Só styg waarde van landbougrond
Daar is ’n goeie vraag na produktiewe bates, soos besproeiingsgrond, droëland, weidingsgrond en grond vir permanente gewasse in die verskillende provinsies. Droogte en reënval is van die faktore wat hierop ’n invloed het.
Met die huidige beleidsonsekerheid oor landbougrond en die lae ekonomiese groeivooruitsigte, is dit bemoedigend dat landbougrond nie waarde verloor nie. Inteendeel, produsente identifiseer geleenthede en staar hulle nie blind teen retoriek oor die politiek en ekonomie nie.
In sekere distrikte daal grondwaardes, maar oor ’n provinsie heen dui die netto resultaat steeds daarop dat grondwaardes toeneem. Hoewel die waarde van droëlandgrond gedaal het in sekere distrikte, soos in dele van die Vrystaat, sou dit verkeerd wees om te veralgemeen en te sê alle landbougrond daal. Dit is nie waar nie.
In die voorlopige vergelyking van grondwaardes vir die derde kwartaal van vanjaar, gemeet teenoor grondwaardes in die derde kwartaal van verlede jaar, het ’n paar sake duidelik geword.
Let daarop dat dit ’n ontleding van waardasies is wat deur werklike transaksies beïnvloed kan word, maar dit verteenwoordig nie die waarde van grond wat verhandel het nie. Die grootte van die grond wat gewaardeer is, was ook vir al die provinsies betreklik kleiner. Dit kan gedeeltelik die hoër grondwaardes verklaar. Besproeiingsgrond was byvoorbeeld gemiddeld 27% groter in oppervlakte, en het ook heelwat in waarde toegeneem.
WES-KAAP
Dit blyk dat die waarde van weidings en besproeiingsgrond vir eenjarige gewasse op ’n jaargrondslag gedaal het. Die oppervlakte onder weiding wat gewaardeer is, was gemiddeld ook kleiner. Ondanks die droogte het die waarde van droëlandgrond met ongeveer 25% toegeneem. Landbougrond onder permanente gewasse het op ’n jaargrondslag met 7% in waarde toegeneem.
NOORDWES
Weiveld het teen ’n daling van 3% verhandel teen ongeveer dieselfde waarde as dié van verlede jaar. Droëlandgrond se waarde het met ongeveer 23% gestyg. Besproeiingsgrond word met 33% hoër gewaardeer.
VRYSTAAT
Droëlandgrond vir eenjarige gewasse se waardasies is ongeveer 15% laer teenoor dié van ’n jaar gelede. Die waarde van besproeiingsgrond het skerp gestyg en dié van besproeiingsgrond onder permanente gewasse het verdubbel.
NOORD-KAAP
Weidingsgrond is in sekere gebiede teen meer as dubbel die waarde gewaardeer. Die waarde van besproeiingsgrond het met ongeveer 86% toegeneem en dié van landbougrond onder permanente gewasse met 36%.
LIMPOPO
Die waarde van weidingsgrond word in sekere gebiede in Limpopo teen dubbel die waarde van ’n jaar gelede gewaardeer. Die vraag na besproeiingsgrond het weens die droogte ook skerp met 41% toegeneem. Grond onder permanente gewasse het met tot 68% in waarde toegeneem.
GAUTENG
Dit is die provinsie waar die beskikbare weidingsgrond die duurste is, maar in sekere gebie de het die waarde daarvan met tot 32% gedaal. Dit blyk of die waarde van droëlandgrond met tot 4% laer is. Die waarde van besproeiingsgrond in Gauteng het ook met ongeveer 24% gedaal.
GEVOLGTREKKINGS
Die gemiddelde duurste weidingsgrond in die derde kwartaal is in Limpopo en die OosKaap gewaardeer teenoor die goedkoopste weidingsgrond in die Vrystaat en WesKaap.
Droëlandgrond is die duurste in KwaZuluNatal en die WesKaap. Die goedkoopste droëlandgrond word in die NoordKaap en Noordwes gewaardeer.
Die duurste besproeiingsgrond word in die OosKaap gewaardeer, gevolg deur grond in die NoordKaap en KwaZuluNatal. Die goedkoopste besproeiingsgrond is nie in Gauteng waar watergehalte toenemend ’n probleem is nie, maar wel in Noordwes (gevolg deur Gauteng).
Die duurste grond onder permanente gewasse, soos pekanneute, word in die NoordKaap gewaardeer, dan in die Vrystaat, gevolg deur die WesKaap. Die goedkoopste besproeiingsgrond word in Limpopo gewaardeer.
Dit blyk dat die vraag na grond in hoërreënvalgebiede, besproeiingsgrond en grond vir permanente gewasse ondanks verlede jaar se droogte grondwaardes laat toeneem.
Die afleidings van gemiddelde waardes is gemaak van grond wat gewaardeer is en verteenwoordig nie die werklike verkoopwaardes waar grond in die mark verhandel het nie.
Die beperkte aanbod van produktiewe landbougrond sal altyd in aanvraag wees en goeie groei in waarde toon. Sekere droëlandgrond in die Vrystaat het wel gedaal. Dit volg op die vorige seisoen se droogte en lae mieliepryse in die huidige seisoen wat produsente se kontantvloei onder druk plaas. Dit sal egter ook verbygaan.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.