Presisieskaapboerdery:
Verfyn voeding vir optimale wins. Meer as 70% van ’n kudde se prestasie word deur voeding bepaal – en die regte voeding sal ook genetiese potensiaal volledig ontsluit.
Voeding ontsluit volle potensiaal
Om die regte byvoeding van die regte gehalte teen die regte hoeveelheid op die regte tyd vir die regte tydperk te voer, is een van die maniere om maksimum reaksie te verseker, die hoogste wins te verkry en skape se volle genetiese potensiaal te ontsluit.
Die spesialiskonsultant dr. Jasper Coetzee sê navorsers hoop om mettertyd tegnieke te ontwikkel sodat presisievoeding op die korrekte tydstip en vir die kortste moontlike tyd toegepas kan word om maksimum respons vir reproduksie te behaal.
Presisievoeding behels die voer van spesiaal geformuleerde aanvullings wat kritieke voedingstowwe op die regte tye tydens spesifieke fisiologiese stadiums aan teelooie en -ramme voorsien om ooie se reproduksietempo te verhoog asook lammers se groeitempo te versnel.
Die kleinste (ligste) ooi in ’n kudde weeg gewoonlik minstens 30% minder as die swaarste ooi. Dieselfde geld by speenlam- mers. “In die toekoms gaan daar wegbeweeg word van die praktyk om alle diere in ’n kudde dieselfde hoeveelheid te voer,” meen hy.
Ooie gaan elektroniese oorplaatjies kry, en elkeen gaan volgens haar eie spesifieke behoeftes gevoer word, soos die aantal lammers, gewig, kondisie en ouderdom.
Genetiese potensiaal word in die meeste skaapkuddes nie volledig ontsluit nie weens ondoeltreffende voeding- en bestuurspraktyke, meen Jasper.
“Die gebruik van differensiële voeding op strategiese tye maak byvoeding meer kostedoeltreffend. Meer as 70% van ’n kudde se reproduksie- en produksieprestasie word deur voeding bepaal en 20% deur bestuur.”
Hy sê die grootste fout wat baie produsente maak, is om te glo dat ’n geharde en aangepaste ras geen byvoeding nodig het nie. “Die winsgewendste skaapprodusente is almal ingestel op voeding vir produksie en wins.”
Opnames toon dat diere wat die minste of glad nie gevoer word nie, nie die hoogste wins genereer nie.
GEBRUIK VAN KOGGELRAMME
Jasper sê voerkoste kan drasties verminder word deur die natuurlike sinchronisasie van ooie deur hoë libido-koggelramme te gebruik.
“Dit kan die lamtyd tot 28 dae en selfs tot net 21 dae verkort.”
Met kunsmatige sinchronisasie (sponse en CIDR’s) kan die lamtyd tot net drie tot vyf dae beperk word. Met die gelyktydige gebruik van DMS (dragtige-merrieserum) kan die lampersentasie terselfdertyd verhoog word, wat meehelp om byvoeding meer kostedoeltreffend te maak.
In ekstensiewe gebiede, waar natuurlike veldweiding die hoofvoedingsbron is, kan voerkoste drasties beperk word deur ’n wetenskaplike veldbestuurstelsel. ’n Veldbestuurstelselspesialis kan die plaas in blokke verdeel en ’n beweidingsalmanak met beweidingsritme opstel. Die doelwit is dat kampe elke twee tot vyf jaar vir ’n volle groeiseisoen laat rus word.
Navorsing toon dat só ’n stelsel ’n verbetering van tot 41% in vleisproduksie per hektaar en ’n verdubbeling in die netto boerdery-inkomste oor ’n vierjaartydperk bewerkstellig het.
Die Australiërs gebruik reeds ’n rekenaarprogram (Pastures from Space) deur afstandswaarneming met ’n satelliet om weidingproduksie en -groeitempo te beraam en só weiding meer wetenskaplik te bestuur.
VOER NÉT PRODUKTIEWE DIERE
“Strategiese byvoeding is net kostedoeltreffend as dit help om ’n hoër wins te maak, en daarom moet nét produktiewe diere gevoer word. Die waarde van uitstekende voeding kan nooit onderskat word nie, want dit kan diereprestasie na die volgende vlak neem,” meen Jasper.
Daarom is dit belangrik om te let dat
’n korrek gebalanseerde en ’n homogeen vermengde rantsoen noemenswaardige verbetering in diereprestasie verseker – mits diere natuurlik ’n hoë genetiese potensiaal het.
Gesofistikeerde, moderne rekenaarprogramme en modelle, soos die Nutritional Dynamic System (NDS) Professional, ’n CNCPS- (Cornell Net Carbohydrate and Protein System) gebaseerde platform vir herkouerrantsoenformulering en -evaluering, word deesdae gebruik om skaaprantsoene meer akkuraat te formuleer.
Die skaapmodelweergawe neem omgewingsfaktore in ag, soos temperatuur, windspoed, reën, aktiwiteite (afstand geloop en die helling van die weidingskamp), asook dierveranderlikes – soos ras, geslag, gewig, huidige kondisietelling, ouderdom, fisiologiese stadium (dragtigheid en laktasie), dae dragtig of lakterend, geboortegewig van lammers, teikengroeitempo en -kondisie van ooie, wollengte en skoonopbrengs, melkproduksie, en die bottervet- en proteïeninhoud van melk.
Jasper sê die NDS-program voorspel die voedingsbenodigdhede en voedingstofvoorsiening gedurende elke unieke situasie van die dier, asook voerbenutting en diereprestasie. Dié rekenaarmodel kan ook gebruik word om rantsoene te evalueer nadat hulle gevoer is, en te bepaal waarom prestasiedoelwitte nie bereik is.
“Dit is dus ’n bestuurshulpmiddel om rantsoene behoorlik te formuleer en te evalueer, asook om te help met voedingsbestuur en besluitneming op die plaas.
“Waar rantsoene vroeër geformuleer is om sekere proteïen-, deurvloeiproteïen-, energie-, vesel-, kalsium- en fosforinhoude te hê, word rantsoene nou geformuleer op die hoeveelheid voedingstowwe wat die dier per dag moet inneem om sy genetiese potensiaal te ontsluit.”
BRING BESPARING MEE
Rantsoene word vandag geformuleer met tot 124 verskillende voedingstowwe. Verdere verfyning het ook plaasgevind deurdat rantsoene byvoorbeeld nie meer op deurvloeiproteïeninname nie, maar op innames van metaboliseerbare (benutbare) essensiële aminosure geformuleer word, asook op verskillende vesel- en koolhidraatfraksies, minerale, vitamiene en spoorelemente. ’n Gedeelte van die spoorelemente word deur hoogs opneembare en benutbare organiese spoorelemente voorsien.
Die doel van rantsoene wat so geformuleer is, is om mikrobiese proteïenproduksie in die herkouer se rumen (grootpens) te optimaliseer en só op duur metaboliseerbare aminosure te bespaar.
’n Voorlopige gevallestudie toon dat die program byvoorbeeld veselgroei só kan manipuleer dat ’n langer veselgroei met laer veseldikte geproduseer kan word. Verdere navorsing word beplan.
In meeste streke waar daar met skape geboer word, plaas die omgewing natuurlike perke op produksie- en reproduksievermoë weens tekorte aan kritieke voedingstowwe wat voorkom dat diere volgens hul geneties potensiaal presteer.
“Byvoorbeeld, daar is aangetoon dat vlakke van essensiële aminosure wat aan die dunderm voorsien word, uiters belangrik vir maksimum prestasie van herkouers is om hul volle genetiese potensiaal te ontsluit. Deur ’n rantsoen met ’n NDS-program volgens metaboliseerbare (benutbare) essensiële aminosure te formuleer, kan die genetiese groeipotensiaal van lammers ontsluit word.”
Waar sulke geformuleerde kruip- en voerkraalrantsoene aan lammers gevoer is, was die hoogste groeitempo (GDT) 606 g/dag met ’n groepgemiddelde GDT van 551 g/dag.
“So ’n hoë GDT verseker minder staandae in ’n voerkraal, waardeur afronding meer winsgewend gemaak word.”