Uitgetrapte grond omskep in florerende kostuin
Baie mense beskou perma-landbou (permakultuur) as ’n randpraktyk, maar vir twee boere van die Klein-Karoo is dit ’n lewenswyse wat al vir tien jaar vir kos op hul tafel én ’n deurlopende inkomstestroom sorg.
Die begeerte om in vrede met alle lewende dinge te lewe en die meeste van hul eie kos te kweek, het me. Kathryn Eybers en mnr. Ross Dwyer van die plaas Numbi Valley buite De Rust tien jaar gelede na perma-landbou gelei.
Die plasie van 70 ha wat hulle 12 jaar gelede gekoop het, het straf onder die kloue van volstruise en skape deurgeloop. Die veld was behoorlik verrinneweer en die grond was kaal en hard. Tien jaar later blink olyfbome in die namiddagson en is die tuin ’n lushof van groente en kruie wat in sirkels geplant is, asook ’n verskeidenheid vrugtebome.
Perm a-landbou is’ n landskap beplannings metode wa top enige skaal toegepas kan word: In huistuine, balkontuine, dorpstuine of op boerderyskaal. Die stelsel rus op ’n fondament van etiek. Dit is ’n holistiese benadering wat konsepte en beginsels uit ekostelsels en die kennis en praktyke van inheemse mense gebruik om volhoubare menslike nedersettings en institusies te vestig.
Kathryn sê hoewel die wortels van perma-landbou in tuinbou en akkerbou is, is dit interdissiplinêr. Dit het raakpunte met streek s beplanning, ekologie, veekunde, toepaslike tegnologie, argitektuur en internasionale ontwikkeling.
Wat Kathryn na perma-landbou aangetrek het, is die etiek van die konsep wat betref sorg vir die grond, omgee vir mense en om te verseker dat elke lewende ding sy regmatige deel kry. “Ons probeer nie om net tot ons eie voordeel te ontwikkel ten koste van alles anders nie. Ek glo nie in ’n hoë verbruiksbenadering nie en die gedagte dat ons net ons regmatige deel kry, staan my aan. Ek glo die aarde moet gedeel word.”
Hulle laat voëls toe om nes te maak by die modder- en strooihuis wat hulle self gebou het. “Ons hou daarvan dat ander goed saam met ons bly. Ons hou van die diversiteit van lewe en sal nooit plaagdoders gebruik nie.”
MIN ONDERHOUD
Sys ê gesinne of plaasgemeenskap pekan perma-landbou met goeie resultate toepas. “Daar is soveel hulpbronne op plase. As ek op die Calitzdorppad ry, sien ek dikwels lusernbale lê en vrot en nie vir diere gebruik kan word nie. Ek kry sommer baal-afguns.”
Hoewel dit baie harde werk was om Numbi Valley se 24 perma-landbousirkels te vestig, verg die onderhoud deesdae net twee tot drie uur per dag vyf dae van die week, sê Kathryn. “Dit het ons twee jaar gekos om die dooie grond aan die lewe te kry.”
Sy kry soms iemand om haar te help om die beesmis te vervoer waarmee sy kompos maak en bly beïndruk met die stelsel se produktiwiteit. “As die tuin eers aan die gang is, kan jy vier of vyf gesinne daarmee kosgee.”
Behalwe die harde werk aan die begin, sluit ander koste die aanlê van ’n besproeiingstelsel, omheining en vervoer om mis en lusernkaf vir komposbereiding aan te ry, in. Die “tuin” was eers nie omhein nie, maar die ystervarke, skilpaaie en grysbokkies het te erg onder hul groente en kruieplante gewei.
EET EN VERKOOP
Benewens die feit dat perma-landbou windskade beperk en bogrond behou, oes Kathryn en Ross genoeg groente, vrugte en kruie vir eie gebruik en om gemengde mandjies aan gereelde kliënte en die maandelikse mark op De Rust te verkoop. Landbouweekblad se besoek het met die oorskakeling na die winter saamgeval. Dan verkoop Kathryn twee tot vyf mandjies groente per week.
Sy probeer om soveel verskillende produkte moontlik in ’n mandjie te sit. In die winter oes hulle beet, rape, seldery, preie, kropslaai, broccoli, blomkool, kool, krulkool, spinasie, radyse, sprietuie, boerbone (broad beans), koljander, pietersielie, sneeu-ertjies (snow
peas) en suikerertjies (mange tout) vir die mandjies en eie gebruik.
Die somer is ’n tyd van oorvloed as sy vyf tot agt mandjies met tamaties, eiervrug, kropslaai, spinasie, seldery, soetrissies, brandrissies, murgpampoentjies, botterskorsies, skorsies, pampoene, komkommers en basiliekruid per week verskaf.
Hulle bedryf ook ’n gastehuis op die plaas en gaste kan ’n groente-en-vrugtemandjie bestel. “Alles is organies en vars gepluk net voor die gaste hier aankom.”
Kathryn sê al maak groente en vrugte ’n groot deel van hul dieet uit, wil sy nie in die vegetariër- of vegan-boks geplaas word nie. “Ek is baie bewus van die oorsprong van my kos. As ons voel ons liggame het proteïen nodig, sal ons groente ruil vir ’n skaaplam by ’n buurman wat volhoubaar boer.”
Hulle het ’n olyfboord van 1 hektaar en verlede jaar het hulle 4,5 ton olywe daar geoes. Hulle laat die olywe by De Rustica pers die aand nadat dit geoes is.
PLAN MET VRUGTEBOME
Hulle kweek 60 verskillende soorte vrugte, soos appels, pere, piesangs, avokado’s, vye, granate, druiwe, allerhande sitrusvrugte, ’n verskeidenheid bessies en neute.
Hulle het hul vrugte-aanplantings so beplan om sover moontlik deur die jaar vrugte te hê, maar nooit te veel nie. Die personeel by Swans Kwekery op Oudtshoorn het inligting gegee oor wanneer verskillende kultivars ryp word.
“Ons jaar begin in Oktober met moerbeie en nektariens. In dié stadium (Mei) het ons boomtamaties, lemoene en pomelo’s.”
Van Junie tot September het hulle nie vars vrugte nie, maar in Januarie en Februarie, as hulle baie vye, granate en druiwe het, droog hulle wat hulle kan vir die winter. “Die somermaande is so warm en droog dat ons die vrugte binne drie dae sondroog kan maak.”
Met soveel oorvloed en verskeidenheid, koop hulle ooit kos? Kathryn sê hulle koop rys, kekerertjies en aartappels omdat hul tuin tot dusver nie groot genoeg was om genoeg stysel te kweek nie. Hulle wil uitbrei en aartappels en patats verbou.
Tussen die plantsirkels is ’n klein rotspoel om bestuiwers en roofwespe nader te lok. In die poel groei waterblommetjies. Al wat hulle nog nie met sukses kon kweek nie, is makadamianeute en mango’s.
“Andersins kan ons enigiets in seisoen kweek. Dis as jy plante buite seisoen probeer kweek dat jy siektes kry,” sê Kathryn.
KAN NIE SONDER HOENDERS NIE
Die sewe hoenderhenne wat onder draadkoepels in die groentesirkels pik en skrop, is nie net daar vir die mooi nie. Kathryn sê hulle is onontbeerlik deel van die stelsel. “Hulle eet alle oorskietgroente, bemes die grond en bekamp snywurms. Hulle doen ook iets betowerends aan die grondgehalte. In die natuur is daar altyd diere in die stelsel; dit help nie om net hoendermis in te bring nie.”
Kathryn sê die hoenders krap tussen die plante rond en help om ’n lewende komposhoop in elke sirkel te maak. “Dis so vol mikroörganismes en bied aan hulle soveel oppervlakke waaraan hulle kan vasheg.”
Kort nadat hulle die grond gekoop het, het hulle ’n besonder leersame boek oor perma-landbou in Oudtshoorn se munisipale biblioteek uitgeneem. Die uitleg van hul tuin en die hoenderkoepels is gegrond op ontwerpe in Linda Woodrow, ’n Australiër, se boek The permaculture home garden.
Die hoenderkoepel is gemaak om netjies oor die plantsirkels te pas. Die hoenders word ná twee weke na ’n ander sirkel geskuif en die koepel word bloot deur twee mense opgelig en bo-oor ’n ander plantsirkel geplaas. Die hoenders word nie siek nie omdat hulle elke twee weke geskuif word.
Nadat die hoenders aangeskuif het na ’n ander sirkel, word die grond in die sirkel waar hulle was, net met ’n tuinvurk gelig en ’n bietjie gelyk gemaak. “Die hoenders maak gate in die sirkels en trap dit bietjie vas.”
Hulle hou te veel van die hoenders om hulle te slag, maar geniet die vars eiers, wat hulle in die somer ook insluit in die mandjies wat hulle verkoop.
noodsaaklik om aanhoudend kompos te maak. Hulle is gelukkig dat daar ’n melkery naby hul plaas is. Boonop kry hulle lusernstrooi by ’n boer wat lusernsaad kweek.
