Boerepolitiek en die toekoms
DAAR is mos die ou grap van die drie boere wat op ’n eiland uitspoel. Twee stig onmiddellik afsonderlike boereverenigings en die derde bly onverbonde. Lede van landbou-organisasies, -unies, -verenigings en -forums beskou natuurlik laasgenoemde kategorie as rugryers omdat hulle die vrugte pluk sonder om ledegeld te betaal.
Deesdae is dit egter nie meer so eenvoudig nie. Dit is onmoontlik om ’n presiese waarde te heg aan die dienste wat landbou-instellings verskaf of voordele wat hulle beding. Soms doen ’n individu meer om ’n probleem op te los as die plaaslike boerevereniging. Soms beveg die instellings duur hofsake wat eindelik op niks uitloop nie. Gewone lede het min beheer oor wat sy vereniging namens hom bestee en jaargeld bly styg om koste te dek.
Manie stry nie oor die noodsaaklikheid van ’n sterk mondstuk vir boere nie. Hy besef ook dat sommige komitees van boereverenigings dikwels onbaatsugtige en ondankbare werk verrig. Hy wonder maar net of alle boereverenigings tred hou met die vinnige veranderings in boere se lewens en denkwyses.
Vandag se boere wil nie opgehou word met boerepolitiek en ander kleinighede nie. Hulle word kwaad as die plaaslike vereniging besluite neem waarmee hulle nie saamstem nie – of hulle nou lede is of nie.
Sulke boere word soms daarvan beskuldig dat hulle die gesag van die bestuur ondergrawe. Een boer maak anderdag die punt dat boereverenigings aanbevelings kan doen, maar nie wette maak of wette afdwing nie.
Die penarie word vererger as ’n distriksvereniging se lede maar skraps is of as hulle nie moeite doen om vergaderings by te woon nie. Boereverenigings is nie daar om die doen en late van elke boer in die distrik te moniteer of te beheer nie. Hulle is daar om dienste te probeer lewer oor kwessies wat saak maak, soos paaie, kommunikasie, grondbelasting en grondhervorming.
AGRI SA SE NUWE VOORKOMS
Dit is presies wat op die oomblik op nasionale vlak by Agri SA gebeur. Die voorstelle oor ’n nuwe moderne en meer vaartbelynde struktuur wat op Agri SA se kongres bespreek gaan word (sien ook bl. 18), is juis gerig op beter dienslewering.
Met Agri SA se sentrums van uitnemendheid probeer die organisasie juis, met die hulp van kundiges, oplossings soek vir kwessies oor grondhervorming, natuurlike hulpbronne, arbeid, veiligheid en die ekonomie van boerdery. Die leiers weet maar te goed wat boere op voetsoolvlak se basiese probleme is – waterregte, paaie wat nie onderhou word nie, onbetaalde dieselrabatte, die bestryding van siektes en plae, veiligheid en vele meer.
GROTER VERDEELDHEID HELP NIE
Manie het met kommer kennis geneem van lede van Agri SA wat die organisasie daarvan beskuldig dat hy met die Regering saamwerk om grondhervorming toe te pas. Hulle meen die georganiseerde landbou behoort glad nie met die Regering daaroor te onderhandel nie.
Die laaste ding wat die georganiseerde landbou kan bekostig, is nóg groter verdeeldheid.
In elk geval meen Manie Agri SA se leiers wil die regte balans handhaaf. Aan die een kant is die Regering ’n wettig verkose regering. Oor sekere kwessies móét almal eenvoudig met die staat saamwerk. Daar moet pogings wees om regeringsbeleid met sinvolle argumente te beïnvloed. Daar moet samewerking wees oor droogtebestuur en oor die bestryding van siektes en plae, om maar twee voorbeelde te noem. Jy kan immers nie ’n wedstryd wen as jy nie op die speelveld is nie.
Aan die ander kant berei Agri SA hom voor om met regsgedinge die Regering te stuit as eiendomsreg en die Grondwet byvoorbeeld in die gedrang kom. Die skep van ’n trust vir litigasie is juis deel daarvan.
Daarom kan Manie verstaan as Agri SA suur raak vir Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge wat sê landbou-organisasies is naïef en moet meer aggressief en voortydig optree.
Christo van der Rheede, adjunkuitvoerende direkteur van Agri SA, meen Cronjé maak Agri SA verdag met ongegronde kritiek en sweep net boere se emosies op.
Die instituut kan natuurlik alles uit ’n filosofiese oogpunt beredeneer sonder dat hy self die oplossings moet vind. Dit is nie hy wat die hofsake teen die staat moet beveg en daarvoor betaal nie. Manie meen dus nie die stook van vure dra tans tot iets sinvols by nie.
BOERE BINNE BEDRYWE MOET OOK SAAMSTAAN
Een van Manie se boere-vriende kla onlangs dat daar nie eenheid in die groentebedryf is nie. Hy meen ’n verenigde bedryf kan instrumenteel wees om ’n doeltreffende uitvoer-arm op die been te bring, kan administratiewe koste vir die gewone boer bespaar en kan met die Regering skakel om die omslagtige burokrasie in die bedryf te vermy.
Op die onlangse produkbemarkingsvereniging (PMA) se konferensie in die Kaapstad was Manie verbaas dat meer as 60% van die 500 afgevaardigdes die konferensie vir die eerste keer bywoon. Dit beteken die vars vrugte- en groenteboere is nuuskierig oor wat daar gebeur. Dit is egter ook kommerwekkend, want dit beteken dat diegene wat voorheen daar was, nie terugkom nie.
Tommie van Zyl van ZZ2, uittredende voorsitter van die PMA, was besig met ’n toespraak toe ’n selfoon kliphard lui. Met ’n rooi gesig skarrel die seun van een van die grootste groente-en-vrugteboere in die land om die ding stil te maak.
“’n Goeie manier om vir hierdie vernederende oomblik te vergoed, jong man, is om jou pa te oortuig om ’n lid te word van die PMA,” maak Tommie van die geleentheid gebruik om die gehoor te laat lag, maar ook om sy punt oor te dra: Die bedryf sal net verenig as boere hul organisasies, soos die PMA, ondersteun en met mekaar verhoudinge bou om geleenthede gesamentlik te benut. Dit is juis te danke aan die PMA dat manne soos Johan Mouton van Mouton Sitrus goeie uitvoergeleenthede in Amerika kon vestig. Die boodskap op die konferensie was: Afrika gaan nie vir ewig lê en wag vir Suid-Afrika se vrugte-en groenteboere nie.
HOENDERPLAAS
’n Jong stadsjapie wat vir homself ’n stukkie grond langs ’n hoenderplaas aangeskaf het, besluit hy wil ook met hoenders boer. Derhalwe gaan koop hy honderd kuikens by sy buurman. Die buurman wil nog ’n bietjie raad gee, maar die stadsjapie sê hy weet alles wat nodig is.
’n Week later is die stadsjapie terug om nóg 100 kuikens te koop. “Sjoe, sê die buurman, lyk my jy’s ernstig oor jou boerdery!”
“Ja,” antwoord die stadsjapie. “Daar is egter nog net ’n probleem of twee wat ek moet oplos.”
“Watter soort probleme?” vra die buurman.
“Ek dink ek het die eerste klompie van verlede week dalk té na aan mekaar geplant.”