BETER PRYSE VIR BOERE EN LAER VERKOPE KNOU CLOVER
DIE droogte, verbruikers weerstand teen hoë pryse, eenmalige groot uitgawes soos vir herstrukturering, en verliese weens die likwidasie van DairyBelle het Clover se wins laat val.
Die groep se bedryfswins het in die jaar tot 30 Junie met 44,3% gedaal en sy wesensverdienste met 65,9%.
“Daar was ’n klomp goed wat gelyktydig gebeur het,” sê mnr. Johann Vorster, uitvoerende hoof.
Weens die droogte het Clover sy melkboere meer betaal (gemiddeld 13% meer), maar terselfdertyd was die verkope van sy produkte laer, onder meer weens die natter en koeler somer.
Vorster sê dit was die regte stap om die plaashekprys te verhoog.
“Daar was nie genoeg melk nie. Gelukkig het ons meer vir melk betaal, sodat ons minder boere verloor het as ons mededingers.”
’n Herstrukturering s proses binne Clover om ’n nuwe filiaal, Dairy Farmers of South Africa (DFSA), vir sy vloeibare melkprodukte met lae marge te stig, waarin boere die grootste stemreg het, is net ná die verslagdoening s tydperk afgehandel.
“Ons werk goed saam. Almal verstaan nou hoe dit werk en boere begin die geleenthede sien, naamlik om Clover se primêre verskaffer van melk te wees, maar terselfdertyd ook na ander geleenthede te kyk.”
BOTTER
Vorster sê Clover het teen die einde van die boekjaar die formule verander waarvolgens hy boere vir melk betaal, om hulle aan te moedig om melk met hoër bottervet te lewer. Hy vermoed dit kan ’n eerste vir Suid-Afrika wees.
“Aan die begin gaan dit geld kos en ’n mens sal eers later die effek sien.”
Sowel Suid-Afrikaanse as internasionale verbruikers verkies toenemend volroommelk en botter, sodat daar minder room beskikbaar is om botter van te maak en botterpryse gestyg het.
UHT-MELK
Vorster beskou die invoer van UHT-melk nie as ’n bedreiging vir Clover se langlewemelk nie. “Ons het ’n sterk handelsmerk. Die mense
‘Gelukkig het ons meer vir melk betaal, sodat ons minder boere verloor het as ons mededingers.’
wat ons melk koop, koop dit steeds.”
Hy skryf lae plaaslike pryse vir UHT-melk eerder aan plaaslike faktore as invoer toe.
“Daar is te veel vermoë om UHT-melk te maak - almal wil dit verkoop. Nuwe fabrieke is in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal oopgemaak. Ons is ons eie vyande.”
UITGAWES
Oor die groot uitgawes wat Clover se wins geknou het, sê Vorster die maatskappy het sowat R50 miljoen verloor weens die likwidasie van DairyBelle vroeër vanjaar.
Clover het in 2014 DairyBelle se jogurt- en langlewemelk afdelings vir sowat R 155 miljoen gekoop.
Ander groot uitgawes was herstrukturering s koste van sowat R 46,8 miljoene n groot beleggings in bedrywighede, soos die vergroting van sy vermoë om jogurt te maak teen R69,2 miljoen.
Vorster is optimisties dat veral die tweede helfte van die huidige boekjaar beter sal wees.
“Ons sien ons volume (van verkope) styg en dat ons markaandeel terugwen.
“Ons hoop die ekonomie gaan ons help deur beter verbruik s besteding te bring .”
AFRIKA
Clover brei steeds sy uitvoer na Afrika uit, maar doen dit “stukkie vir stukkie”.
Vorster sê ’n model wat goed in Mosambiek werk, waar daar met ’n plaaslike verspreider gewerk word, word sedert Augustus ook in Tanzanië ingespan.