Landbouweekblad

Hart tot hart

- Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa. net of bel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

‘Hierie is vir pluimvee . . . maar sulke vee is mos nie in onse wêreld nie. Die naaste wat ek kry, is hierie blik Dazzel wat vlieë vrek maak, kyk hier staan dit.’

– die hoenders moet gedokter word.

Hy lees die formule op die blik en besluit om ’n ordentlike jop te doen. Teen Sannie se wil gooi hy ’n ekstratjie by om seker te maak hy verslaan die vyand. Hy vat haar vlieëspuit, gaan staan gebukkend in die middel van die hok en spuit elke hoender wat naby is.

Die hoenders raak byna mal toe die eerste gif hulle tref en hulle fladder dat dit bars om buite bereik van die straal gif te kom. Later word Abram ge-order om die kaalste spul te vang sodat hy hulle ordentlik kan bykom.

Toe hy later die hok agter hom toemaak, sê Hakkie: “Boggers, hier’s nog genoeg gif oor om julle môre-aand nog ’n slag by te kom.”

Nadat hulle die aand klaar geëet het, stap Hakkie na die hok om te gaan loer hoe dit met sy pasiënte gaan. Dis rustig in die hok toe hy daar kom. Selfs die ou haan maak nie ’n geluid toe hy met die flits oor hulle lig nie.

Toe hy in die kombuis kom, vra Sannie: “Hoe lyk dit by die hoenders?” “Hulle sit stroopsoet op hul steier. Selfs die haan het nie eens afgespring toe ek oor hulle lig nie,” sê Hakkie met ’n tikkie kommer, want die hoenders het vir hom half lusteloos voorgekom.

Toe hulle die aand gaan inkruip, sê Hakkie niks oor die hoenders nie, maar in sy binneste verwyt hy homself oor die “ekstratjie” wat hy bygegooi het. Sê nou van Sannie se hoenders kom ’n ding oor? Hy sal mos nooit die einde daarvan hoor nie.

GEEN HAAN WAT KRAAI . . .

Voordagmôr­e skrik hy wakker en steek die kers op. Dis al vieruur en hy het nog nie die haan gehoor nie. Hy lê en luister nog so ’n tydjie, maar dis net Sannie se rustige asemhaling wat hy hoor. Hy skuif die glasie met sy kunstande eenkant toe en druk die wekker dood. Later raak hy bekommerd, stamp vir Sannie met sy elmboog aan en sê met sy haasbek: “Sjannie, ek hoor nie die haan nie.” Sannie kreun net en slaap verder.

Hy loer weer na die wekker en sien meer as ’n halfuur is al verby en van die hoenderhok se kant is geen geluid nie. Selfs die jong haantjies, wat soggens so ’n bek opsit, is doodstil.

Hy gooi die komberse van hom af, gryp die flits en stap in sy onderbroek om te gaan kyk wat aangaan. Hy’s onbewus van Borslap wat agter hom aankom. Toe hy lig oor hulle gooi, sit al die hoenders koud dood. Dis nog net die ou haan wat sy bek stadig oop en toe maak soos een wat hom vir oulaas wil groet.

Geskok staar hy na die treurige prentjie voor hom. Verwilderd vlieg hy om toe Borslap hom in die waai van sy kaal been lek. “Voert, vuilis!” roep hy verskrik uit.

Erg teleurgest­eld loop hy terug kamer toe en maak vir Sannie wakker. “Sjannie, al jou hoendersj isj vrek, behalwe die ou haan wat nog sjy laaste sjtuiptrek­kingsj gee.” ’n Hoogs ontstelde Sannie is nou helder wakker en sê verwytend: “Ek het jou gister mos gesê ’n hoender is nie ’n skaap nie! Jy moes die goed flouer aangemaak het . . . pleks daarvan toe gooi jy nog ekstra by!”

Hakkie hoor dat sy vrou nou moerig is en besef hy is skuldig. Die oggend ná brekfis is dit net die twee broeihenne wat uit die veld kom kos soek. Die volgende paar dae het Hakkie vir ’n ieder en ’n elk oor die telefoon van hul verlies vertel en toe kom Jasman ook daarvan te hore. Jasman was die vleisagent van Namakwalan­d en ’n doring in Hakkie se vlees. Hulle het mekaar gedurig geroskam en soms geniepsig met die tong bygekom.

JASMAN SLAAN TOE

Een oggend vieruur bel Jasman die sentrale en vertel vir Jan Twak wat Hakkie aangevang het. Jan het almal geken, want hy het vir baie jare nagdiens op die sentrale gewerk en was self ’n platjie. Hy sê vir Jan: “Jan, ons moet die vuilis ’n streep trek, want hoekom het hy vir arme Sannie so ’n groot skade aangedoen? My vrou sal vir Sannie ’n paar hoenders stuur, maar Hakkie moenie so lig daarvan afkom nie.”

Jan hou van die plan en hy lui drie kortes op die 23-lyn. Hakkie skrik wakker en sê deur die slaap: “Sjannie, disj mosj onsj lui,” en hy val in die donker oor ’n stoel in sy haas om by die telefoon uit te kom. Toe hy die gehoorbuis raakvat, het hy net ’n doodstydin­g in sy gedagte. “Hallo-hallo!” skree hy en toe hoor hy die lang, uitgerekte kraai van ’n haan . . . en toe is die telefoon weer stil.

Swetsend sukkel hy kooi toe en hy het skaars sy lê gekry, toe lui die telefoon weer en dis dieselfde storie. Hy smyt die gehoorstuk onvergenoe­g neer en wag ’n bietjie.

Toe dit weer lui, tel hy vinnig op en vra bars: “Wie de hel vervuil dit sjo?” Waarop Jan antwoord: “Jasman wil net seker maak jy verslaap nie, want hy het gehoor jou haan is dood.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa