LUSERNBOERE MIK NA DIE UITVOERMARK
se oppervlakte onder lusern het die afgelope vyf jaar meer as verdubbel.
Vanjaar sal hierdie boere lusern na raming op 20 000 ha plant, vergeleke met 9 000 ha vyf jaar gelede, het mnr. Fanus Linde, hoof van voer en vesel by GWK, op ’n boeredag van die MPO Noord en Vrystaat gesê.
Op die 20 000 ha kan na verwagting sowat 400 000 ton lusern geoes word, waarvan 90 000 ton vir die binneland bestem is.
GWK voer sedert 2010 lusern uit. “Uitvoer het daartoe gelei dat boere meer lusern aanplant, met die voordeel dat daar nou ook meer lusern vir binnelandse verbruik beskikbaar is.
“Die opvatting dat uitvoer die lusernprys verhoog het, is verkeerd, want die aanbod van lusern het groter geraak,” het Linde gesê.
Die binnelandse mark bly vir GWK baie belangrik, het hy gesê. In hierdie mark tel verbruikers, soos melkboere, wildboere en ook voerkrale.
Volgens Linde word die meeste plaaslike lusern steeds vir eie verbruik deur boere verbou.
Akkurate syfers is nie beskikbaar nie, maar na raming was die totale plaaslike lusernproduksie in Suid-Afrika verlede jaar sowat 1,5 miljoen ton, waarvan 650 000 ton verkoop is, hetsy plaaslik of internasionaal.
UITVOER
Internasionaal is die belangrikste uitvoerbestemmings die Midde-Ooste (Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, en Koeweit/Oman) en die Verre-Ooste (China, Japan, Taiwan en Korea).
GWK voer lusern uit na ’n melkery in Saoedi-Arabië waar 25 000 koeie per dag gemelk word. “Ons gaan na verwagting vanjaar 28 000 ton lusern aan dié melkery lewer.”
Linde sê die melkery se bestuur is baie akkuraat en hulle gee baie aandag aan rantsoenbestuur.
Die hoë vereistes wat sulke kliënte stel, strek tot voordeel van Suid-Afrikaanse boere om-
dat plaaslike lusern se gehalte in reaksie daarop verbeter het, het Linde gesê.
MEDEDINGERS
Die wêreld se groot lusernuitvoerlande is Amerika, Mexiko en Europese lande.
Linde het gesê toe Suid-Afrika lusern begin uitvoer het, was die prys van Suid-Afrikaanse lusern $50 tot $80 laer as wat vir Amerikaanse lusern betaal is.
“Ons voer egter nou lusern uit teen pryse wat hoër is as wat vir Amerikaanse lusern betaal word. Dit is dus onwaar dat ons lusern nie so goed soos hulle s’n is nie.”
Volgens Linde gee Amerikaanse lusernboere baie aandag aan gehalte en span hulle tegnologie baie doeltreffend in, onder meer omdat hulle nie baie werkers het nie.
In Mexiko is die klimaatstoestande en boerderypraktyke baie soos Suid-Afrika s’n, maar daar is nog baie lusern wat nie van goeie gehalte is nie – die blaartjies is klein en die lengtes tussen die nodes van die blare op die stingel is groot.
Linde verwag egter dat Mexiko toenemend ’n groot rol as lusernuitvoerland gaan speel.
Europa se voordeel is dat sy afstand na uitvoerbestemmings klein is en dat die lusern in oop skepe deur die Suez-kanaal na die Midde-Ooste, veral Libanon, vervoer kan word.
Linde sê daar is Suid-Afrikaanse boere in Georgië wat die afgelope jaar redelik ernstig met lusern begin boer het, wat ook dié voordeel van ’n kort afstand na uitvoermarkte sal geniet.
GEHALTE
Belangrike vrae wat boere oor lusern moet vra, is hoe dit gesny en gedroog is, hoe die baal- en verkrygingsproses verloop het, waar dit gegradeer is en of daar ’n sertifikaat van die Nasionale Luserntrust (NLT) beskikbaar is.
‘Ons voer egter nou lusern uit teen pryse wat hoër is as wat vir Amerikaanse lusern betaal word.’