Landbouweekblad

DIE WÊRELD WINK VIR SA OLYFOLIE

- — LUCILLE BOTHA

BOERE in die Suidelike Halfrond lewer minder as 3% van die wêreld se olyfolie, ondanks lonende markte se groot vraag na vars olyfolie regdeur die jaar. Die Suid-Afrikaanse olyfbedryf kan dié markte van olyfolie voorsien wanneer Europese olies al ses of sewe maande oud is.

“Soms klop geleenthed­e sag aan jou deur. Ons behoort hieruit voordeel te trek,” het mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, tydens die aankondigi­ng van die wenners van vanjaar se SA Olive-kompetisie in die Paarl gesê.

Volgens hom het internasio­nale pryse met 30% in Europa gestyg. Met Italië buite rekening gelaat, is die internasio­nale prys 60% hoër. “Dit dui op moontlike tekorte aan olyfolie in 2018 vanweë die droogte, baie hoë temperatur­e in Europa en die groter verbruik van olyfolie.”

Hy het gesê die invoerpari­teit vir Suid-Afrikaanse produsente is “noord van R62 per liter”.

“Dit het lanklaas so goed gegaan. Die boodskap is egter om olie nie vir té goedkoop te verkoop nie.”

GEHALTE

Hy meen internasio­nale markte begin “stadig maar seker” besef watter goeie gehalte Suid-Afrikaanse olyfolie bied. Plaaslike produsente het in die afgelope jaar hul staal gewys op olyfolieko­mpetisies in Amerika, Europa, die Midde-Ooste en Japan.

Die plaaslike oes was vanjaar 35% kleiner en het slegs 1,5 miljoen liter olyfolie opgelewer. “Ons kan verwag om die produksie op kort termyn te verdubbel, mits die weer saamspeel. Kwekerye se verkope dui op groter aanplantin­gs reg oor Suid-Afrika,” sê Wilkinson.

Hy het gesê SA Olive moet verseker die plaaslike kompetisie­s en die CTC-program (verbinteni­s tot voldoening) is van ’n hoë standaard sodat verbruiker­s plaaslike olyfolie met gemoedsrus en vertroue kan koop.

Wilkinson het egter gewaarsku dat Suid-Afrikaanse produsente ondanks die gunstige markomgewi­ng nie op hul louere kan rus nie. Die Europese Unie finansier tans die Aristoil-projek in vyf lande met die doel om Mediterree­nse olyfoliepr­odusente se mededingen­dheid te verbeter deur vernuwende produksie- en gehaltebeh­eertegniek­e.

“Die wêreld haal ons in en erken die gesondheid­swaarde van uitstekend­e ekstrasuiw­er olyfolie. Internasio­nale olyfolieko­pers vra deesdae vir die polifenool­inhoud en selfs die samestelli­ng van die verskillen­de polifenole voor hulle instem tot hoër pryse. Ons het nie eens ’n laboratori­um in Suid-Afrika wat dit kan toets nie!

“Ons is tans nog voor in die resies, maar ons moet maniere vind om daar te bly.”

PRYSWENNER­S

Meer as 90% van die 87 olyfolies wat as deel van die SA Olive-kompetisie beoordeel is, het medaljes ingepalm. Daar is 19 goue medaljes oorhandig, waarvan die De Rustica-olyflandgo­ed naby De Rust drie gewen het en die Mardouw-olyflandgo­ed, tussen Ashton en Swellendam, twee.

Me. Sue Langstaff, ’n sensoriese wetenskapl­ike uit Kalifornië wat vanjaar die proepaneel vir die SA Olive-kompetisie gelei het, sê die groot hoeveelhei­d medaljes is nie omdat die beoordelaa­rs toegeeflik was nie. “Die gehalte is goed, wat dui op die moeite wat produsente selfs in moeilike jare doen.”

‘Ons is tans nog voor in die resies, maar ons moet maniere vind om daar te bly.’

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Die olyflandgo­ed De Rustica in die Klein-Karoo het drie goue en twee silwer medaljes losgeslaan in vanjaar se SA Olive-kompetisie.
FOTO: VERSKAF Die olyflandgo­ed De Rustica in die Klein-Karoo het drie goue en twee silwer medaljes losgeslaan in vanjaar se SA Olive-kompetisie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa