Landbouweekblad

RAMPRYSE HOU TRED MET BETER WOL- EN VLEISPRYSE

- — THEUNS BOTHA

Die prys van skaapramme het die afgelope jaar met die styging in wol- en vleispryse tred gehou, sê dr. Louis du Pisani, nasionale bestuurder van voorligtin­g en opleiding by die Nasionale Wolkwekers­vereniging.

Hy sê ofskoon ramme slegs 3% van ’n normale kudde verteenwoo­rdig, dit 50% tot die genetiese bevorderin­g daarvan bydra. “Dit sou dus onwys wees om op ramkoste te snoep as kuddeverbe­tering jou doelwit is.”

Die norm is om een ram vir elke 30 ooie aan te hou en die ramme net drie jaar te gebruik voordat hulle vervang word. “Indien ’n 100% besetting verkry word, sal ’n ram dus waar twee lamtye per jaar van toepassing is, in dié tydperk teoreties 180 lammers teel. Indien die koopprys van die ram byvoorbeel­d R18 000 was, beteken dit dat elke lam wat gebore word, R100 kos.”

Hoewel minder ramme nodig is waar kunsmatige inseminasi­e of laparoskop­ie toegepas word, is die aankooppry­s van meerderwaa­rdige ramme ook na verhouding duurder.

“Die slegste belegging wat ’n skaapboer kan maak, is om ’n swak ram aan te skaf net omdat dit goedkoop is. As ’n onbeproefd­e ram met ’n fout gebruik word, sal die genetiese invloed daarvan baie wyd strek. Waar ’n boer ’n kudde met die gewenste genetiese eienskappe het, kan hy dit dan eerder oorweeg om sy eie ramme te begin teel.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa