As droogte bly, gaan appels en pere ly
Appel- en peerproduksie kan lelik geknou word as die droogte nie vinnig gebreek word of boere daarin slaag om water doeltreffender te gebruik nie. Kleiner bedrywe — soos neute en bessies — wys egter steeds hul staal en die vooruitsigte daarvoor lyk blink.
Appelproduksie kan teen 2026 met bykans ’n kwart verminder en peerproduksie kan met meer as ’n derde verminder tensy boere ’n oplossing vind vir die droewige watersituasie in die Wes-Kaap. Hoewel niemand weet hoe lank die Wes-Kaapse droogte nog gaan duur nie, moet vrugteboere nuut begin dink oor hoe hulle water produktiewer en doeltreffender kan gebruik, het me. Tracy Davids van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) op dié organisasie se Kaapse bekendstelling van sy vooruitskouing vir 2017-2026 gesê.
“Ons kan dit nie genoeg beklemtoon hoe nodig dit is om produktiewer en doeltreffender met water te werk nie. Die huidige situasie in die Wes-Kaap maak dit baie duidelik.”
Die BFAP het onder meer gaan kyk wat die invloed kan wees as appel- en peerboere vir die eerste helfte van die vooruitskouing met 50% minder water moet klaarkom as wat oor die algemeen as ‘‘normaal’’ vir hierdie gewasse beskou word. Teen die einde van die vooruitskouing het hulle die watervlakke verhoog tot 80% van die gewone vlakke.
“Die resultaat is ’n afname van 24% en 31% in onderskeidelik appel- en peerproduksie teen 2026. Die uitvoer van albei kommoditeite sal met 30% daal,” het sy gesê (sien TABEL op bladsy 54). Die uitvoerprys sal nie vir daardie verliese vergoed nie, want die BFAP verwag ’n styging van net 4% vir appels en 7% vir pere.
“Vraag en aanbod het ’n groter invloed op prys op die plaaslike mark en daar sal ons groot spronge in die pryse sien; sowat 18% vir appels en 15% vir pere.”
Tracy het gesê ’n kollektiewe benadering is nodig om water in die toekoms te bestuur. Voortydige optrede is veral belangrik.
“Die invloed van die waterskaarste is vloeibaar, want die situasie verander die hele tyd. Die impak daarvan is baie groot vir elke plaas en boerdery, hoewel elkeen anders geraak sal word. Waterbestuur raak werklik kritiek. Die scenario neem nie verbeterde water produktiwiteit en-doeltreffendheid i nag nie, en ons sal nuut moet dink oor hoe ons die waterprobleme gaan oorkom.”
AS DIE DROOGTE BREEK
As die reënval in volgende winter verbeter en die droogte se impak is van korte duur, verwag die BFAP dat appeluitvoer met 12,29% en peeruitvoer met 5,23% oor die volgende dekade gaan groei.
“Die gebied onder appel- en peerverbouing het sterk uitgebrei die afgelope tien jaar, maar dit gaan vorentoe afplat (sien GRAFIEK 1 op bladsy 54). Die watersituasie is een rede daarvoor, maar ons het ook gesien dat reële pryse die afgelope twee jaar aansienlik gedaal het. Dit het die mate waarin nuwe boorde gevestig is, beïnvloed,” sê Tracy.
Produksie groei is grootliks danksy tegnologiese vernuwings, soos verbeterde besproeiing s praktyk een beter plantmateriaal.
“Uitvoer sal ook verlangsaam, in ooreenstemming met produksiegroei. Ons sien
dat pryse vorentoe sal stabiliseer op vlakke wat laer is as die onlangse hoogtepunte (veral in 2016, grootliks weens gehalte en vruggrootte), maar steeds ’n bietjie hoër is as voor 2012.”
Tracy het gesê die vrugtebedryf strawwer mededinging kan verwag uit Argentinië, Chili en Peru. Rusland, Kroasië, Serwië, Masedonië, Montenegro, Kazakstan en Oezbekistan belê tans baie in die uitbreiding van hul kernvrugte. Hulle sal sake op internasionale markte moeiliker maak, maar kan ook help om die vraag na vrugte uit die Suidelike Halfrond in hul buiteseisoen aan te vuur.
“Daar is egter genoeg geleenthede om produksie en uitvoer uit te brei, maar om dit reg te kry sal gehalte en bestendigheid vorentoe belangriker as ooit wees.”
Vrugteboere sal nie net moet veg vir hul plek op die internasionale markte nie, maar op eie bodem sal die mededinging om skaars hulpbronne (soos water), maar ook grond en kapitaal (mensekapitaal ingesluit), net strawwer raak.
MEDEDINGEND, MAAR . . .
Tracy het verwys na ’n indeks wat relatiewe handelsvoordele meet, en gesê hoewel SuidAfrikaanse kernvrugplase eintlik goed vergelyk met hul Duitse eweknieë (sien GRAFIEK 2 ), is daar nog ruimte vir verbetering.
“SuidAfrika se produsente is groter as die meeste ander in die netwerk (80 ha tot 120 ha vergeleke met 15 ha tot 41 ha in die Duitse bedryf), ons kostestruktuur is gunstig teenoor Duitse plase en die feit dat ons buite die Noordelike Halfrond se seisoen produseer, help ons om in die mark te wees wanneer ander lande nie daar is nie.
“Daar is egter ’n ‘maar’. SuidAfrika sukkel met tariewe in belangrike invoerlande, soos China, Japan, SuidKorea en Thailand. Vir druiwe is daar byvoorbeeld tariewe van 13% tot 45%, terwyl Peru en Chili aan bykans geen tariewe onderworpe is nie. As ons dít kan verbeter, sal ons mededingender raak in die uitvoermarkte.”
Tracy het ook verwys na bedrywe wat hektaargewys klein is, maar waarvan die waarde groei, boere se opbrengs op hul beleggings klim en die waarde van uitsette toeneem.
“Dit is bedrywe waarvoor ons nog nie ’n vooruitskouing gedoen het nie, maar dit het aansienlik uitgebrei die afgelope paar jaar, ook wat uitvoerwaarde betref. Ons het dié bedrywe geïdentifiseer vir uitbreidings in die toekoms,” sê sy.
Pekanneute se produksie het die afgelope vier tot vyf jaar met bykans 13% toegeneem.
“Die uitvoervolumes het be
stendig gebly, maar die uitvoerwaarde het baie gestyg.”
China is die pekanbedryf se grootste mark en die land koop meer as die helfte van die uitvoeroes. Viëtnam en Amerika is die ander belangrike markte.
“Die stygende uitvoerwaarde het beleggings in die pekanbedryf gestimuleer, wat beteken die aantal bome raak steeds meer. Dis ’n langtermynkommoditeit, wat daarop dui dat produksie op die lange duur kan groei.”
Makadamiaproduksie het sedert 2007 tot vanjaar met 10% per jaar gegroei. Teen die einde van verlede jaar het produksie egter weens die droogte afgeneem. “Die volume en waarde van makadamiauitvoer het baie gegroei. Die helfte van die uitgedopte neute word na Amerika uitgevoer. Neute in die dop gaan hoofsaaklik na China en Viëtnam, wat bykans 95% van die mark verteenwoordig.”
Tracy het beklemtoon hoe belangrik dit is om goeie inligting vir hierdie nuwe bedrywe in te win. Die bessiebedryf is na die BFAP se mening ook een om dop te hou. Hoewel die bedryf (swartbessies, frambose en bloubessies) gegroei het, is die groot sprong hoofsaaklik danksy beter data wat beskikbaar geraak het.
“Hierdie kommoditeite is in die nasionale ontwikkelingsplan as sleutelgewasse vir groei en werkskepping geïdentifiseer. As ons regtig meer daaroor wil weet, is inligting baie belangrik.”
As voorbeeld het sy na sensusinligting verwys. “Die produksie van vye het met 115% geklim teen die 2013’14seisoen en nartjieboorde het van 34 000 ha tot 325 000 ha toegeneem. Dis groot uitbreidings, maar ook goeie inligting, wat belangrik sal wees vir besluitneming.”