Moenie dat kopvrot ’n kopseer word nie
Kopvrot het weer die afgelope seisoen plek-plek voorgekom. Hier is raad om dié probleem te takel en hoe die verhouding van stikstof (N) tot kalium (K) die voorkoms van Diplodia en stam- en wortelvrot kompleks beïnvloed.
Daar bestaan hoofsaaklik drie vorms van kopvrot by mielies in Suid Afrika, naamlik Diplodia en twee afkomstig van Fusarium-verwante swamme. Diplodia word veroorsaak deur ’n swam, Stenocarpella maydis, en Fusarium-kopvrot word veroorsaak deur Fusarium verticiliodes en Gibberella zeae (Fusarium graminearum). Dit is ook belangrik dat die verskille tussen die verskillende vorme van die siekte bekend moet wees omdat die infeksie en bekamping van die tipes kopvrot grootliks verskil. ■ Diplodia-kopvrot begin tipies by die bloeisteel en basis van die mieliekop. ■ Fusarium-kopvrot kom voor as gevolg
van die beskadiging van die perikarp (huid) van die mieliepit deur insekte, soos bolwurm. ■ Gibberella-kopvrot word uitgeken aan ’n swaminfeksie aan die punte van die mieliekoppe en vertoon pienkrooi. Wat is die rol van wanbalanse tussen stikstof en kalium in die voorkoms van Diplodia-kopvrot?
Die fisiologiese begrip van ’n plant se aanvraag na suikers( neerlegging s behoefte) – veral in die mieliekop – moet eerstens verstaan word. Enige plant het ’n behoefte aan suikers en sodra saad gevorm word, sal die behoefte drasties toeneem. Groter plante en dié met ’n hoër opbrengspotensiaal sal uit die aard van die saak ook ’n baie groter suikerbehoefte hê vergeleke met ’n kleiner plant of ’n plant met ’n laer potensiaal.
Hoe beter die plant vroeg ontwikkel, hoe hoër is die suikerbehoefte. As ’n plant nie in die behoefte aan suikers kan voorsien nie, is die suikers in al die selle van die plant dus laag. Dit het tot gevolg dat selle verswak, wat kan lei tot ’n toestand waar die plant vatbaarder is vir siektes, soos kop- en stamvrotte.
Hierdie tipe siektes hou dus baie verband met stremming iewers in die plant se lewe. Stremming s toestande kan ontstaan wanneer ’n wanbalans in die “vraag en aanbod” van suikers in die plant ontstaan.
Stam- en kopvrot is nou verwant en word deur dieselfde swam veroorsaak.
Wanneer daar nie voldoende K gegee word nie of waar daar ’n groot wanbalans in die verhouding tussen N en K voorkom, is dit duidelik watter drastiese effek dit op die voorkoms van stamvrot en Diplodia het (sien TABEL 1 EN 2 ).
’n Verdere feit is dat bemesting gewoonlik agterweë gelaat word by sojabone, wat groot hoeveelhede K verwyder. Hoewel wisselbou ’n baie gunstige invloed het op die voorkoms van siektes, soos Diplodia, kan ’n voedingsgebrek, veral aan K, op sy beurt hierdie voordeel teenwerk. Hou die atmosferiese binding van N in gedagte, want dit kan lei tot ’n nóg groter verskil in die verhouding van N tot K.
Uit die tabelle is dit duidelik dat as die behoefte aan N en K hoog is, soos in die geval onder besproeiing, sal ’n wanbalans tot ’n groter risiko van kop- en wortelvrot lei. By swak vrugbaarheid en ’n lae behoefte deur die plant was die voorkoms van Diplodia besonder laag weens ’n lae neerleggingsbehoefte (TABEL 2).
’n Verbetering van die N:K-balans sal die risiko van ’n Diplodia-infeksie verlaag. ’n Beter staanvermoë word ook daardeur verkry. Deur bandplasing in die wortelsone is die K beter beskikbaar vir die plant. Die breedwerpige toediening van K het ’n laer konsentrasie oor die groter oppervlakte tot gevolg, maar die siektevoorkoms is nie noodwendig minder nie.
’n N:K-verhouding van groter as 1:3,5 kan die risiko vir uitbrekings van Diplodia verhoog. Hou in gedagte dat hoë N-peile met voldoende K- en P-vlakke nie noodwendig die risiko vir Diplodia verhoog nie. As genoeg N toegedien is, maar dit raak deur denitrifikasie of loging verlore, kan dit lei tot ’n groter risiko van Diplodia. Dit kan dan eerder aan die stremmingstoestand toegeskryf word as aan net bloot die wanbalans wat ontstaan het.
‘ ’n Verdere feit is dat bemesting gewoonlik agterweë gelaat word by sojabone, wat groot hoeveelhede K verwyder. Hoewel wisselbou ’n baie gunstige invloed het op die voorkoms van siektes, soos Diplodia, kan ’n voedingsgebrek, veral aan K, op sy beurt hierdie voordeel teenwerk. Hou die atmosferiese binding van N in gedagte, want dit kan lei tot ’n nóg groter verskil in die verhouding van N tot K.’