Landbouweekblad

BOERE KRY TREKKERS TERUG DANKSY SLIM SPEURWERK

- GERRIT BEZUIDENHO­UT

TWEE trekkers wat vroeër vanjaar by ’n boerdery by Ogies gesteel is, is danksy goeie speurwerk terug by hul eienaars.

Mnr. Jaco Truter van die Truterboer­dery op die Hoëveld sê hulle het die afgelope jare kwaai onder werktuigdi­efstal deurgeloop.

“Die boerdery bewerk lande wat ver van die opstal is, wat beteken dat trekkers soms in die lande moet oornag. Die diewe het die wagte wat die trekkers bewaak het, oorval en vasgebind en daarna is hulle met die trekkers vort,” sê hy.

Truter en twee plaasbestu­urders, mnre. JC le Roux en Thinus Major, asook Jaco se neef, Edmund, het aanvanklik saam met die Suid-Afrikaanse Polisiedie­ns die spore op plaaspaaie in die rigting van Bronkhorst­spruit gevolg tot waar dit by ’n teerpad doodgeloop het en die trekkers vermoedeli­k op ’n vragmotor gelaai is.

“Ons het besluit om kringtelev­isie-inligting van verskillen­de besighede in Bronkhorst­spruit aan te vra en so kon ons agterkom dat die trekkers wel in die vroeë oggendure deur die dorp is,” sê Truter. ’n Helikopter is ook in die soektog ingespan.

EKSTRA HULP

Die boerdery het daarna besluit om die dienste van Mavcorp, ’n private speurdiens, in te roep met me. Vasti du Preez wat die ondersoek gelei het. Du Preez het vasgestel dat die trekkers op ’n plaas in Limpopo was. Die boere en Du Preez het na die plaas gegaan en hul trekkers daar gevind.

“Benewens ons twee trekkers was daar ook ’n Claas-baler, asook ’n Landini-trekker en ander trekkers wat volgens hul VIN-nommers as gesteel aangemeld is,” sê Truter. Nadat die gesteelde trekkers na die naaste polisiekan­toor gebring is, het die Truter-boerdery sy trekkers teruggekry. ’n Verdagte is in hegtenis geneem en die saak duur voort.

“Ons boodskap aan boere is om nooit op te gee nie. Ons het net besluit dat ons met die ondersoek sal bly voortgaan tot die trekkers gevind is.”

SOSIALE MEDIA

Edmund het ook raad vir boere by wie trekkers gesteel is: “Moenie dit stil hou nie. Gebruik sosiale netwerke, werk saam met die boere in jou omgewing en werp lig op die situasie. Ons het reaksie van boere van reg oor Mpumalanga gekry wat saam op die uitkyk was vir die trekkers en by wie daar ook trekkers gesteel is.”

Du Preez het boere ook gewaarsku teen trekkers en werktuie wat teen spotgoedko­op pryse geadvertee­r word en waarvan die registrasi­edokumenta­sie nie beskikbaar is nie. “As dit lyk of dit te goed is om waar te wees, hou eerder verby. Deur hierdie trekkers of werktuie aan te koop, steel jy eintlik van jou buurman en medeboere,” het sy gesê.

Truter meen dat boere ook hul trekkers kan modifiseer om uitkenning te vergemakli­k. “Dit kan ’n reeksnomme­r wees wat jy met ’n pons aanbring, of ’n merk waarvan net jy kennis dra. Die punt is om te verseker dat jy jou trekker vinnig kan uitken sodra hy weer teruggevin­d is,” sê hy.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa