Rotasieweiding ondersteun veeproduksie in droë wêreld
’n Kort rotasie stelsel waarvolgens’ n Namakwalandse boer sy vee nie langer nie as ’n week op ’n stuk veld hou, maak sy boerdery meer droogtebestand.
In dele van Namakwaland is dit al die derde lamtyd dat dit nie reën nie. Mnr. Albertus Roux van die plaas Rietfontein, buite Springbok in die NoordKaap, is baie bekommerd oor die gebied se reënvooruitsigte, maar is dankbaar dat hy in 1987 met kortrotasie-wisselweiding begin het. Hy het aanvanklik “oor sy voete geval” omdat hy nie genoeg geweet het nie, maar aangehou en verander en verbeter totdat hy die beste stelsel vir sy diverse grondtipes (sien plaasinligting) en plantegroei ontwikkel het. “Op my veld is nog genoeg hooi sodat die droë ooie met ’n lek aan die gang gehou kan word. Omdat dit my beleid is om in die droogte in produksie te bly, moet ons die dragtige ooie en lammerooie intensiewer help.”
Hy erken sy stelsel is nie ’n “wondermiddel” nie, en weet dat reën die grootste uitkoms sal bied. Met Landbouweekblad se besoek het ons oor die dele van sy plaas gery wat op die ou veetrekroetes tussen die winteren somerreëngebied van Namakwaland is, wat ‘‘te seer gekry het’’ en traag is om te verbeter. Tog is dit duidelik dat dié dele die afgelope 30 jaar nie verder agteruitgegaan het nie.
STELSEL SÓ ONTWIKKEL
Hoewel Albertus nie tydens die groot droogte van 1979 tot 1985 geboer het nie, is sy stelsel ontwikkel uit wat hy gedurende en ná die droogte waargeneem het.
Ná die droogte het dit baie goed gereën sodat bossies opgeslaan het. Hy en sy pa, James, het toe maar ’n derde van die getal diere wat hulle voor die droogte gehad het, oorgehad. “Ons het opgelet die skape trek die bossies met wortel en al uit. Dit het ons baie bekommerd gemaak omdat ons nie geweet het hoeveel saad in die grond was nie, en of die klimaat weer gunstig genoeg gaan wees vir die plante om op te kom nie.” Hy het by die plaaslike beamptes van die destydse afdeling landboutegniese dienste van die Departement van Landbou gaan raad vra. Hulle het die “wawielstelsel” wat toe in die Karoo gebruik is, voorgestel. “Ons het ons bedenkinge daaroor gehad, want dit sou die kaal kolle om suipings groter maak. Ons kampe is groter as die kampe in die Karoo omdat veesuipings by ons nie so volop is nie.” Mnr. Floors Brand, wat toe landbouvoorligter was en later De Beers se plase by Kleinzee bestuur het, het aanbeveel hulle moet ’n stelsel toets waarin hulle teen ’n lading van een skaap per hektaar werk wat ná tien dae geskuif word. “Ons moes ernstig boekhou en dit het nie lekker gewerk nie. Die
werkers het deurmekaargeraak met datums. Ons het dit toe verander na 2 ha per skaap vir sewe dae, maar toe het die troppe te klein geraak en daar was te veel troppe om te hanteer.”
Hulle het die skape verdeel in troppe van verskillende groottes, byvoorbeeld ’n gustrop bestaan uit 400 skape, ’n lammerooitrop uit 200 ooie en 200 lammers en tweelingooitroppe, elkeen bestaande uit 130 ooie met 260 lammers. Kampe in dieselfde omgewing is dieselfde grootte en kan 150 ha tot 600 ha groot wees. Die beskikbaarheid van water bepaal die grootte van elke kamp.
‘NET EEN WET’
Hulle is toe terug na een skaap per hektaar, maar net vir sewe dae. “Ons weet nou die diere moenie langer as sewe dae in ’n kamp wees nie. Ons het soms vyf skape op ’n hektaar vir twee dae. Ons het besef die
belangrikste is om die skape gereeld te skuif, veral wanneer die veld in ’n groeifase is.”
Deesdae het hulle nie meer ’n rigiede patroon van soveel skape per hektaar nie, maar daar is een wet: Skape mag nie langer as sewe dae in ’n kamp wees nie.
Vir die stelsel om goed te werk, is dit belangrik dat die boerdery se administrasie goed is. “Werkers moet die stelsel verstaan en verstaan hoekom dit gedoen word.”
’n Mens sou dink so ’n stelsel sal meer werkers vereis, maar Albertus sê hulle het die helfte van die werkers wat hulle voor die stelsel gehad het. Hulle het sedertdien ook wegbeweeg van perde en na motorfietse oorgeskakel om die heinings te patrolleer en op die plaas rond te beweeg.
KAN VERSKIL SIEN
Hulle kan reeds veranderinge en voordele
sien, sê Albertus. “Die weiveld oor die hele plaas is in dieselfde toestand. As die veld half afgewei is, is die hele plaas half afgewei en die veldtoestand gemiddeld. Daar is nie hope veld op sekere dele en niks op ander nie.”
Verder word smaaklike plante behou of kom dit terug, terwyl die beter grondbedekking windskade drasties verminder het.
Albertus sê die stelsel verseker hom van spaarsamige weiding. “Daar is altyd hooi op die veld, want jy maak nooit skoon nie. Hoe dieper ons egter in ’n droogte ingaan, hoe minder hooi is daar.”
Hy sê as die stelsel ’n leefwyse word, kan oral verbetering gesien word. “Mense het gesê ons kan dit nie in die Boesmanland doen nie, maar ons het aangehou en dit werk.”
Met dié stelsel word infrastruktuur oor die hele plaas benut en in stand gehou, en werkers is beter opgelei en funksioneer doeltreffender. “Die werker wat die diere skuif, moet die vee tel en die krip skoonmaak. Hy kan nie net sê hy was by die skape nie. Die dae dat die skape geskuif word, gaan kyk ek, en hou so my voetspore op die veld.” Die intensiewer benadering het gesonder diere tot gevolg. “Wurmbesmetting is minder, en die ooie kry nie domsiekte omdat hulle nou in goeie weiding, dan in swak weiding is nie.”
Daarbenewens help die feit dat hulle die diere minstens een keer per week sien en tel, om roofdiere aan bande te lê. “Die werker wat die diere skuif, moet met die grensheining langs ry en dit inspekteer.”
Die stelsel help boonop om watervoorsiening sekerder te maak. Hulle het genoeg boorgatwater, sê Albertus. ‘‘In sekere dele is die water 100 meter diep, sout en swak, maar het nog nooit opgedroog nie. Die skuif van vee help ontsaglik baie omdat die diere nie meer vir maande lank by een punt bly nie.”
KENNIS VAN GROND EN PLANTE
Albertus meen die stelsel kan op ander plase in sy omgewing toegepas word. Die belangrikste vereiste, die ‘‘kern van die ding’’, is om kennis te versamel van die grondtipe en plant- of veldtipe op die plaas waar die stelsel toegepas moet word. Hy sê dis nodig omdat ’n sekere grondtipe spesifieke plantegroei huisves. ‘‘Die kennis moet sê of die stelsel in jou boerdery toegepas kan word of nie.’’
Kennis van plante en grond op jou plaas help jou om ’n boerderypatroon van rotasie te ontwikkel. ‘‘Neem dit aan. Boer vir ’n tydperk onder drakrag, en word ’n veldboer. Te veel diere gaan dit verongeluk. Jou kennis moet jou help om besluite te neem, maar jy moet eers die kennis hê.’’
TYDROWEND
Hy erken die stelsel verg baie tyd. Hulle kan net vier troppe op ’n dag skuif. ‘‘Die diere moet soms lang afstande van 10 km of 20 km aflê. As die donderweer net ’n strepie gereën het, sal ons die lammerooie na die reënstrepe se veld skuif en die gusskape op die veld laat waar dit nie gereën het nie.’’
Eweneens kan die vereiste vir noukeurige rekordhouding ’n nadeel wees, veral omdat sy werkers dit moet doen, en ‘‘die manne se boekhouding nie is wat dit kan wees nie’’.
Natuurlik is boerdery makliker as die skape drie maande in ’n kamp bly. Maar wat is die uiteinde dáárvan? ‘‘Vir my is die bewaringsaspek van die stelsel belangrik. Dit is waaroor alles gaan, want bewaring het vir my produksie gegee. Al reën dit so min, sien ons resultate.’’
As hulle reën kry, is dit dikwels net oor ’n deel van die plaas sodat daar soms net vyf of ses kampe met goeie veld is. ‘‘Die eerste wat jy doen, is om alle droë ooie van die goeie veld af na ander kampe te skuif en die ooie met die hoogste voedingsbehoeftes na die beste veld te skuif.’’
Die tydperk wat elke kamp gaan ‘‘rus’’,
hang af van hoe groot die ‘‘reënstreep’’ is. Hy het ook geleer hoe vinnig die bosse in die voor-Boesmanland herstel, selfs ná min reën, maar al is die versoeking groot, moet dit versigtig bewei word omdat die blare nodig is om die plant te laat fotosinteer en groei.
Albertus beskou die eerste 28 dae ná reën in die somer as kritiek. Dis die beste vir die veld as jy die diere ná die reën drie keer per week kan skuif, maar dis nie altyd haalbaar nie. ‘‘Ek verkies om groot, swaar troppe elke derde dag te skuif. Dan is die skade die minste.’’
Hoewel dit enige tyd van die jaar in die Boesmanland kan reën, is dit hoofsaaklik ’n somerreëngebied. Reën is altyd welkom, maar dis beter as dit in Maart en April val wanneer dit nie meer so warm is nie, en die gras langer kan hou.
Albertus sê as dit in die winter genoeg in die Boesmanland reën, kan opslag opkom en ná die winter sal die gras uitgroei. ‘‘Selfs gannabos en ander bosse kry blare as dit reën. Daar sal iets kom wat ’n bietjie help. Dit duur net langer.’’
Die omstandighede bring veranderinge by die vee. ‘‘Hulle hou op lekke vreet, wat beteken hulle kry iets anders in die veld, en hul mis verander.’’
DORPERS WAT AANGEPAS IS
Albertus meen hulle boer met ’n Dorperskaap wat goed aangepas is vir hul bepaalde toestande. ‘‘Ons het gewoonlik lang, droë somers en kort winters met geil blomveld hier waar ek woon. Die lammers en ooie wat ons aanhou, moet in dié toestande vinnig kan herstel en die lam moet in ’n kort tydjie markgereed wees.’’
Hy sê Dorpers is ontwikkel uit die Persie en die Dorset Horn. ‘‘As dit te veel Persie het, het die skaap te veel vet en ’n laer gradering kos ons R15 per kg.
‘‘Ons ooie is effens kleiner en ligter op brandstof, maar moet hoogs vrugbaar wees omdat ons verwag dat hulle drie keer in twee jaar moet lam.’’
Hy sê dit is fisieke oorwegings, maar daar is ook interne eienskappe wat hul Dorpers moet hê. ‘‘As die skaap nie geil veld kan
hanteer nie, vrek dit. Dit het te doen met die mikrobes in ’n skaap se pens.’’
Die Dorpers daar moet gehard wees. ‘‘Ons ooie loop in ’n kamp van 600 ha, en moet ’n dag sonder water kan oorslaan. As sy lam, moet sy by die lam kan bly totdat die lam 4 km kan stap. Die ooi moet ook haar eie liggaam kan gebruik as skaduwee vir die lam sodat die lam nie doodbrand nie. Dis van die uiterste belang.’’
Hoewel hy ’n ooi een lamtyd grasie gee omdat hy nie altyd weet of sy oorgeslaan en of ’n rooikat die lam gevreet het nie, selekteer hy streng vir vrugbare ooie wat ’n lam kan grootmaak. ‘‘Die lam moenie gaan lê nie. As die lam dik bies gedrink is, moet die ooi seker maak dat die lam beweeg sodat hy nie in die son gaan lê en suurpens kry nie.’’
NUGTERE DENKE NODIG
Hy dink sy stelsel is bevorder deurdat hy nog met elke droogte vee verminder het en in produksie probeer bly het.
‘‘Die reën het nog elke keer betyds gekom en my gered. Dis ook hoe ons deur die droogte
van die 1980’s gekom het. Dis nie asof dit vir vyf jaar nié gereën het nie.’’
Sy stelsel is buigsaam. Hy sê ’n mens moet jou nie vaskyk teen ’n stelsel wat lyk soos ’n legkaart met nommers op nie.
‘‘Al het jy net drie kampe, roteer die skape tussen die kampe. By my reën dit partykeer net in twee kampe wat langs mekaar lê, dan roteer ek net tussen hulle, maar ek ruil elke week.’’
Die stelsel is ’n hulpmiddel wat hom help om te bewaar. ‘‘Ek is net ’n rentmeester wat die veld in ’n beter toestand wil afgee as wat ek dit ontvang het.’’
Sy ondervinding is dat as jy die vyfde lamtyd sonder reën ingaan, het jy probleme. ‘‘Dan is ons spaargras op. Dis wanneer ons die diere van die veld moet afhaal en in die kraal sit, wanneer die rysmiere meer opvreet as wat opkom, en die natuur se verwering groter as plantproduksie is. Dit gebeur ná twee jaar van droogte.”