Landbouweekblad

REËN IN AUGUSTUS HELP SUIDE

-

Die bietjie reën wat die afgelope Augustus geval het, het oesvooruit­sigte in die suide van die Wes-Kaap verbeter.

Boere van dié provinsie sê altyd die Regter besluit in September oor die oes. Reën in September en die eerste deel van Oktober is nog nodig om die potensiaal wat einde Augustus op die lande gestaan het, tot oestyd deur te sien.

Mnr. RD Erasmus van die plaas Fonteinskl­oof by Caledon sê hulle het die winter minder reën gekry as waaraan hulle gewoond is, maar die reën het elke keer op die regte tyd gekom. “Hier staan goeie potensiaal op die land. September gaan uiters belangrik wees om die oes deur te help.”

Erasmus sê sy “groter bekommerni­s” is wat volgende somer gaan gebeur as die damvlakke so laag is, veral vir diegene (soos hulle) wat van die Theewaters­kloofdam vir veesuiping­s en menslike gebruik afhanklik is.

GOEIE MAAND

Die graan in sy omgewing het nie die potensiaal van verlede jaar nie, maar met gereelde reënbuie die afgelope vier weke het dit baie verbeter, sê mnr. Johannes Joubert van die plaas Kweekkraal, Riversdal. “Ons het baie potensiaal verloor voor Augustus.”

Hy sê daar staan ’n swak tot redelik gemiddelde oes.

“Ek twyfel of ons by 3 t/ha vir koring gaan oes. Dit sal nader aan 2,5 t/ha wees. Ek is opgewonde oor die kanola wat só mooi herstel het.”

Die weidings het mooi gebot en sal na verwagting vinniger groei noudat die grond warmer word. Hulle voer steeds hul skape. Mnr. Dirk van Papendorp van die Tweekop-boerdery tussen Heidelberg en Swellendam sê hy het 67 mm reën in Augustus gekry. Hy sê hy het lanklaas só ’n goeie Augustus gehad. “Die koring stoot nuwe syhalms uit en die kanola lyk mooi. Ek dink die potensiaal is feitlik by 2016 s’n.”

Hoewel daar droë dele by Witsand, Protem en tussen Swellendam en Riviersond­erend is, sê sy medeboere die graan herstel verbasend goed ná die reën laat in Augustus.

— AMELIA GENIS

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa