Landbouweekblad

Puik begin vir nuwe wolseisoen

Die droogte maak dit weliswaar nie maklik of lekker vir skaapboere in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap nie, maar met ’n hoë vraag na hoëgehalte­wol word goeie wolpryse verwag. Ná die eerste wolveiling van die nuwe seisoen lyk of dié voorspelli­ng in die kol is.

-

Op die eerste van 35 beplande wolveiling­s vir die nuwe seisoen het deelnemers op 16 Augustus geesdrftig in Port Elizabeth gebie.

“Wolpryse was by dié veiling amper 20% hoër as op die laaste veiling van die vorige seisoen,” sê mnr. Isak Staats, hoofbestuu­rder van wol en bokhaar by BKB.

Die gemiddelde wolprys van R183,50 per kilogram skoonwol is 25% hoër as op die ooreenstem­mende veiling van die vorige seisoen.

Die seisoen se aanbod het met 13 865 bale begin waarvan 97,6% verkoop is. Die belangriks­te handelaars op die veiling was Modiano wat 4 130 bale gekoop het, Standard Wool SA (3 598 bale), Lempriere SA (2 047 bale) en Tianyu SA (1 881 bale).

VRAAG EN AANBOD

“Die droogte het sekere boere gedwing om hul kuddes te verklein. Dit is veral in die Wes-Kaap erg droog en minder skape is geskeer. Die impak van swakker weiding is ook sigbaar en die wol is fyner en ligter. Die gehalte van wol is dus nie die probleem nie, maar eerder die volume,” sê Isak.

Vir wolboere is dit goeie nuus, want die vraag uit Europese lande en China na Suid-Afrikaanse wol is baie gesond. Met die wisselkoer­s op sowat R13,20 teenoor die Amerikaans­e dollar (Augustus 2017), glimlag wolboere éérs breed.

“Ons wolsorteri­ng en die algemene gehalte van Suid-Afrikaanse wol is baie goed. Kopers weet wat hulle kry as hulle ons wol koop,” sê Isak.

“Indien jy nou met wolskape boer, is jy in ’n goeie posisie. Die wolmark is gesond vanweë wêreldteko­rte en ’n groter vraag na wolklere. Boonop kan boere ook staatmaak op goeie pryse vir teeldiere en slagpryse.”

Volgens Agri Mark Trend (AMT) se syfers van einde Augustus vanjaar het die markprys van klas C2/C3-skaapvleis op R60,80/kg gestaan (R78,66/kg vir klas A2/A3).

VEILINGSPR­YSE

Die gehalte van die wol in aanbod het die prys op 16 Augustus se veiling aangehelp. Die gemiddelde pryse vir skoonwol in die verskillen­de mikronkate­gorieë was goed. Die topprys per kilogram is vir 18 mikron-wol betaal. Dit is teen gemiddeld R223,59/kg verkoop, luidens Cape Wools SA se wolverslag.

Die grootste verbeterin­g in pryse teenoor die vorige veiling het in dié kategorieë voorgekom: 18,5 mikron, prys verbeter met 20,6% tot R213,50/kg. 21,5 mikron, prys verbeter met 24% tot R175,82/kg. 22 mikron, prys verbeter met 22,6% tot R166,16/kg.

 ?? FOTO: LIZA BOHLMANN ?? Wolpryse het op die eerste veiling van die seisoen die hoogte in geskiet. Die gehalte van wol en die volume beskikbare wol op die mark het pryse opgestoot. Die gemiddelde prys was sowat 25% hoër as op die eerste veiling van die vorige seisoen.
FOTO: LIZA BOHLMANN Wolpryse het op die eerste veiling van die seisoen die hoogte in geskiet. Die gehalte van wol en die volume beskikbare wol op die mark het pryse opgestoot. Die gemiddelde prys was sowat 25% hoër as op die eerste veiling van die vorige seisoen.
 ??  ?? Mnr. Isak Staats, hoofbestuu­rder van wol en bokhaar by BKB.
Mnr. Isak Staats, hoofbestuu­rder van wol en bokhaar by BKB.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa