Ekstensiewe plaas, intensiewe denke
Wanneer die droogte knyp, pak mnr. Stefan Erasmus projekte op die plaas aan wat produksie sal aanvuur wanneer die reën weer val. Danksy uitstekende veld- en waterbestuur het dié Oos-Kaapse Jongboer van die Jaar se plaas in die afgelope 17 jaar nie een kee
Hulle boer ekstensief, maar lewer hul produkte intensief.
Mnr. Stefan Erasmus (33), die Oos-Kaapse Jongboer van die Jaar van die plaas Beskuitfontein by Middelburg, hou daarvan om só te dink aan sy Karooboerdery. Hulle boer met 2 000 Merino-ooie en 70 Bonsmarakoeie en het 90 ha aangeplante weiding.
Met uitstekende veldbestuur, fyn beplanning en presisieboerderypraktyke kry hy dit reg om jaar ná jaar waarde toe te voeg tot elke hektaar van die 8 000 ha waarop hy die afgelope tien jaar boer.
“Volhoubaarheid is vir ons uiters belangrik, of dit nou met water of weiding is. Dit is altyd ons vertrekpunt,” sê hy.
Sedert hy by die boerdery aangesluit het, het hy onder meer ’n moderne lamskuur laat oprig. En danksy doeltreffender besproeiingspraktyke, planne om water te bespaar, volgehoue weidingsbestuur, veldherstel en deurlopende bemarking kry hy dit reg om die boerdery op ’n nuwe pad van groei te stuur.
LEWENSPAAIE
Stefan is op Middelburg gebore en het die grootste deel van sy laerskoolloopbaan daar deurgebring.
In graad sewe het hy ’n leerder aan St. Andrew’s College op Grahamstad geword. “Dit was ’n taamlike aanpassing, want in daardie stadium kon ek nie eens ‘yes’ of ’no’ sê nie, maar dit was ’n baie goeie ervaring.
Ons is vier kinders en twee van my sussies was op universiteit, terwyl ek in ’n private skool was. Ons vakansies het nie ooreengestem nie en ek het nooit my sussies gesien nie. In graad tien is ek toe na Grey-kollege in Bloemfontein, waar ek in 2002 gematrikuleer het.”
Ná skool het Matieland gewink, waar hy bedryfsingenieurswese gestudeer en in die Simonsberg-manskoshuis tuisgegaan het. In sy vierde jaar het hy sy studies gestaak. Destyds was dit ’n teleurstelling, maar tipies aan Stefan het hy gou ’n les gevind om daaruit te haal.
“Dit het my ’n rukkie geneem om daaroor te kom. Dit is simpel om nie jou graad klaar te maak nie, maar uiteindelik was dit vir my nodig om deur so ’n mislukking te gaan. Ek sou op ’n heel ander plek gewees het as ek graad gevang het. Ek sou tien teen een nie plaas toe gekom het nie. Op snaakse maniere loop goed tog in die regte rigting; dis nou maar hoe dit is. Soms vat dit ’n dag of twee om dit te besef, te verwerk en weer aan te gaan, maar ná ’n rukkie is jy weer gelukkig in jou eie vel,” sê hy byna filosofies.
Hy het vir ’n kort rukkie as ’n gids op die Oranjerivier gaan werk om sy “kop skoon te kry” en in 2007 het Stefan by die boerdery aangesluit. Die universiteit van die lewe se deure het hier vir hom oopgeswaai.
“Ek het destyds vreeslik baie gelees. ’n Mens word op ’n plaas groot, maar jy weet eintlik niks van plaasbestuur af nie. Byvoorbeeld, wat is kontantvloei? Ek het dit op universiteit geleer, maar dit het nie vir my belangrik gelyk nie,” vertel Stefan, wat die vyfde geslag in die familie is wat boer (die derde geslag op Beskuitfontein).
“Ek het handboeke en boeke begin deurwerk – seker meer as wat ek op universiteit gedoen het – en baie kursusse gedoen, onder meer by die Landboukollege Grootfontein. Ek het ook baie rondgery, mense ontmoet en kontakte opgebou. As jy ná universiteit of kollege net plaas toe gaan en by jou pa leer en nie verder as die dorp gaan nie, gaan jou visie vernou en ook jou kans om beter te vaar. Ek het seker gemaak ek verbreed my kennis.”
Stefan sê die tyd ná universiteit is vir enige jong mens ’n moeilike stadium. “Jy dink jy weet baie, maar jy verstaan nie hoe min jy eintlik weet nie.”
Dit is waar sy naleeswerk nuttig te pas gekom het.
“Gelukkig is my pa, Pieter, nie so nie, maar as hy met my sou praat en sê dís hoe ons ’n ding doen, ons doen dit al jare so en ons hou net so daarmee aan, kon ek darem vir hom sê dié ouens doen dit en ander doen
dat, hoekom nie ons ook nie? Wanneer ek ’n idee aan hom moes verkoop, het dit op dieselfde neergekom. Hy het altyd 84 redes gehad waarom my idee nie sou werk nie, en dan moes ek dit verdedig.
“As ek terugkyk, besef ek hy het dit reg benader. Ja, jy kan nie boer sonder die wysheid en ervaring wat daar mettertyd op ’n plaas opgedoen is nie, maar as almal ook net presies aanhou boer soos hul ouers …”
SLIM OPVOLGBEPLANNING
Reg van die begin af was opvolgbeplanning belangrik vir Pieter en Stefan. Hulle het wyd met sakekennisse en vriende binne én buite die landbou gesels – ook met diegene wat nie suksesvol was met opvolgbeplanning
nie – om met die beste moontlike plan vorendag te kom.
“Ek het aanvanklik teen ’n skamele salaris vir my pa gewerk. Regtig, ek het net ’n bietjie meer as die minimum loon verdien omdat ek darem kon bakkie bestuur!
“Sowat sewe jaar gelede het ons ’n vennootskap gesluit. Ek het steeds teen ’n geringe salaris gewerk, maar elke jaar het 10% van die boerdery se los bates – vee, gereedskap en so aan – deel geword van my pakkie. Toe ons by 50% kom in 2015, het ek die plaas en die ander helfte van die los bates by my pa begin oorkoop.”
Op dié manier het Pieter én Stefan tyd gehad om hulle vir hul nuwe rolle voor te berei.
“Ek het geweet ek gaan nie vir altyd net meer as R4 000 per maand verdien nie, want ek het geweet ek werk vir iets. Daar was ’n vasgestelde afsnypunt waar ek my van my vennoot sou moes losmaak en op my eie aangaan. Dit het my ook tyd gegee om ervaring op te doen en kennis op te bou oor die spesifieke besigheid se ins and outs.”
Pieter, aan die ander kant, kon stelselmatig aan die idee gewoond raak om die leisels oor te gee.
“Dit werk nie as die seun eers op ’n ander plek werk en dan plaas toe kom wanneer Pa waai nie. Die korporatiewe geheue is gone. Kundigheid en ervaring gaan verlore, soveel so dat die plaas eintlik tien jaar agteruitgaan. By ons het die oorgang so gebeur dat daar basies geen onderbreking was nie, slegs vordering. Ek het ingekom met ’n paar nuwe idees en goedjies, maar is teruggehou deur die ou kennis. Tot ek op ’n punt gekom het waar ek self die ontledings kon doen.”
Hy betrek steeds sy pa by besluitneming, al woon Pieter en ma Aletta net sowat vier maande van die jaar op die plaas en die res van die tyd op Jeffreysbaai.
Stefan verduidelik dat “alles in die lewe maar ’n S-kurwe het”. Eers draai die wiele stadig, dan vind eksponensiële groei plaas en dan begin dit weer afplat. Dan verg dit ’n nuwe inspuiting sodat die proses hom kan herhaal.
“Ons kon die oorgang maak net toe die S-kurwe begin afplat het en ek kon die volgende groeikurwe vat, al voel dit nie aldag of dinge vinnig genoeg gebeur nie.”
Stefan se ongeduld is heeltemal ongegrond. Daarvan getuig die ultramoderne lamgerief wat hy opgerig het om produksie ’n goeie hupstoot te gee (lees die artikel “Jong boer se lamskuur maak bestuur ’n plesier” in verlede week se uitgawe).
BOER SAAM MET DROOGTE
In die Karoo moet ’n mens gou leer om saam met droogtes te boer. Dit is een van die lesse wat Stefan by sy pa en oupa geleer het. Pieter het deur vier of vyf ernstige droogtes geboer. Nou kry Stefan sy eerste proeseltjie van die bitter smaak wat droogte kan laat, maar danksy die goeie grondslag wat die vorige twee geslagte op die plaas gelê het, hou hy kop bo water.
In die afgelope 17 jaar het droogte nie produksie op Beskuitfontein benadeel nie – iets wat Stefan aan bestuur en beplanning toeskryf.
“Ons weidingbestuursprogram is wetenskaplik uitgewerk. Dit is aanpasbaar in droogtetye en haal die raaiwerk uit die bestuur van jou veld. My pa het dit saam met kundiges, soos dr. Louis du Pisani van die Nasionale Wolkwekersvereniging, ontwikkel toe hy Vlakfontein, die buurplaas, bygekoop het.
“Die meeste droogtes op plase is sonder twyfel selfgemaak. As jy in elke dekade een van die twee droogtes wat ons maar hier in die Karoo kry, deur goeie bestuur kan uitskakel, maak jy ’n groot verskil. As jy twee of drie kan uitskakel en net een vang jou in 17 jaar, dan het jy veral ’n verskil gemaak,” sê Stefan.
Hy boer in die gebied wat as die oostelike Bo-Karoo geklassifiseer word. Dit is geleë waar die grasveld en die Nama-Karoo bymekaarkom. Daarom het hulle ’n goeie mengsel bossie- en grasveld op die plaas. Die gebied se gemiddelde reënval is ook effens hoër, sowat 420 mm per jaar. Net 100 km wes daal die gemiddelde reënval tot 280 mm per jaar.
Die plaas se drakrag is 2,5 ha per kleinvee-eenheid (KVE) of 15 ha per grootvee-eenheid (GVE). Hy hou sy beeskudde klein met die oog op droogtejare. “Ons voel wel die droogtes, maar ons speenpersentasie bly 95, droog of nie droog nie,” sê Stefan.
In die eerste ses maande van die jaar word elke kamp op die plaas een keer bewei in ’n tweemaandesiklus. (Die omgewing kry gewoonlik in die laatsomer en herfs reën.)
In die daaropvolgende ses maande laat bewei hy twee van die drie groepe kampe vir ’n tydperk van drie maande. Die vee bly in die nie-groeitydperk langer in ’n kamp omdat hulle dan nie soveel skade kan aanrig nie.
Daar is nog ’n siklus in Januarie en Februarie van die volgende jaar.
“Dit beteken elke kamp word twee keer in ’n siklus van 14 maande bewei. Ons het baie kampe – sowat 150 – en almal is in ekologiese eenhede opgedeel, naamlik vlaktekampe, buiteveld en bergkampe.
“Plant- en terreintipes is ook in ag geneem sodat skape nie selektief vreet in ’n kamp nie,” vertel Stefan.
Sy vrou, Yolandi, is ’n herstel-ekoloog wat tans aan haar doktorsgraad werk. Dié stelsel dra ook haar goedkeuring weg. “Dit is aanpasbaar volgens hoe dit reën en hoe die plante groei. Goeie weidingsbestuur kan jou ’n ekstra groeityd gee in droogtetyd.”
Wanneer dit droog word, wei die skape eerste in ’n kamp en dan die beeste. Die tydperke tussen beweiding word ook gerek as die reën begin wegbly. In die groeityd maak Stefan egter die troppe so groot as moontlik. Dan loop die Merino’s en die Bonsmaras vir 10-14 dae saam in ’n kamp voor die kuddes verskuif word. Die sukses van die stelsel spreek vanself. “Vanjaar is die eerste keer in 17 jaar wat ons nodig het om ekstensief byvoeding te gee. Verlede jaar was dit hel droog, maar toe het ek beter gevaar op my veld as vanjaar. Vanjaar het ons geen voedingswaarde in die veld nie. Ons het in Februarie 180 mm reën gehad, en daarna nog niks weer nie. Wat dus nou hier staan, is verdroogde gras en nie staande hooi, soos dit behoort te wees, nie. Ek voer nou dat dit bars!
“Ek kan darem nog binne die weidingsprogram bly met die minimum byvoeding. Om te dink jy kan in die Karoo vir 17 jaar dieselfde produksie handhaaf en aangaan asof elke jaar ’n optimale jaar is . . . Dit is eintlik absurd! Gewoonlik kan ’n mens dit nie vyf jaar lank doen nie, maar danksy bestuur en beplanning kry ons dit min of meer reg.”
PROJEKTE IN DROOGTETYD
’n Boer moet ook sorg dat droogte nie met sy kop begin speletjies speel nie.
“Ons filosofie is dat jy droogtetye moet gebruik om projekte aan te pak wat jou plaas opbou. In droogtetye het jy meer tyd, want jy hoef nie so baie lusern te sny nie en jy hoef nie skape elke drie, vier weke te ent en te doseer nie. Dan moet jy ’n projek aanpak wat jou so besig hou dat jy nie tyd het om saans in sak en as te sit nie. Jy moet so moeg wees, jy moet sommer wil uitpass in die stort!”
Dít hou die swart honde weg en boonop, wanneer die droogte gebreek is, vuur die plaas op al sy sillinders.
“As jy projekte in besige boerderytye aanpak, kan jy in elk geval nooit die maksimum produksie najaag nie, want dan is jy besig met ander goed wanneer jy eintlik moet boer, en wanneer dit droog is, het jy niks om te doen nie.
“Ek dink dit is ’n goeie filosofie. Jy kan tog nie ’n dam regmaak as dit vol water is nie. Jy kan dit net doen as dit droog is. Dít is wat Karoo-ervarings jou leer.” Die ekoloog in Yolandi tree weer in. “Veldherstel is ’n voorbeeld van so ’n projek. As ’n mens dit nie ’n voorrangsaak maak nie, gaan jou veld net aanhou agteruitgaan en jou produksie gaan daaronder lei. Herstel is een van die beste maniere op die plaas om produksie te verhoog.
“Behalwe veldbestuur, wat ’n passiewe manier van herstel is, het Stefan se oupa en pa ook baie keerdamme gebou. Stefan doen ook baie ekologiese werk om die water op strategiese plekke op te dam. Dit maak ’n reuseverskil. Die waarde wat per hektaar met herstelwerk bygesit word, is enorm. Mense besef dit nie. Die klink dalk na baie geld om die werk te doen, maar met ons tipe reënval maak ’n keerdam of ’n -wal op die regte plek gou ’n wesenlike verskil.”
DRUPPEL VIR DRUPPEL
Waterbestuur is duidelik baie belangrik vir die egpaar. Verlede jaar tydens die droogte was Stefan se projek om ’n gronddam met PVC-damvoering uit te voer. Die voering is 4 mm dik en het UV-beskerming om dit teen sonbrand te beskerm.
“Ons gaar afloopwater bogronds in vier damme op en het ook ’n paar sterk boorgate en fonteine op die plaas. Een van die damme is ’n sementdam wat 1,2 miljoen liter water hou. Ek het ook alle oop grondvore verander sodat die fonteinwater nou in PVC-pype tot in die damme loop en daar nie ’n druppel verlore gaan nie.”
Met die water plant Stefan sowat 90 ha lusern (vir beweiding en bale), grasklawerweiding en winterweiding.
“Ons fonteine word baie sterker in die winter omdat daar minder verdamping plaasvind en die plante wat transpireer, nie meer aktief is nie. Ons het dan baie ekstra water. Daarom plant ons baie weiding in die herfs en winter vir die lamtye in Mei, Augustus en November, wanneer grasklawer en lusern die basis (van ons voervloeiprogram) vorm.”
Om sy watervoorraad selfs verder te rek, is hy besig om die ou vloedlande, wat Pieter destyds met laser laat uitmeet het en eintlik steeds goed werk, stadig maar seker na Permaset-spuite om te skakel. Hy rig ook ’n paar spilpunte op.
“Gelaserde vloedlande is taamlik doeltreffend, want wind, waarvan ons baie het, beïnvloed dit nie. As jy egter iets moet laat ontkiem, veral as dit droog was en die grond lank gelê het, verg dit miljoene liter water om daardie land nat te kry met vloedbesproeiing.
“As jy ’n spuit gebruik, kan jy kies om een of twee keer per week net 7 mm of 10 mm te gee pleks van 100 mm. Ook, as jy so baie water gee, is die korsie ná ’n week weer te hard vir ’n saailing om deur te kom. Dan moet jy wéér water gee. Dit is ongelooflik hoeveel meer weiding jy kan plant deur anders te besproei.”
Minimumbewerking maak ook ’n groot verskil in hul weidingsrotasie, vertel Stefan. Hulle het verskeie bewerkingswerktuie met ’n geenbewerkingsplanter vervang en daardeur die koolstofinhoud in die grond verhoog, die waterindringing verbeter en boonop dieselverbruik gehalveer.
‘Om te dink jy kan in die Karoo vir 17 jaar dieselfde produksie handhaaf en aangaan asof elke jaar ’n optimale jaar is . . . Dit is eintlik absurd!’