Goeie nuus: Só klouter SA uit resessie
Met verskeie ekonomiese aanwysers wat positief begin draai, wil dit voorkom of ons verby die onderste keerpunt van die resessie is.
Die jongste ekonomiese groeisyfers toon volgens Statistieke SA dat die ekonomie in die tweede kwartaal vanjaar met 2,5% gegroei het ná die vorige twee kwartale se negatiewe groeisyfers (wat die definisie van ’n resessie is). Dit wil dus voorkom of die ekonomie uit die resessie (twee kwartale van negatiewe groei) beweeg het deurdat ’n positiewe ekonomiese groeikoers in vanjaar se tweede kwartaal gerealiseer het. Daar lê nog ’n lang pad van ekonomiese herstel voor voordat ons werklik kan verklaar dat ons weer op ’n pad van sterk ekonomiese groei is. ’n Mens moet veral in gedagte hou dat die groeikoers waarteen netto werk geskep word sowat 5-6% per jaar is. Suid-Afrika is nog bitter ver daarvan. Die ironie is dat ander opkomende ekonomieë waarmee ons meeding wat beleggings betref, wel naby die 5-6%-groeikoers is, en dus aantreklike beleggingsopsies bied.
EKONOMIESE GROEIKOERS
Die landbou en in ’n mindere mate die mynwese is die sektore wat die ekonomie ’n positiewe hupstoot gegee het. Terloops, die meeste vorige resessies vanaf die 1970’s het saamgeval met erge droogtejare in die landbou. Daar word baie verwys na die bydrae van die landbou tot die ekonomie, wat op ’n regstreekse grondslag slegs sowat 3-4% per jaar is. Die groter prentjie is egter dat indien die insetverskaffers en uitsetverwerkers bygetel word, die indirekte bydrae van die landbou nader aan 25% van die ekonomie is. Dit bevestig net weer dat dat die platteland se ekonomie, waar landbou en mynbou plaasvind, steeds ’n groot
indirekte bydrae tot die ekonomiese groeikoers en welvaart van die land lewer.
Die ander gewaarwording wat ’n mens kry, is dat rolspelers in die private sektor tot die besef gekom het dat die korrupte Zuma-kabinet se dae min raak. Daar is tog op grondvlak ’n opwelling van teenstand teen die ANC se korrupsie, wat hoop vir die toekoms gee.
Die ander realiteit is natuurlik dat ’n mens in jou besigheid ’n keuse het: Belê of nie? Belê jy nie, sal jy stagneer. Jou besigheid sal ná ’n paar jaar uit produksie wees omdat jy net stilgesit het. Daar is toenemend die besef dat, indien jy besluit om in die Suid-Afrikaanse ekonomie te bly, soos die meeste lesers van Landbouweekblad, jy nie veel van ’n keuse het as om in jou besigheid te belê en vir groei en vooruitgang te beplan nie. Dié besef begin wyd posvat. Daar is toenemend besighede in die ekonomie wat nuwe beleggings doen – weliswaar heel versigtig, maar dit is die onderliggende dryfkrag van die ekonomiese herstel wat tans plaasvind.
GRAFIEK 1 toon die ekonomiese groeikoers vir die totale ekonomie en vir die landbou op ’n kwartaallikse grondslag sedert 2014 aan. Die totale ekonomiese groeikoers het maar tussen negatief en effe positief rondgeploeter. Die landbou s’n was sterk negatief gedurende 2015 en 2016 weens die newe-effekte van die droogte in die somerreëngebied.
Die herstel in die somerreëngebiede het die landbou baie sterk laat groei en was deels die katalisator vir ’n positiewe ekonomiese groeikoers van 2,5% in die tweede kwartaal. Die landbou het natuurlik ook vir ander sektore, soos handel, dienste en vervoer, ’n hupstoot gegee.
GRAFIEK 2 toon die verskillende ekonomiese groeikoerse vir vanjaar se tweede kwartaal. Positiewe groeikoerse is deurgaans getoon (weliswaar vanaf ’n lae basis). Dit was net die boubedryf wat negatief gebly het. Die landbou het met 33,6% gegroei, natuurlik danksy die rekordoeste ná twee jaar se misoeste. Dit is ’n groot hupstoot vir die ekonomie. Die voortslepende droogte in die winterreëngebied sal sekerlik in dié streek se ekonomie ’n slegte uitwerking hê en die landbou daar erg knou. Wat wel bemoedigend van grafiek 2 is, is dat die ekonomiese herstel oor die hele ekonomie voorgekom het en positiewe groeikoerse in alle sektore buiten die boubedryf gerealiseer het.
Ekonome se modelle toon dat ons in die volgende paar jaar op ’n stadige ekonomiese herstelpad gaan wees met ’n stygende ekonomiese groeikoers, maar nog nie die 5-6% wat broodnodig is nie. Wie weet, as daar ’n nuwe bestuur met minder korrupsie in Suid-Afrika aan die bewind is, kan dit dalk die vonk vir sterker ekonomiese groei wees.
’N DALENDE INFLASIE- EN RENTEKOERSSIKLUS
Die dalende inflasiekoers is ook goeie nuus en het veroorsaak dat
die Reserwebank rentekoerse met sowat ’n kwart persentasiepunt verlaag het. Dit is niks skouspelagtig nie, maar wat belangrik is, is dat nog rentekoers verlagings verwag word. Dit beteken dat ’n dalende rentekoerssiklus ook steun aan nuwe beleggings en ’n hoër groeikoers kan gee.
Die inflasiekoers het die afgelope drie maande aansienlik gedaal. ’n Belangrike dryfkrag is die laer voedsel prys inflasie, hoofsaaklik danksy die groter graanoeste en groter aanbod van groente en vrugte wat pryse afgedruk het.
In Julie het die inflasiekoers tot 4,6% gedaal, wat heelwat onder die Reserwebank se boonste perk van 6% is.
Onthou, die Reserwebank wil graag inflasie tussen 36% bestuur. Soos inflasie daal – wat wel die verwagting is – sal hy rentekoerse nog laat daal. Dit sal nie groot dalings wees nie, maar sowat 0,25 persentasiepunte per keer, wat in totaal in die volgende jaar of twee sowat 11,5% persentasiepunte kan wees. Dit sal op sy beurt besteding (en belegging) aanmoedig en dus help met die positiewe ekonomiese groeisiklus.
Voedselprysstygings het tot 6,8% verlangsaam. Dit was ’n hele aantal maande naby 1215% en het dus die algehele inflasiekoers opgestoot. Daar word nog effense verdere verlangsamings in voedselprysstygings verwag, met groente en aartappelpryse wat laer is as ’n jaar gelede, veral ook graan en oliesade. Dit is slegs vleispryse wat tans in ’n skerp stygfase is namate kuddebou ná die droogte plaasvind en die slagaanbod afneem.
Na verwagting sal vleisprysstygings binnekort stabiliseer, wat beteken dat die voedselinflasiekoers verder gaan daal. Die vooruitsig is dat die inflasiekoers vanjaar en volgende jaar nog stadig laer gaan neig, wat nog rentekoersdalings moontlik gaan maak. Dit stimuleer ekonomiese groei.
Ten slotte: Met verskeie ekonomiese aanwysers wat positief begin draai het, wil dit voorkom of ons verby die onderste keerpunt van die daalsiklus, en dus die resessie, is. Natuurlik het die landbou en sy vermoë om ’n surplus stapelvoedselprodukte te produseer ’n groot bydrae gelewer.
Moet ook nie die feit onderskat dat mieliemeel se prys op die rak ook heelwat begin daal het danksy die groot oes en lae produsentepryse nie. Dit laat meer geld in die arm verbruiker se sak vir ander besteding, wat ook ekonomiese groei aanhelp.