BOER SÓ MET BOERBOKKE
Hoe boer ’n mens in ’n vennootskap met Boerbokke? Verskeie faktore bepaal of jy ’n goeie of slegte bokboer is: Jy moet besluit of jy baie moeite gaan doen en geld maak, en of die bokke die hele plaas vol en by die buurman gaan wees en jy dus ’n swak bokboer gaan wees wat boonop sonde met die bure gaan hê.
Dit is nie ’n goeie idee om saam met iemand te boer as daar nie oor goeie riglyne en reëls ooreengekom is nie. Dit kan maklik tot konflik lei as die ooreenkoms nie goed uiteengesit is en nagekom word nie. Dit is dus belangrik om goeie dissipline te handhaaf.
Kyk baie mooi na jou heinings, want die bokke gaan op jou eiendom wei.
Wat medisyne betref, is daar net twee inentings per jaar en die dosering van die lammers tot en met speentyd. Dit beloop ongeveer R60 per groot bok per jaar.
Die lek (byvoeding) verskil baie van streek tot streek.
In die lamtyd en die eerste ses weke daarna moet die bokke baie aandag kry, want dit bepaal grotendeels hoeveel lammers jy grootmaak en later gaan speen. Die byvoeding vir die ses weke voor die lam gebore word en tot twee maande daarna, asook die hantering en versorging van die ooi en die lammers, speel ’n groot rol in hoeveel lammers jy speen. Dus gaan jy vir ongeveer drie maande jou byna doodwerk.
Besluit met hoeveel bokke jy wil boer. Hou dan deeglik boek van alle uitgawes en selfs die tyd wat elke persoon bestee, die koste van die medisyne, veeartskoste en byvoeding, hoeveel tyd die werkers by die bokke deurbring, die huur vir die bokke se standaardweiding op die plaas en al die ekstra koste.
Verhaal dit van die lammers wat verkoop word. Bring dit weer in berekening by die jong ooitjies wat gehou moet word en ook die ou ooie wat verkoop moet word.
Hou die koste van byvoeding en immunisering in gedagte, want dit is nie altyd dieselfde nie. As jy bokke aankoop, moet jy met ’n immuniseringsprogram vir die diere begin. Dit duur gewoonlik tot twee jaar voor dit goed werk en verskil van streek tot streek.
Vreemde diere het ook die onbekendheidsfaktor, want jy weet nie altyd hoekom die eienaar hulle verkoop het nie.
’n Groot fout wat beginnerboere maak, is om net bokke van dieselfde ouderdom aan te koop. Hulle koop byvoorbeeld net jong ooitjies en spring met groot ywer weg om ’n bokboer te wees. Twee jaar later kry jy daardie boer op die vendusie waar hy die laaste diere verkoop, want die boerdery het nie aan sy verwagtinge voldoen nie.
Koop liewer bokke van verskillende ouderdomsgroepe en dan elke jaar aanteelooitjies wat jy streng evalueer om te weet wat jy kry en of hulle klaar aangepas is in die omgewing.
Ons laat ’n bokooi net vyf keer lam (soms is daar uitsonderings). Hulle gaan vir die eerste keer ram toe as hulle gewissel het (twee tande), want dan is hulle uitgegroei en het jy ook die minste probleme met die ooitjies wat vir die eerste keer lam.
ENTPROGRAM
Februarie: Multivax = R15 per kop. Diere wat vir die eerste keer ingeënt word, moet ses weke later ’n skraagdosis kry. (Gee MultivaxP, reg.no. G1517, Wet 36 van 1947.) Ivomec = R5 per kop. (Ivomec, reg.no. G3080.) September: Dieselfde as in Februarie. Eenmalig: Voor die ooie by die ram gesit word: Enzovax = ongeveer R20 per kop. (Enzovax, reg.no. G2758.) Lammers moet op ses weke ontwurm word vir melklintwurm en sy maatjies. Hierdie program lyk net soos die skaapprogram wat ons volg, behalwe die Enzovax, want die skape by ons het nie sommer ensoötiese aborsie nie.
Die grootste uitgawe is die arbeid en byvoeding in die lamtyd.
Dit is belangrik om die lammers van elke ooi goed te identifiseer sodat jy presies weet wie is wie se lammers, anders sit jy later met ’n klomp hanslammers en hulle kos net geld.
Die koste van oorplaatjies kan in die begin ook ’n redelike uitgawe wees. Ons gebruik die AussieTagknippe vir die groot bokke wat ongeveer R1 1 stuk kos. Vir die lammers gebruik ons die leaderoorplaatjie wat ongeveer R2 stuk kos. Ek herwin dit elke jaar as ons die lammers verkoop en die jong ooitjies s’n as ons Enzovax spuit, wat dan ook help met die byhou van aantekeninge. Ons gee reg deur die jaar ’n soutenbeenmeellek met swael. Laaste, maar miskien die belangrikste, is die bekamping van probleemdiere. Me. Stephanie Cornelissen boer met Boerbokke by Kathu in die Noord-Kaap. Drie komponente moet met die inkomste uit jou Boerbokboerdery hanteer word, naamlik die bedryfsuitgawes, die bestuur s vergoeding en dan die kapitaal vergoeding.
Die bedryfsuitgawes spreek vanself. Dit is naamlik die voer, arbeid, medisyne, veearts en ook die bemarkingskoste.
Uit die wins wat daarna oorbly, moet die bestuur vergoed word. Wie ook al vir die daaglikse bestuur verantwoordelik is, moet dienooreenkomstig vir sy tyd vergoed word, of dit noue en óf albei vennote is.
Dít wat dan oorbly, moet gebruik word om die kapitaal te vergoed. Jy sal ’n vorm van huur vir die grond moet ontvang en dan moet julle ook die kapitaal vir die bokke se aankoop vergoed, proporsioneel tot wie wat bygedra het.
By beesdeelwinste het een boer gewoonlik die grond terwyl die ander een die beeste gee. Dan verdeel ’n mens die wins wat oorbly nadat die bedryfsuitgawe sen bestuur s vergoeding afgetrek is, om die helfte sodat die een boer dan sy kapitaalvergoeding vir die grond kry en die ander een sy deel vir die kapitaal waarmee hy die beeste aangekoop het.