Hou die wol, laat die hare waai
Suid-Afrikaanse Merinowol is gesog vir sy gehalte. Goeie teelmateriaal en puik skeer-en wolhantering standaarde beskerm dié markvoordeel. Steekhaar kan egter jou winste wegvreet.
Skeersels van hoë gehalte vry van besoedeling kan ’n veel beter inkomste aan wolboere verseker. ’n Faktor wat wolgehalte en gevolglik die wolprys kan knou, is steekhaar, oftewel kemp. Anders as wolvesels wat gekleur kan word, neem steekhaarvesels nie kleurstof aan nie en daarom is dit minder gesog in die tekstielbedryf.
’n Bron van steekhaar is die genetiese eienskappe van die skaap. Merinoskape se wolgehalte is so gesog vanweë die gebrek aan steekhaar, terwyl veral vleisskaaprasse meer haar in hul skeersels het. Steekhaar is kalkagtig, wit, bros en ongemeduleer.
“Onnatuurlike vesels en ongewenste materiaal, soos baaltou en poli prop i leen sakke, het’ n besonder ongunstige uitwerking op die prys van wol,” sê me. Landrie Venter, ’n aankoper namens die wolkoper Lempriere. “Die verhoogde voorkoms van natuurlike vesel, soos steekhaar, in die skeersel is egter nog ’n bron van kommer, want dit laat boere jaarliks baie geld verloor.”
’n Ontleding van wol wat van 2013 tot 2015 deur BKB bemark is, ontbloot die verliese weens steekhaar vir boere. BKB hanteer 63% van die Suid-Afrikaanse wolskeersel en data vanuit die Vrystaat, Noord-Kaap, OosKaap, Wes-Kaap, Mpumalanga, Noordwes, die kommunale gebiede van die Oos-Kaap en Lesotho is by die studie insluit. Die verlies aan inkomste weens steekhaar besmetting is vir elke distrik en provinsies bereken.
Die besoedeling van wol met steekhaar kan ook gebeur wanneer die wolskaap in kontak kom met steekhaarrasse. Skape kan ook steekhaar optel op die plaas o fin steekhaar besmette skeerhuise waar steekhaarrasse geskeer is.
“Die grootste steekhaar besmetting in die wol van Merino tipes kom uit Lesotho en die naasgrootste besmetting uit die kommunale areas van die OosKaap,” sê Landrie.
Die Vrystaat het in die drie gemete seisoene 218 247 kg steekhaar besmette wol gelewer en ’n verlies van R1 091 237 gely. Die Wes-Kaap het 77 170 kg Merinowol met steekhaar oor die afgelope drie seisoene verkoop.
Die Noord-Kaap se skeersels het 13% steekhaar bevat. In die distrikte Victoria-Wes en De Aar is 72982 kg steekhaar besmette wol gelewer met ’n verlies van R700 352 weens dié gehaltefaktor. Noordwes het 35833 kg steekhaar besmette wol (20% van die skeersel) gelewer. Dit is ’n verlies van R179 167.
“Met die goeie wolpryse moet boere wol van hoogstaande gehalte lewer om daardie prysvlakke te handhaaf,” sê Landrie.
“Boere moet versigtig wees wanneer hulle kruisteling met steekhaarrasse vir slaglamproduksie doen. Hou liewer die wol van ooie wat vir kruisteling gebruik word, apart van die res van die skeersel om te verseker dat net ’n klein gedeelte van die skeersel besmet is.”