaar kamermaats tydens ons universite­itsjare. Sy was hoogs intelligen­t en ’n geslote boek. Dit was my verantwoor­delikheid om meer uitgesprok­e te wees oor die enorme potensiaal wat in haar opgesluit was. Iemand moes dit oopsluit en ek was daardie ‘iemand’, wat dit nie gedoen het nie.”

Dorothea het haar lewe onder die skuilnaam “Anoniem” geleef – ’n lewe wat ’n klomp goeddoen ingesluit het, ook anoniem. Met haar heengaan het haar testament en boedel haar eensame verhaal afgesluit. Alles gaan na liefdadigh­eidsorgani­sasies, met een voorwaarde: alles bly anoniem.

Dis Dorothea se verhaal. Die diamant wat in die donker weggesteek was. ’n Mens kan heelwat van die verhaal aanprys, maar nie alles nie. ’n Diamant moet skitter en só ’n getuienis van die liefde van God wees. God wil hê ons lig moet só skyn dat die mense dit kan sien en ons Vader in die hemel daardeur verheerlik kan word (vgl. Matt. 5:14-16).

Daar is nóg ’n les in dié verhaal: As jy die sleutel het om die mooi dinge in iemand anders se lewe oop te sluit, gebruik dit dan. Dis jou verantwoor­delikheid.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa