PAS GRASVELD EN SY UNIEKE VOËLS BETER OP
Die bewaring van SuidAfrika se grasveld-bioom is noodsaaklik om unieke inheemse voëls te bewaar.
Die grasveld-bioom is nie net van die grootste belang vir wol-, beesvleis- en melkproduksie nie. Dié bioom lewer ook die grootste deel van Suid-Afrika se mielie-oes, terwyl sorghum, koring en sonneblomme ook daar verbou word. Talle skaars voëlsoorte word ook daar aangetref.
In Suid-Afrika kom die grasveld-bioom in die hooggeleë sentrale gedeeltes, asook in die binneland van KwaZulu-Natal en die OosKaap voor. Grasvelde bestaan gewoonlik uit ’n enkellaag grasse en die omvang van bedekking hang af van reënval en die hoeveelheid beweiding. Ryp, brande en beweiding sorg dat gras oorheers en voorkom normaalweg die vestiging van bome, maar bolplante kom wydverspreid voor.
BEDREIGINGS VIR GRASVELD
Grasplante verdra beweiding, brande en selfs die sny daarvan. Oorbeweiding laat pionierplante, rankplante en eenjarige grasse egter vermeerder. Ontoepaslike boerderypraktyke, soos om die veld té gereeld of in die verkeerde tyd van die jaar te brand, kan die oorblywende natuurlike grasveld bedreig. Oorbeweiding, die omploeg van natuurlike veld en die opdam of dreinering van vleilande kan dit ook benadeel.
Prospektering en mynbou kan problematies wees, veral in gebiede wat aan bewaringsgebiede grens, of as dit in wateropvanggebiede plaasvind. Verstedeliking het ook ’n groot impak op die vermindering van grasvelde gehad: Onthou, die grootste deel van Gauteng was eers grasveld.
BEWARING VAN BELANGRIKE VOËLS
BirdLife Suid-Afrika se program oor belangrike voël- en biodiversiteitsgebiede (IBA) is ’n goeie voorbeeld van ’n bewaringsinisiatief wat bewustheid skep oor habitatte wat bedreigde voëlspesies huisves. ’n Aantal IBA’s is in die grasveld-bioom geregistreer en daarvan is die Grasveld IBA waarskynlik die belangrikste. Talle skaars voëlsoorte word daar aangetref, soos die Drakensberg- en Vaalrivierlewerikke, geelborskoester, gras- uil en al drie soorte kraanvoëls wat in Suid-Afrika voorkom.
Die kalkoenibis (Geronticus calvus )is een van die unieke voëls wat in dié landskap voorkom. Dié ibis is endemies aan Suider-Afrika en kom hoofsaaklik voor in die noordooste van die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Weens hul beperkte verspreiding word dié voëls as kwesbaar beskou. Na raming is daar nie meer as 2 000 broeipare in Suid-Afrika oor nie. Die bevolking in Lesotho neem blykbaar vinnig af, veral weens die uitbuiting van dié voëls vir tradisionele medisyne en kulturele seremonies.
Kalkoenibisse verkies gebiede met ’n hoë reënval en hoogliggende, kort grasveld met min bome. Hulle kry kos in talle habitatte, soos landerye, natuurlike grasveld en sportterreine, waar hulle soek na insekte, knaagdiere en klein voëltjies.
Kalkoenibisse broei in kolonies op ongerepte kranse. Versteurings by dié kolonies kan broeisukses benadeel. Daar is altyd die gevaar van botsings met kragdrade en hul gewoonte om op kragmaste te slaap vererger die probleem.
SWAK BEWAAR
Toekomstige pogings om kalkoenibisse te bewaar sal talle kwessies moet takel. Riglyne om die bewaring van broeikolonies te verseker is van kritieke belang. Kommersiële plantasies en onvolhoubare landboukundige praktyke in die grasveld-bioom sal verminder moet word. Dit sal onder meer die toepassing van volhoubare weidingpraktyke en toepaslike, seisoenale veldbrandpraktyke moet insluit. Gifstowwe moet ook bestuur word om geskikte prooi vir die kalkoenibis te verseker. Aansporingsmaatreëls om ibis-vriendelike landboukundige praktyke aan te moedig behoort gevestig te word.
’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.
Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg en die Wes-Kaapse voëlforum. Hy woon op Hermanus.