Van oraloor
DIE verbod op jagsafari’s in Botswana is waarskynlik nie ’n wyse besluit nie, reken ’n navorser.
Die verbod op jagsafari’s wat in 2014 in Botswana ingestel is, was ’n politieke besluit en kan nie uit ’n wetenskaplike oogpunt verdedig word nie.
Só het prof. Joseph Mbaiwa van die Universiteit van Botswana in sy navorsing bevind.
SAFARIJAG EN VOLHOUBAARHEID
Volgens Mbaiwa is geen plaaslike gemeenskappe in die besluitnemingsproses geraadpleeg nie. Die verbod is ook strydig met die doelstellings vir bewaring en landelike ontwikkeling in Botswana se gemeenskapsgebaseerde, bestuursplan vir natuurlike hulpbronne.
Volgens die studie is landelike gemeenskappe slegter daaraan toe sedert die verbod ingestel is. Mbaiwa se navorsing dui daarop dat safarijag in Botswana die volhoubaarheid van natuurlewe bevorder wanneer dit deur middel van ’n kwotastelsel bestuur word.
“Die kwotastelsel lei tot selek tiewe jag, wat goed gereguleer word,” lui die verslag. Die verslag verduidelik dat net ou, manlike diere gejag word en dat produktiewe diere nie uit die siklus verwyder word nie. Jag is ook net ses maande van die jaar buite die dektyd toegelaat.
KONFLIK
Mbaiwa waarsku dat die verbod op safarijag ’n toename in konflikvoorvalle tussen mens en dier sal meebring en dat geld nie beskikbaar gaan wees om sulke probleme die hoof te bied nie.
“As mense wild as hul eie beskou omdat hulle voordeel uit die bewaring daarvan put en dit as ’n vennootskap tussen gemeenskappe en die staat beskou, is die kans beter dat landelike mense sal help om wildsoorte in hul omgewing te bewaar. Nou is die teendeel waar,” waarsku Mbaiwa in sy verslag.
“Mense sal wild waarskynlik al hoe meer onwettig stroop omdat hulle geen voordeel uit die bewaring daarvan put nie.