Hul komposhoop kry ’n laag groen materiaal, ’n laag droë materiaal en ’n laag beesmis. Dit word herhaal en die metode laat genoeg ruimte binne-in die hoop vir die materiaal om af te breek en vir hitte.
Hulle maak die hoop nat terwyl hulle dit opbou en los dit dan. “Ons keer nie die kompos om nie. Ná drie maande gebruik ons die kompos in die middel om saailinge te kweek of plaas dit in ’n plantsirkel waar dit lyk of die plante iets kortkom. Ons probeer die stelsel so geslote moontlik hou en al die voedingstowwe in die sirkel hou.”
Hulle het verskillende gebruike vir die veelsydige smeerwortel (comfrey). “Ons gebruik dit as ’n kompos-aktiveerder, ’n myner van mikrovoedingstowwe in die grond, as ’n onkruidversperring, ’n manier om groenmateriaal te maak, in vegan-komposhope, en as dekgewas, veral onder olyfbome, wat voedingstowwe aan bome verskaf.”
VERSKEIDENHEID ’N MOET
Kathryn hou gedurig haar oë oop vir organiese materiaal om verskeidenheid in te sluit. Brande vroeër vanjaar in die Swartberge, gevolg deur reën, het fynbos- en houtas met die rivier laat afvloei en bied ’n manier om diverse organiese materiaal in die grond te kry.
Een van perma-landbou se belangrikste beginsels is verskeidenheid in elke plantsirkel. Plante wat byvoorbeeld goed saamwerk, is basiliekruid en eiervrug, tamaties en basiliekruid of tamaties en geelwortels.
Aangesien Kathryn so ’n verskeidenheid in elke sirkel kweek, word mikroörganismes nie onder die grond gekonsentreer en veroorsaak dit nie siektes nie. Sy plant dikwels basiliekruid, krulkool (kale), komkommerkruid (borage), preie, eiervrug, uiegras (chives), groenbone, verskeie tamatiekultivars en uie in een sirkel. “Ek probeer diversiteit en kompleksiteit handhaaf. As een plant dus nie oorleef nie, sal ’n ander wel. Dit hoef nie perfek te wees om produktief te wees nie.”
DIE WONDER VAN WATER
Hulle is gelukkig om ’n artesiese boorgat op die plaas te hê en het dus nie nodig om water te pomp nie. Dit lewer 600 liter water per uur. “Ons gebruik water doeltreffend met behulp van laedruk-drupbesproeiing.”
Hulle het mettertyd gevind dat, hoewel hul besproeiingstelsel water- en kostedoeltreffend is, die water nie suurstofhoudend is nie. ’n Boer wat organies met uitvoerblomme boer, het voorgestel hulle moet die natuur naboots en ’n manier kry om suurstof in die water te kry. Dus plaas hulle van tyd tot tyd ’n sprinkelkop op elke sirkel, wat reën naboots. Kathryn sê dit maak ’n groot verskil aan hul plante en help keer dat die dele tussen druppers uitdroog.
SAAD EN SAAILINGE
Kathryn sal net in uitsonderlike gevalle saad koop, en verkies om al haar saad vir die volgende seisoen self te kies en te bewaar.
“Die groente of slaai wat ek graag self wil eet, is die een waarvan ek die saad hou. Ek het oor die jare sade gekies met eienskappe waarvan ek hou en wat laat ryp word.”
Sy sê dit is belangrik om saad goed te bestuur en gereeld te plant om hul lewenskragtigheid te behou. Sy maak ook heelwat steggies, maar sal soms ’n vrugteboom wat sy graag wil hê, koop. Sy wil meer amandelbome plant.
Aangesien die Klein-Karoo sulke uiterste weerstoestande het, is dit makliker om die sade vir die eerste maand in saadbakkies in haar kwekery te kweek, ook omdat dit makliker is om die saailinge daar nat te hou.
Hulle het die kwekery gebou met ’n noordaansig en skadunet wat teen die “mure” afgerol kan word. Sy maak ’n kweekmedium van gesifte kompos wat sy met vyf dele vermikuliet meng om waterhouvermoë te verhoog.
GASTEHUIS EN TOERE
Kathryn en Ross het ná skool B.Sc.-landbougrade in weidingkunde aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg verwerf. Hulle het lank by lodges in Botswana gewerk en hul verlof en spaargeld gebruik om te reis. Kathryn lei nog lodgepersoneel op en is ook ’n joga-instrukteur en masseur. Sy wil mettertyd ’n joga-wegbreekplek ontwikkel.
Hulle het ’n kursus in die ontwikkeling van perma-landbou by mnr. Ewald Viljoen in Johannesburg bygewoon.