As ’n grote val
Swaer Louis was daar die dag toe ek my eerste koedoebul met my eerste, eie geweer geskiet het. Daarna het ek altyd my oë oopgehou vir groot, ou bulle wat eintlik op geleende tyd leef.
Ek en swaer Louis was donkeroggend al by die plaashek en het met kameeldoringhout ’n staanvuur teen die koue gemaak. Ons moes darem vir ’n betaamlike tyd wag voordat ons oggendkoffie by Boetie Harmse kon loop bedel. Toe ons later koers kies veld toe, het die oggendluggie wraak geneem op elke oop stukkie vel. Naby die berg waar ons afgelaai sou word, het die Land Cruiser tot stilstand geknars en Louis het die linkerdeur oopgemaak. Hy het grond toe gewys. “Groot bul,” het Louis nodeloos gefluister en albei van ons het berg se kant toe gekyk, die rigting waarin die spoor gewys het. “Hy is sommer nou-nou hier verby, julle moet mooi kyk.”
Ek het die .308 Mauser, wat ek as student met geleende geld gekoop het (my meisie, later my vrou, was die barmhartige Samaritaan), stywer vasgehou. Hierdie was my eerste koedoejag met my eerste, eie geweer. Sou die handgelaaide 165 gr Hornady-koeëls mans genoeg wees vir ’n Suidwes-koedoebul?
Of dit dieselfde bul is waarvan ons die spore vroeër aan die voet van die berg gekry het, sal ek nooit weet nie, maar hy het amper op die kruin half verskuil agter ’n haakbos gestaan toe ek hom sien. Ná die skoot het hy links weggebreek en tussen die welige haaken koedoebosse verdwyn. Ek het letterlik gehardloop na waar hy gestaan het en toe aangestap in die algemene rigting waarin hy verdwyn het, my hart al kloppend in my keel.
Toe ek skaars 50 treë verder vassteek waar die ou grote se krulhoring bo die gras uitsteek, was ek vir ’n hele paar oomblikke woordeloos. Blydskap het deur my gebruis, maar ook ’n vreemde gevoel van verlies. Jy skiet net een maal in jou lewe jou eerste groot koedoebul met jou eerste, eie geweer. En om alles te kroon, was dit naby die plek waar ek grootgeword het in my geliefde kameeldoringbosveld. Ek het by die ou grote gaan sit en hom bewonder. Dit was ’n ou slytbekbul wat moes plek maak vir ’n nuwe generasie. Sy tyd het gekom en tog kon ek nie ophou wonder of hy gereed was daarvoor nie . . .
DIE GRASIE VAN TYD
Dit was weer vroegoggend toe ek 34 jaar later naby die Waterberge anderkant Vaalwater op ’n rotskoppie na ’n groot bul soek. Ons het lank en ver te voet gesoek en die vorige vier dae het wel verskeie koedoes opgelewer, maar ek wou nie skiet nie – dit moes ’n groot, ou bul wees. Een van dié wat reeds sy gene versprei het en basies op geleende tyd leef.
En toe, asof uit die niet, het hy skielik in die oggendson uit die digte bos onder ons verskyn. Ek moes vinnig skiet, maar in daardie oomblik kon ek duidelik die tekens van die tyd op sy lyf sien. Dit was ’n bul met reusehorings en ’n lyf om daarby te pas. In sy fleur moes hy werklik iets besonders gewees het.
Toe ek langs die stokou reus gaan kniel, was ek oorweldig deur emosie. Dit was die grootste, oudste koedoebul wat ek nóg geskiet het. Ek het aan my eerste groot koedoebul daar in Suidwes gedink.
Herinneringe het deur my gedagtes begin spoel. Swaer Louis van der Westhuizen is ook al weg. Groot van gees en hart, ’n man uit een stuk. Een van die medestigters van die private skool El Nathan op Stampriet in Suidwes. Hy kon nooit vir Vader Tyd wag nie, maar is vroeg reeds van ons gesteel. Ja, swaer Louis was ’n grote wat veels te vroeg geval het . . . en ek was glad nie gereed vir daardie verlies nie.