Landbouweekblad

VSA RUIL KENNIS OOR VOËLGRIEP UIT MET AFRIKA

- — CARIEN KRUGER

DIE Amerikaans­e pluimveebe­dryf weet vandag dat hy drie jaar gelede die regte besluit geneem het om nié pluimvee teen voëlgriep in te ent nie.

Só het mnr. Jim Sumner, voorsitter van die Amerikaans­e raad vir die uitvoer van pluimvee en eiers (USAPEEC), op ’n besoek aan Suid-Afrika gesê.

Sy besoek het saamgeval met ’n inligtings­essie oor twee dae waar Amerikaans­e voëlgriepd­eskundiges in Pretoria hul kennis en ervaring met senior amptenare van nege Afrikaland­e uitgeruil het.

Sumner het op ’n mediagelee­ntheid gesê elke land se situasie verskil en elke land moet daarom self oor inenting besluit.

In Amerika het die bedrywe vir kalkoen en eiers in 2014 inenting voorgestaa­n, maar die braaihoend­erbedryf en Sumner self was daarteen gekant.“Ons het geweet dit is nie 100% doeltreffe­nd nie en was bewus van die handelsgev­olge wat dit sou hê.

“Volgens ons ervaring was ontvolking baie doeltreffe­nder. As jy ’n siek hoender het, maak dit dood en begrawe dit.”

Sumner sê as ’n land sou besluit om pluimvee in te ent, is dit belangrik om die entstof behoorlik te kan toedien. Dit is ’n duur en arbeidsint­ensiewe proses.

Verder kan die virus, soos enige ander virus, voortduren­d verander en muteer, en moet die inenting van pluimvee dus ook voortduren­d aangepas word.

Volgens hom is dit belangrik om ’n uitvoering­splan te hê as ’n land sou besluit om pluimvee in te ent. “Baie van die lande wat besluit het om pluimvee in te ent, doen dit 15 jaar later steeds en hulle sal na verwagting voortgaan daarmee.”

Inenting voorkom nie dat hoenders die virus kry nie en maak dit moeiliker om vas te stel of hoenders die virus onder lede het. Daarom laat die meeste lande nie invoer toe uit lande wat hul pluimvee inent nie.

BIOSEKERHE­ID

Dr. Fidelis Hegngi, senior veeartseny­kundige beampte van die Amerikaans­e departemen­t van landbou, het volgens ’n verklaring van die USAPEEC aan afgevaardi­gdes van die Afrikaland­e gesê daar behoort slegs 24 uur te verstryk tussen die opsporing van voëlgriep en daaropvolg­ende ontvolking van pluimvee.

In Afrika is die grootste probleme volgens hom vertraging­s in die aanmelding van en reaksie op uitbreking­s, terwyl die algemene gebruik om hoenders lewend te verkoop, ook groot probleme ten opsigte van biosekerhe­id meebring.

In Amerika word boere deur die regering vergoed vir die hoenders wat hulle weens voëlgriep verloor, wat terselfder­tyd as aansporing vir vroeë aanmelding van die siekte dien.

Hegngi het gesê opvoeding oor basiese biosekerhe­id is noodsaakli­k, veral onder klein pluimveebo­ere. “Voëlgriep is ’n probleem wat van tyd tot tyd in alle lande voorkom en stamme daarvan, soos die hoogs aansteekli­ke H5N1, hou ’n ernstige risiko vir mens én dier in.

“Die belangriks­te is om nie toe te laat dat dit endemies en dan pandemies word nie.” Hegngi het gesê lande moet kennis met mekaar uitruil.

 ?? FOTO: CARIEN KRUGER ?? Mnr. Jim Sumner
FOTO: CARIEN KRUGER Mnr. Jim Sumner

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa