Kanonkop druk deur met nuwe masjien
Oop kuipe, glo Abrie Beeslaer, wynmaker by Kanonkop, is die sleutel tot die landgoed se hoog aangeskrewe wynstyl. Deur die eeue is die kuipe deur mense bewerk, maar in ’n internasionale deurbraak doen ’n masjien nou die werk.
Die Portugese het die wynwêreld verstom met ’n masjien wat die aksie en selfs temperatuur van die menslike voet naboots om druiwe vir portproduksie te trap. Nou het Suid-Afrika se eie Kanonkop toerusting ontwerp wat die arbeidsintensiewe deurdruk-aksie uit werkers se hande neem.
Die Kanonkop-landgoed het onlangs groot uitbreidings aan die kelder gemaak om die kapasiteit te verdubbel, maar ook om moderne tegnologie te installeer.
“Ons het gaan kyk na wat die maksimum kapasiteit van die plaas is, en toe besluit om een keer klaar te bou en te breek,” vertel mnr. Abrie Beeslaar, wynmaker, oor die toevoegings wat onder meer die tenkruimte met 1,5 miljoen liter vergroot het. Die vatepakhuis kan nou 7 500 vate hou vergeleke met 4 000 vate voorheen.
Van die opwindende toevoegings sluit ook in ’n optiese sorteertafel en weegbrug.
“Ons doen baie sorteerwerk in die wingerd (hulle gebruik ook elektriese skêre in die
wingerd), maar wanneer die druiwe gepluk is, kom dit in 500 kg-kratte kelders toe. Dit word afgelaai in ’n voerbak en gaan dan na ’n ontstingelaar wat seker maak die korrels word nie gebreek nie. Die korrels val dan op ’n vibrasietafel wat ontslae raak van dinge soos groen korreltjies, rosyntjies en stingels.”
Hierna word die optiese sorteertafel ingespan wat teen hoë spoed foto’s van die korrels neem. Alle korrels wat nie na ryp, donker druiwekorrels lyk nie, word met ’n ligstelsel weggeskiet en na die komposhoop gestuur.
“Veral in jare met oneweredige rypwording, soos 2016, is dit baie nuttig.”
Wanneer net die beste druiwe uitgesoek is, kan die wynbereidingsproses begin.
OOP KUIPE SLEUTEL TOT WYNSTYL
Die kelder was toegerus met oop sementkuipe (met ’n epoksielaag) wat al in die 1940’s gebou is. Een van die besluite wat hulle tydens die opknappingsproses moes neem, was oor die nuwe kuipe wat geïnstalleer moes word.
“Die oop kuipe speel ’n belangrike rol in die styl van die wyn wat ons maak, daarom wou ons nie na toe gistingstenke oorslaan
nie,” sê Abrie, wat al twee keer as die beste wynmaker ter wêreld aangewys is op die internasionale wyn-en-spiritualieë-kompetisie in Londen.
Wanneer die wyndruiwe in die kuipe gis, kom al die soliede deeltjies (soos doppe, pitte en pulp) na die oppervlak. Dié doppe-koek is amper soos ’n teesakkie, wat in die sap gedompel moet word sodat die kleur en geur daaruit onttrek kan word. Wynmakers doen dit met deurdrukke of oorpompstelsels. Met ’n oorpompstelsel word die gistende sap oor die koek gepomp. Vir deurdrukke word die koek opgebreek en afgedruk met ’n deurdrukstok (’n mens kan dit vergelyk met ’n aartappeldrukker in die kombuis).
Die wynstyl bepaal of jy gaan deurdruk of
oorpomp (en ook hoe gereeld). Hoe meer die koek opgebreek word, hoe meer kleur en geur word onttrek.
Abrie is ’n besliste voorstander van die deurdruk-metode (sien KASSIE ).
Die enigste probleem met die ou, oop kuipe is dat dit heelwat arbeid verg – en boonop baie harde werk is. In parstyd is daar maklik 25 tot 30 paar hande in Kanonkop se kelder wat elke twee uur (dag en nag) die doppe met stokke deurdruk. Die verdubbeling van kapasiteit sou dus beteken tot 60 mense moet help deurdruk, wat nie ideaal is nie.
OUTOMATISEER
Abrie-hulle het begin kopkrap oor ’n manier om die deurdruk-aksie te outomatiseer.
“Daar bestaan nêrens in die wêreld so iets nie en boonop is daar nie ’n vaste patroon wat gevolg word nie, want elke ou druk anders. Die tegnologie wat die naaste daaraan is, is seker die masjiene wat hulle in Portugal gebruik om die aksie van die menslike voet, wat die druiwe trap, na te boots. Daar is ook tegnologie vir oop kuipe en deurdrukke wat op lugsilinders gegrond is, maar die aksie is baie stadig en eintlik vind benatting net plaas, en nie die kneusaksie nie.”
Saam met Leading Edge 70 (wat produkte van vlekvrye staal ontwikkel) en Consult C (ingenieurswerk) het Abrie begin koppe bymekaar sit om dié splinternuwe tegnologie te ontwerp en te vervaardig. Albei ondernemings is op Stellenbosch.
“Dit was baie lekker om betrokke te wees by die ontwikkeling van nuwe tegnologie,” sê Abrie. “Ons het gaan dink oor hoe mense met die deurdrukstokke werk en ’n masjien ontwikkel met vier deurdrukarms, wat aan ’n krukas geheg is. Aan die deurdrukstokke het ons voetjies, wat dieselfde afmetings as die plankies aan die onderpunt van die mense se deurdrukstokke het (sowat 30 cm x 10 cm), aangebring. Die krukas draai in die rondte sodat die arms die deurdruk-aksie naboots. Dis die naaste wat ons kon kom om die aksie te outomatiseer.”
EEN OPERATEUR
Vir die ou kuipe word hande-arbeid steeds gebruik, maar die afgelope parstyd het hulle twee van die masjiene geïnstalleer om doppe deur te druk in die 15 nuwe tienton-kuipe en twee kleiner vyfton-kuipe. Net een tegnikus was nodig om die deurdrukker te bedryf.
“Die operateur het ’n tafel waarvandaan hy die masjiene met ’n stuurarm na die regte kuip toe stuur, maar ons wil mettertyd die masjien ten volle outomatiseer sodat ’n program dit kan stuur. Ons wou nie alles van die eerste jaar af 110% outomatiseer nie, want ons toets die tegnologie en probeer nog ontsyfer hoe vinnig die masjien moet druk.”
Abrie lag lekker wanneer hy vertel dat dit tydens parstyd moeilik was om te meet teen watter spoed die werkers deurdruk.
“Hulle het agtergekom ons probeer ’n vergelyking tref, en het toe al hoe vinniger gewerk om die masjien te klop!”
Die deurdrukker is met ’n motor met veranderlike spoed toegerus; die spoed waarteen dit deurdruk asook die spoed waarteen dit vorentoe en agtertoe beweeg, kan dus aangepas word.
“Die aksie en resultate was vanjaar baie goed. As die motors stadiger loop, gaan dit meer druk op een plek. As ons dit egter baie vinniger maak, gaan dit die doppe te veel breek.”
Die motors skuif ook die masjien van kuip na kuip en danksy sensors weet die masjien wanneer die arms bo die kuip is.
Die enigste probleem met die outomatiese deurdrukker is dat die staalvoetjies nie tot op die kuipvloer kan druk nie (dit stop sowat 5 cm bo die epoksielaag). Die voetjies werk ook nie mooi in die hoeke nie.
“Die operateur kan net vinnig omstap en dit roer,” gee Abrie ’n oplossing.
GEHALTE MOET VERBETER
Abrie meen die doel van tegnologie moenie net wees om werkers te vervang nie, maar dit moet in die eerste plek help om beter wyn te maak.
“Dit help nie ons kom met minder mense oor die weg, maar verloor gehalte nie. Die hele bedryf was lank geskoei op handearbeid omdat dit bekostigbaar was, maar dinge verander. Danksy tegnologie kan ons die mense wat nou vir ons werk, beter betaal, want hulle is beter opgeleide mense wat oor meer vaardighede beskik om met die tegnologie te werk.”