Landbouweekblad

Hart tot hart

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

Dis hierin wat die Christen sy brandstof kry – nie omdat hy móét nie, maar omdat hy wíl.’

Twee mense kan presies dieselfde opdrag kry en oënskynlik dieselfde resultate verkry, maar in die uitvoer van hul opdrag kan hul dryfkrag hemelsbree­d verskil. Die een persoon se gesonde verstand sê vir hom dis tot sy voordeel om die opdrag uit te voer of tot sy nadeel as hy dit nie doen nie. Hy het dus nie veel van ’n keuse nie en moet dit net doen. Hy vra nie eers of dit vir hom gaan lekker wees nie, maar is dankbaar vir sy gesonde verstand.

Die opdrag en uitvoering daarvan maak die tweede persoon ywerig om dadelik te begin. Vir hom is dit nie ’n geval dat hy dit móét doen nie, maar hy wíl dit doen omdat sy hart en gevoel hom so inspireer. Hy voorsien ook dat die uitvoer van die taak iemand anders gelukkig sal maak en as ’n bonus sal dit ook aan hom vreugde verskaf.

Dis duidelik dat die “brandstof” wat hierdie twee mense gebruik, nie dieselfde is nie.

In sy brief aan Filemon gebruik die apostel Paulus juis sy kennis oor dié verskil om aan Filemon krag te gee. Gaan lees gerus weer sy kort briefie, maar dit kom hierop neer: Filemon se slaaf, Onesimus, het gedros en in Rome beland. Daar moes hy waarskynli­k ’n oortreding begaan het, want hy beland in dieselfde tronk as Paulus. Onesimus kom onder Paulus se begeleidin­g tot bekering. Dit lei daartoe dat Paulus hom terugstuur na Filemon om sy skuld te bely en sy werk weer op te neem.

Makliker gesê as gedaan, want Onesimus kon die doodstraf kry. Gelukkig was Filemon reeds ’n kind van die Here en Paulus kan ’n briefie saam met hom stuur. Daarin pleit Paulus dat Filemon vir Onesimus moet terugneem as ’n medebroer in Christus. Daar volg dan ’n interessan­te stukkie motivering: “Filemon, ek kan jou nie opdrag gee om te doen wat ek vra nie, maar ek vra dat jy dit doen op grond van jou liefde vir Onesimus en nie jou plig nie” (lees Filem. 1: 8–21).

Dis hierin wat die Christen sy brandstof kry – nie omdat hy móét nie, maar omdat hy wíl. Nie net in gesonde verstand nie, maar in gesonde hart.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa