Landbouweekblad

KOBEEBERG SE TIERHOK UIT KLIP

’n Tierhok op die Kobeeberg buite Vanrhynsdo­rp herinner aan ’n era toe boere luiperds op elke moontlike manier van hul vee af moes probeer weghou.

- FOTO’S: LIZE-MARIE BRINK

Op die plaas Diepvlei, waar die Brink-familie al sedert 1900 boer, moes die boer ’n plan maak met luiperds wat skape vang – en dié Brink-boer het ’n vanghok uit klip gebou.

“As dit daardie jare moes gaan soos dit twee jaar gelede met my gegaan het – toe ’n luiperd 54 stuks van my dragtige ooie doodgebyt het – kan ek die bou van die hok verstaan. Hierdie hok is uit plat klippe van sandsteen gebou. Alle kleure mos het mettertyd daarop gegroei,” vertel Tienie Brink, reeds die vyfde geslag op Diepvlei, en die vierde geslag wat dieselfde naam dra. Die eerste oupa het Daantjie (Daniel) Brink geheet.

“Dié hok is in my oupagrootj­ie se tyd gebou – die eerste Tienie Brink. Ons gebruik dit al vir baie jare nie meer nie. Een soortgelyk­e ‘tierhok’ op die plaas het reeds verval. Dié een staan nog sterk as ’n aandenking van die vroeë jare se planmakers.” KEN SY AARD

Dit word ’n tierhok genoem omdat boere vroeër jare van luiperds as “tiers” gepraat het.

Die hok is ’n bietjie hoër as kniehoogte, met baie ruimte binne. Die vloer, vier mure en dak is alles van klip gebou, met ’n valdeur van hout en sinkplaat aan die voorkant van die hok.

Daar bestaan gissings oor waarom die hok suid front, maar ongelukkig nie feite om dit te staaf nie. Tienie meen die boere het die natuur so goed geken en was prakties genoeg sodat hulle hul doel met so ’n hok kon bereik het.

“’n Mens sit die skaap of bok wat die luiperd die vorige nag doodgebyt het, diep agterin die hok. Dan kom die roofdier agter die reuk aan tot by die buit. Omdat luiperds glo nie daarvan hou as iets aan hul lyf of stert raak nie, moet die hok wyd en hoog genoeg wees sodat luiperd se kind én die prooi binne die hok kan wees. Dan moet die luiperd hom nog met gemak kan omdraai ook,” sê Tienie.

“Sodra die luiperd binne die hok by sy prooi kom, val die deurtjie wat spesiaal só gebou is dat dit afglip en die uitgang versper. Die sinkplaat aan die binnekant het voorkom dat die dier dit stukkend byt.”

Skietgate is aan die agterkant van die hok ingebou sodat die roofdier van buite af van kant gemaak kon word. GROOT SKRIK

Tienie vertel van die heel laaste keer dat Diepvlei se vanghok ’n dier met sukses nadergelok het: Sy oupa Tienie het dié dag ’n werker opgestuur teen die Kobeeberg om te gaan kyk of daar ’n luiperd in die hok is. Aangesien die paadjie boontoe baie steil is, was ’n ruskans by die tierhok beslis eers nodig.

Die werker, wie se oë seker nog nie gewoond was aan die donker binne die hok nie, het glo vinnig deur die openinge geloer, maar geen dier binne gesien nie. Hy het houtgerus bo-op die tierhok gaan sit om te rus. Toe hy sy pyp teen die kliphok uitkap, het die kwaai gegrom van binne hom van alle moegheid laat vergeet.

Hy het glo in ’n vreeslike toestand van skok en met baadjiepan­te in die wind oor Diepvlei se werf aangenael gekom. Van al die gebrabbel en skok kon sy werkgewer aanvanklik niks verstaan nie, maar ná ’n sterk beker soet koffie het die volle storie ontplooi.

Sarie Marais-Nell besoek Suid-Afrikaanse plase op soek na skatte van weleer wat soms vergeet word, maar steeds ’n groot rol in die plaas se funksioner­ing speel.

 ??  ?? Die ‘‘tierhok’’ op Diepvlei staan al meer as ’n eeu, maar word nie meer gebruik nie.
Die ‘‘tierhok’’ op Diepvlei staan al meer as ’n eeu, maar word nie meer gebruik nie.
 ??  ?? Die binnekant van die hok moes groot genoeg wees sodat die luiperd kon omdraai, want die boere het geglo ’n luiperd hou nie daarvan as iets aan sy lyf raak nie.
Die binnekant van die hok moes groot genoeg wees sodat die luiperd kon omdraai, want die boere het geglo ’n luiperd hou nie daarvan as iets aan sy lyf raak nie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa