BEESTE IN ’N HARTWATERGEBIED
Ek boer in ’n hartwatergebied. Van my diere kry elke jaar hartwater, maar ons red omtrent almal. Ek wil egter nou ander beeste koop. Hoe nou gemaak? Hartwater is ’n siekte wat deur die bontbosluis
(Amblyomma hebraeum) oorgedra word. Dié bosluis kom slegs in gebiede voor waar strawwe winters nie voorkom nie en in beboste gebiede, veral in klowe by berge, dus in tipiese Suid-Afrikaanse bosveld.
Die bontbosluis is ’n driegasheerbosluis. Die larwes en nimfe kom voor op verskeie groot en klein soogdiere, voëls en skilpaaie. ’n Groot bevolking bosluise wag dus om op beeste te klim, ongeag die dipprogram wat die boer volg.
Jong kalwers het vir die eerste vier weke van hul lewe ’n natuurlike weerstand teen hartwater. Dié weerstand mag selfs so lank as agt maande duur. In sommige gevalle word kalwers egterwélsiekenvreklater.
Die tydperk sedert ’n dier deur ’n besmette bosluis gebyt word totdat die dier ’n koors van 40 °C of hoër ontwikkel, is 9 tot 29 dae, met ’n gemiddelde tydperk van 18 dae.
Dragtige koeie van Bos taurus is baie vatbaar, asook jong beeste van alle rasse tussen die ouderdom van 6 tot 18 maande. Diere vrek skielik sonder enige tekens of met stuiptrekkings en moeilike asemhaling.
Akute hartwater tas veral diere van 3 maande tot 18 maande aan. Diere se koors is 40 °C of hoër en dit duur gewoonlik drie tot ses dae.
Net voor die dier vrek, val die koors. ’n Slymerige diarree kan voorkom, wat selfs bloederig mag wees. ’n Klein bietjie spoeg verskyn by die bek. Ná ’n paar dae kan diere senuweesimptome ontwikkel, oë knip, die loopgang is tipies met pote wat opgetel word, koubewegings word uitgevoer en diere kan teen voorwerpe stoot. ’n Siek dier kan plat op die sy gaan lê en met die pote trapbewegings uitvoer, met die oë wyd oopgesper. Diere vrek gewoonlik.
Die beste ouderdom om beeste teen hartwater in te ent, is op die ouderdom van een maand. Diere toon dan feitlik geen kliniese tekens nie, maar ontwikkel wél immuniteit.
Die beeste verloor hul weerstand teen die siekte as hulle vir lang tye, soos ’n jaar, nie herbesmet word nie. Dus kan van die beeste elke jaar weer siek word. Die hartwaterbloed of -entstof waarvan ons praat, is nie ’n werklike entstof soos ons normaalweg ’n entstof verstaan nie. Dit is vars beesbloed wat getrek is by ’n siek bees wat met die siekte besmet is. As jy die bees dus inent deur die bloed binneaars in te spuit, maak jy die bees siek op ’n bekende dag en datum sodat jy kan weet wanneer hy siek gaan word en jy hom dan betyds kan behandel.
VERLOOP VAN SIEKTE
Die organismes vermenigvuldig elke vier dae. Die eerste keer op dag vier is hulle te min om die bees siek te maak en so ook nog op dag agt.
Op dag 12 word die bees siek, ontwikkel ’n hoë koors vir twee dae, waarna die bees se temperatuur onder die normale daal en die dier vrek. Dit is belangrik om die bees te behandel op die eerste dag waarop hy koors het, anders is daar ’n groot kans dat die dier kan vrek.
As beeste na ’n hartwatergebied geskuif word, is dit raadsaam om hulle in te ent voor hulle verskuif word. Dit is ook veiliger om hulle eers 24 dae ná inenting te skuif. As hulle op die nuwe plaas kom, kan hulle steeds siek word, want ’n hartwaterstam kan op die plaas voorkom wat nie deur die entstof gedek word nie.
DRIE KEUSES
Ent die bees in met die bloed, neem elke dag sy koors en as die koors begin styg, spuit hom in met genoeg tetrasiklien, soos Reverin 100 (reg.no. G2871) of Reverin LA (reg.no. G3442) van Intervet). Lees die gebruiksaanwysings sorgvuldig om die regte dosis toe te dien. Die voordeel van dié metode is dat ’n mens verseker weet die bees is gesout omdat die dier ’n koors ontwikkel het, hetsy op dag 12, 16 of 20. Ent die bees in en spuit hom met ’n tetrasiklien op dag 14 vir Bos taurus-beeste en hulle kruisdiere, en op dag 16 vir Bos indicus-rasse en hul kruisdiere. Die voordeel hiervan is dat dit minder werk en meer prakties uitvoerbaar is, veral as groot groepe diere ter sprake is. Die nadeel is dat jy nie 100% seker kan wees al die diere het wél ’n koors ontwikkel en is gesout nie. Van hulle kan dus wel later siek word. Kyk goed of daar nie diere is wat reageer en wel kliniese tekens toon nie. As dit onprakties is om die diere binneaars bloed te gee, is daar ’n alternatief. Spuit die beeste in met ’n langwerkende tetrasiklien (soos Reverin LA (reg.no. G34), Intervet) teen ’n dosis van 10-20 mg per kilogram liggaamsgewig een maal per week vir ses weke. Die sukses hiervan hang af of diere in dié tyd natuurlik met die hartwaterparasiet in aanraking gaan kom. Dit beteken beeste moet in dié tyd van tetrasiklienbeskerming deur hartwaterbesmette bontbosluise gebyt word. As daar nie genoeg bosluise teenwoordig is nie, sal dié metode nie die gewenste uitwerking hê nie. As die beeste in ’n vreemde gebied loop, soos Mosambiek, waar hartwaterstamme voorkom wat nie deur die entstof gedek word nie, is die kans goed dat ’n mens nie diere sal verloor nie. Die nadeel is dat dit heelwat duurder uitwerk as enige van die ander tegnieke. Bespreek die verskillende opsies met jou plaaslike veearts. Voer die prosedures reg uit, anders gaan jy vee verloor. Dr. Francois de Villiers is ’n voerkraal