Landbouweekblad

1 kelder, 4 wynmakers – en almal wen

Vier wynmakers onder dieselfde dak klink dalk soos ’n resep vir ’n ramp, maar Peter-Allan Finlayson, Marlise Niemann, John Seccombe en Donovan Ackermann is net te gelukkig met dié opset. Dit is ’n sakpas-manier vir ’n jong geslag wynmakers om handelsmer­ke

- NAVRAE: Besoek www.gabrielskl­oof.co.za, www.momentowin­es.co.za en www.thorneandd­aughters.com

Parstyd is Gabriëlskl­oof se wynkelder naby Botrivier ’n miernes van bedrywighe­de. Dit is des te meer so as by die meeste ander kelders, want nie minder nie as vier wynmakers, elkeen met sy eie handelsmer­k, noem dié kelder hul wynmaakhui­s.

Die wynbende is Peter-Allan Finlayson, wynmaker by Gabriëlskl­oof en Crystallum, Donovan Ackermann, Gabriëlskl­oof se wynmaker, Marlise Niemann van Momento en John Seccombe van Thorne & Daughters. Hulle is ’n prettige klompie bymekaar, wat na hulself as Meow verwys, oftewel die Movement of Extreme Overberg Winemakers.

Maar so graag soos hulle die draak steek met mekaar en die heilige koeie in die wynbedryf, is hulle ernstig oor een ding: wyn.

In ’n bedryf waar solidarite­it en samehorigh­eid nie juis aan die orde van die dag is nie, is hulle ’n vars bries. Hulle is ’n klein wyngemeens­kap wat saamstaan en die ander hul plekkie in die son gun, terwyl hulle kelderruim­te, en soms ook druiwe, deel.

Maar hoe gebeur dit egter dat vier wynmakers onder dieselfde dak beland?

Peter-Allan het in die middel van 2014 by Gabriëlskl­oof, wat aan sy skoonpa behoort, aangesluit, en geweet Marlise en John is op soek na kelderruim­te.

“Komende van ’n kleiner handelsmer­k (Crystallum) was ek maar op my senuwees om betrokke te raak by ’n groter opset, maar om vir John en Marlise aan boord te hê, was gerusstell­end,” sê Peter-Allan.

Dit is nie ’n nuutjie in die wynbedryf nie; dink maar aan wat die Swartland-produsente met hul revolusie reggekry het.

“Ons is ’n groepie mense wat dieselfde dink oor dinge; dis eintlik ’n heerlike kreatiewe proses,” sê Peter-Allan.

Donovan sê: “Ek het al op ’n paar plekke gewerk, maar dié opset het ’n hele nuwe spektrum van wynmaakteg­nieke en nuwe wingerde vir my oopgemaak. Boonop kry ek die kans om met skaars druiwe te werk.”

John sê niemand van hulle het hul eie wingerde nie (buiten Gabriëlskl­oof), maar koop druiwe aan ’n wye front. Suid-Afrika se wynwetgewi­ng is van die vryste ter wêreld, daarom is dit moontlik om oral druiwe te koop. En hulle is heel gemaklik daarmee as hulle Wyn van Oorsprong Wes-Kaap op die etiket moet aanbring, solank hul vernuwing net nie ingeperk word nie.

“Die kern van ons besigheid is om oor Suid-Afrika heen te swerf op soek na die beste wingerde. Ons sluit dan langtermyn­kontrakte met die boere. Dis eintlik ’n baie organiese proses en ons begin al in die wingerd met die druiwe werk. Ons kry druiwe van Barrydale tot in die Swartland, wat beteken ons lê in parstyd ’n groot klomp kilometer af om die wingerde te besoek en die druiwe kelder toe te bring.”

En die lekker ding, sê John, is dat Gabriëlskl­oof se kelder eintlik soos ’n mikrokosmo­s van die bedryf raak met die verskillen­de wynmakers wat daar woeker.

“Daar is ’n lekker netwerk van jong wynmakers wat inligting uitruil. As ’n wingerd byvoorbeel­d 20 ton druiwe oplewer, sal ons dit onderling verdeel en seker maak daar is genoeg vir elkeen van ons. Dit is ook belangrik vir die ouer blokke, wat nie meer ekonomies sin maak vir boere nie, want ons betaal meer vir die druiwe sodat die wingerd behoue kan bly,” sê John.

Peter-Allan sê hulle wil almal kultivars gebruik uit areas waar dit werklik aard. Ty-

dens sy grootwordj­are op Hermanus het hy geleer hoe geskik die Hemel-en-Aarde-vallei vir Pinot noir en Chardonnay is.

“Ek is gefassinee­r deur die gehalte van druiwe wat kom uit die spesifieke areas waar hulle aard.”

Marlise is byvoorbeel­d besig om behoorlik vir haarself naam te maak met Grenache en Tinta Barocca. “Ek het in Spanje gewerk en baie van hul Grenache gehou. Ek het gedink dié kultivar pas mos by ons grond en klimaat ook! My eerste Memento-wyn was ’n Grenache 2011. Dit was ’n eksperimen­t, want ek wou sien wat Grenache in Suid-Afrika kan doen.”

Nou kry sy druiwe van ouer wingerd oor die hele Wes-Kaap heen, veral die Swartland. Sy kon selfs boere in Botrivier oortuig om vir haar Grenache-bosstokke te plant.

Haar Tinta Barocca word deur bekende wynmakers as “die beste in sy soort” beskryf. Hoe haar pad met dié kultivar gekruis het, het ook ’n storie – een wat al begin het toe sy nog wynmaker by Beaumont was.

“Ons het ’n 30 jaar oue Tinta Baroccawin­gerd op die plaas gehad, wat ongelukkig in Junie uitgetrek is. Ek het nie verstaan dit is eintlik ’n port-kultivar waarvan ’n mens nie rooiwyn maak nie. Maar ek het in die wingerd geglo en vyf jaar lank daarmee gewerk om te sien wat ’n mens daarmee kan doen.

“Uiteindeli­k het ek die wyn onder my eie handelsmer­k gebottelee­r. Dié kultivar vaar goed in ons gronde. Ek het sedertdien suksesvol onderhande­l oor ’n 50 jaar oue wingerd in die Swartland en ook een in die Helderberg waarvan ek dié wyn gaan maak.”

GEEN BANG HAAR

John is baie opgewonde oor die nuwe ontwikkeli­ngs in die bedryf. Dit word veral meegebring deur ’n jong geslag wynmakers wat nie bang is om kanse te waag nie en nuuskierig is oor wat Suid-Afrika se terroir en ouer wingerde kan oplewer.

“Mense spits hulle deesdae meer toe op terroir en wynstyle. Ons sal seker die een of ander tyd die pendulum sien terugswaai, maar wanneer die stof gaan lê, gaan ons baie meer diversitei­t in die wynbedryf sien,” sê hy.

Maar, gooi Peter-Allan ’n klip in die bos, dit sal interessan­t wees om te sien hoe groot ’n kultivar soos Cinsaut regtig gaan raak, veral as die young guns groot word en meer in die hoofstroom opgeneem word.

Dié jong ouens en vroue wat so onverskrok­ke op ongebaande wynterrein beweeg, word dikwels gekritisee­r dat die paar honderd bottels wat hulle uitvoer, net ’n druppel aan die emmer is. John kap egter terug.

“Ons moet die opvatting voortstu dat Suid-Afrika wonderlike wyn kan maak. Baie mense glo as jy nie groot volumes na Amerika toe uitvoer nie, is dit nutteloos, maar die jong geslag wys juis wat hulle regkry.

“Kyk na iemand soos Eben Sadie. Hy het ’n groot impak op die Amerikaans­e mark gemaak; nie omdat hy volumes gemaak het nie, maar omdat hy die opvatting dat Suid-Afrika dinge kán regkry, tuisgebrin­g het.”

Dit is hoekom dié klomp dink sulke wynmakersg­emeenskapp­e kan die Suid-Afrikaanse wynbedryf net tot voordeel strek. Selfs die ouer garde sien dan nou al die waarde van hierdie groepe in, sê Peter-Allan.

“Die Swartland-produsente was miskien die baanbreker­s, maar selfs in Stellenbos­ch sien jy nou sulke inisiatiew­e ontstaan. Dink maar aan die Stellenbos­ch Cabernet-vereniging. Dis wonderlik, veral as die groepe die regte oogmerke het en mekaar ondersteun.”

ALMALWEN

Dié wynmakerge­meenskappe is ’n wen-wensituasi­e, vir die bedryf én die wynmakers wat hul reputasies in ’n kwaai mededingen­de omgewing moet bou. Soos John sê: “As wynmense in Europa en Amerika sien wat ons doen, dink hulle dit is baie oopkop van ons. Baie van hulle sê hulle sal nooit hul kelderspas­ie met ’n mededinger deel nie. Maar ons, wat die ruimte huur, kan ons handelsmer­ke op die goedkoopst­e manier begin, sonder die kapitaalbe­steding wat dit verg om ’n kelder te bou.”

Maar, ja, die droom is tog om eendag in hul eie wingerde te belê, erken hy en Marlise.

Peter-Allan sê dit is ook belangrik dat daar wél beleggers is wat bereid is om infrastruk­tuur, soos Gabriëlskl­oof, op te rig en aan ander wynmakers beskikbaar te stel. Sonder dié diep sakke sou dit aansienlik moeiliker wees.

Marlise, wat die langste van die groep in Botrivier werk, sê hul samehorigh­eid het beslis dié gebied op die voorgrond geplaas.

“Ek het in 2006, 2007 hier begin en daar was net ’n hand vol wynplase in die distrik. Oor die laaste tien jaar het dit gegroei tot 15 wynplase. Besoekers hou daarvan om na ’n klein wynarea te kom en ons het nie nodig om met mekaar te baklei om ons stemme te laat hoor nie. Ons is ’n prettige groepie mense wat onsself nie te ernstig opneem nie, hoewel ons baie ernstig is oor wyn.”

 ??  ?? Gabriëlskl­oof in Botrivier, waar jong wynmakers kelderspas­ie by Gabriëlskl­oof huur om wyn onder hul eie vaandel te maak.
Gabriëlskl­oof in Botrivier, waar jong wynmakers kelderspas­ie by Gabriëlskl­oof huur om wyn onder hul eie vaandel te maak.
 ??  ?? BO: John Seccombe van Thorne & Daughter, Marlise Niemann van Momento Wines, Donovan Ackermann van Gabriëlskl­oof, Peter-Allan Finlayson van Gabriëlskl­oof en van Crystallum en David Cope, mede-eienaar van Publik Wine Bar in Kaapstad. LINKS BO:...
BO: John Seccombe van Thorne & Daughter, Marlise Niemann van Momento Wines, Donovan Ackermann van Gabriëlskl­oof, Peter-Allan Finlayson van Gabriëlskl­oof en van Crystallum en David Cope, mede-eienaar van Publik Wine Bar in Kaapstad. LINKS BO:...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa