DEPARTEMENT NATUURBEWARING KOM ONDER SKOOT
DIE Departement van Natuurbewaring en Omgewingsake se beleid jeens die aanhou en verskuiwing van sekere wildsoorte het skerp kritiek uitgelok op die Geo Wild-wildspesie-simposium wat verlede week op Grahamstad gehou is.
Mnr. Deon Furstenburg, direkteur van wetenskap en wildbestuur by Geo Wild Consult, het gesê die verskuiwingsregulasies wat die departement in 2004 op die verskuiwing en vervoer van wildsoorte ingestel het, is gegrond op kaarte wat in antieke reisjoernale opgeteken is.
“Dié kaarte is ekologies totaal ongegrond en akademies foutief en ontken dat habitatte en die omgewings verander het en steeds besig is om te verander.”
Furstenburg het aangevoer dat die weiering van die departement om vervoerpermitte vir sekere wildsoorte uit te reik, die genetiese integriteit van die Suid-Afrikaanse wildbedryf onder verdenking bring.
“Die departement ontken die reg van wildboere om ekonomies met hul diere handel te dryf. Die implikasies daarvan op spesie-oorlewing en toekomstige biodiversiteit is enorm.
“Die amptenare van die Departement van Omgewingsake se bewaringsbestuur erken duidelik nie die nuutste wetenskap nie.”
Volgens Furstenburg poog die Geo Wild-simposiums om dié dilemma te bekyk en toe te sien dat tydige maatreëls getref sal word wat die voortgesette oorlewing van wildsoorte sal verseker.
“Ons is oortuig dat selfregulering deur die onderskeie wildspesiegenootskappe onder die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die gepaardgaande gebruikbewaring of toepassings van die sogenoemde groen ekonomie die beste uitkoms vir die behoud en genetiese oorlewing van meeste wildsoorte sal bied.”
BUFFELTELERS MOET EIE BEMARKING BEHARTIG
Dit is hoog tyd dat die telers van siektevrye buffels hul eie bemarking doen – plaaslik én internasionaal – om die blink geleenthede wat dié spesie bied, ten volle te benut, sê mnr. Francoais Schutte van die wildonderneming M’Bogo by Theunissen in die Vrystaat.
As een van die hoofsprekers op die Geo Wild-simposium, het Schutte gesê dat diegene wat by die bemarking van wild betrokke is, tans nie genoeg doen om Suid-Afrika as ’n ideale jagbestemming vir die buffels te bemark nie. Hoewel daar reeds 2 700 eiendomme by die Departement van Landbou vir buffelboerdery geregistreer is, is daar tans minder as 1 100 wildboere wat aktief by die teel van siektevrye buffels betrokke is.
Na raming is daar slegs sowat 100 000 siektevrye buffels in die land en word minder as 27 000 bulkalwers per jaar gespeen.
“Omdat dit ses tot agt jaar kan duur om dit teen sowat VSA$10 000 as trofeediere te laat jag, bied die mark tans blink geleenthede vir bestaande en nuwe toetreders.
“Dit is ook nie net vir die superrykes beskore nie.”
Schutte meen as die jagprys (in dollar) met tussen 15% en 20% verminder word, daar jaarliks tot 50% méér buffels in Suid-Afrika gejag sal word.
“Met die verswakking van die rand, sal boere egter steeds sowat 60% meer geld in hul sak steek as vyf jaar gelede, toe die wisselkoers R8,09 teenoor die dollar was.”
WILDSVLEIS BEHOORT AS PLAASVERVANGER VIR INGEVOERDE ROOIVLEIS TE DIEN
Daar is geen rede waarom wildsvleis nie aanvullend tot rooivleis gebruik kan word nie – veral as plaasvervanger vir die toenemende laegraadse rooivleis wat ingevoer word. Só sê dr. Maretha van der Merwe, ’n private voedingkundige gesondheidskonsultant.
Van der Merwe het op die simposium op Grahamstad gesê dat minder wildsvleis in ’n jaar verkoop word as wat die voerkraal Karan Beef in een week slag. Een van die probleme is die streng regulasies waaraan wildsvleis onderhewig is voordat dit op winkelrakke kan kom.
Sy meen jagters en wildboere behoort bemagtig te word om self vleisinspeksies te doen.
Volgens Van der Merwe is Duitsland die grootste invoerder van wildsvleis (20 miljoen ton) gevolg deur Korea, Singapoer en Japan. Amerika bied egter aan wildsvleis-uitvoerders die grootste potensiaal.
Sy het gesê die jongste inligting dui daarop dat die verbruik van wildsvleis nie 70% van die jaarlikse aanwas oorskry nie. Die wildgetalle en wildplase neem steeds toe. “Om hierdie rede moet nuwe markte gevind word om die bedryf lewensvatbaar te hou.”
Volgens Van der Merwe het die jagbedryf van ’n geraamde R3,1 miljard in 2005 tot R8,5 miljard in 2015 gegroei. Die styging in besteding was egter grotendeels ten opsigte van kos, verblyf en ammunisie en nie ’n vermeerdering in die aantal diere wat gejag was nie.