Agri SA gee landbou stukrag
Agri SA is oorgehaal vir uitmuntende dienslewering aan sy lede en die landbousektor in die breë deur middel van vyf sentrums vir uitnemendheid onder leiding van kundige personeel.
Agri SA se sentrums vir uitnemendheid word gerugsteun deur ’n bestuur- en komiteespan wat uit verteenwoordigers van Agri SA se affiliasies bestaan. Só geniet landbouers se behoeftes op beleidsvlak en deur middel van verskeie ontwikkelingsprojekte aandag.
Die sentrums maak veral op beleidsvlak ’n impak. Hulle lê sterk klem op navorsing, ontleding, voorspraak, beïnvloeding, mobilisering, onderhandeling, advisering, die inwerkingstelling van projekte en wisselwerking met landbouers op boerevereniging-, provinsiale en nasionale vlak.
Deur middel van Agri SA se nege provinsiale en 24 bedryfsaffiliasies, asook korporatiewe lede, is daar deurlopend uitstekende wisselwerking ten einde op ’n professionele en ingeligte wyse uitvoering te gee aan die mandate wat landbouers aan Agri SA gee.
GRONDHERVORMING
By die sentrum vir uitnemendheid vir grondhervorming word gesamentlike slypskole gehou met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Insette word gelewer oor die Operasie Phakisa-voorstelle oor grondhervorming.
Die sentrum kommunikeer met ’n regspan ten opsigte van die saak van Msiza teen Uys oor regverdige en billike vergoeding. Daar is ook gesprek met die waardeerder-generaal oor die voorgestelde regulasies ten opsigte van die Wet op Eiendomswaardering.
Agri SA se kommentaar op die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit, wat nou voor die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) is, word voorberei, asook kommentaar op die wetsontwerp op kommunale grond.
Die parlementêre proses met betrekking tot die wetsontwerp op onteiening en die wysigingswetsontwerp op die uitbreiding van sekerheid van verblyfreg word gemonitor. Die debat rondom artikel 25 van die Grondwet word beïnvloed en regverdige en billike vergoeding word gebied.
Daar is ook gesprek met die restitusiekommissie oor volhoubare modelle van vestiging op landbougrond.
ARBEID EN ONTWIKKELING
Die sentrum vir uitnemendheid vir arbeid en ontwikkeling dien in die raad van die landbousektor se opvoeding-en-opleidingsowerheid (AgriSETA) en was instrumenteel tot die vernuwingstrategie van die AgriSeta. Die sentrum dien ook in die tegniese taakspan wat die nuwe strategie vir die landboukolleges bepaal.
Die sentrum dien in die raad vir die AgriSEB-handves en wag tans op die finalisering en toepassing van die gewysigde AgriSEBsektorkodes.
Dit is ook die verantwoordelike party vir die Phakisa-inisiatief oor plaaswerkerbehuising en grondeienaarskap, asook die agri-preneurskapprogram met die samewerking van die Departement van Behuising, die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Die sentrum kommunikeer met belanghebbendes oor verskeie AgriSEB-verwante transformasie- en bemagtingsprojekte. Dit is deel van ’n navorsingsprojek oor die transformasieprojekte van Agri SA se lede en filiale, om so ’n jaarlikse verslag te lewer oor transformasie in die landbou en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
Die sentrum doen navorsing oor die probleme en geleenthede vir jong agri-preneurs. Dit bied verskeie aksie-werksessies aan om inligting te gee aan voornemende boere en jong mense wat ’n loopbaan in die landbousektor oorweeg.
Die sentrum is aktief betrokke by die Departement van Arbeid se werksessies en is ’n lid van die nasionale minimumloon-taakspan (Nedlac), wat die wetgewing oor die nasionale minimum loon finaliseer. Dit is toegespits op beroepsgesondheid en -veiligheid en bou gesonde verhoudings met die vergoedingskommissaris.
Daar is ook ’n sterk klem op migrantearbeid. Die sentrum koördineer met sy affiliasies in verskeie provinsies om werksessies saam met die Departement van Arbeid te hou oor die departement se nuwe aanlynregistrasiefunksie vir werkers.
Die sentrum kommunikeer ook met die Departement van Handel en Nywerheid en die Departement van Binnelandse Sake oor die probleme wat lede van Agri SA met korporatiewe visums ervaar.
PLAASVEILIGHEID
Die sentrum vir uitnemendheid vir landelike veiligheid is toegespits op veiligheidsaspekte wat ’n uitwerking het op boerderygemeenskappe se persoonlike veiligheid en algemene misdadigheid.
Die sentrum laat geld Agri SA se invloed op beleid, wetgewing en programme met betrekking tot die veiligheid van boerderygemeenskappe en die landelike omgewing.
Die sentrum se werk word ondersteun deur die SA Polisiediens, Weermag, Korrektiewe Dienste, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) wat gereeld vergaderings van die sentrum bywoon en insette tot die besprekings lewer.
Die sentrum lewer insette rakende landelike veiligheidsaspekte by die prioriteitskomitee oor landelike veiligheid, asook by die komitee rakende misdade teen die staat. Dit skakel met die onderskeie departemente binne die “Joint Crime Prevention Cluster” en bestuur die toepassing van die landelike beveiligingstrategie met die samewerking van provinsiale organisasies.
Hulle skakel met die polisie met die oog op die ontwikkeling van riglyne, asook nasionale instruksies oor onder meer betreding, grondbesettings en onwettige uitsettings.
Die sentrum lewer ook insette rakende die hersiening van die polisiegroepering en doen voorleggings aan die polisie se nasionale kommissaris vir die finalisering van die reservistebedeling.
Dit behou skakeling met die weermag rakende Operasie Corona ten opsigte van die landsgrens en skakel met die Nasionale Vervolgingsgesag oor wysigings aan die Strafproseswet wat betref misdaad aan noodsaaklike infrastruktuur.
Konsultasies met die Departement van Korrektiewe Dienste oor regulasies rakende parool word ook gedoen en die sentrum is toegespits op die ontwikkeling van ’n misdaadinligtingsplatform.
Die Agri Securitas-trustfonds verskaf op ’n praktiese wyse hulp aan boerderygemeenskappe om hulle teen plaasaanvalle te help beskerm.
NATUURLIKE HULPBRONNE
Die sentrum vir uitnemendheid vir natuurlike hulpbronne skakel namens die landboubedryf met die Departement van Water en Sanitasie (DWS) oor die jaarlikse konsep-waterkoste. Dit tree op as lid van die gekose verwysingsgroep (waaronder die DWS) ten opsigte van die Waternavorsingskommissie (WNK) se ondersoek en kommunikasiestrategie. Dit skakel met die DWS oor gemeenskaplike kwessies voortvloeiend uit lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Nasionale Komitee vir Besproeiing en Dreinering. Die sentrum kommunikeer gereeld met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oor die Wet op die Beskerming en Ontwikkeling van Landbougrond, regstreeks en as lid van die Nedlac-besigheidsgroepering.
Die sentrum skakel ook met die Departement van Energiesake, die Departement van Omgewingsake en die Tesourie oor die toepassing en moontlike vrystelling van die landbousektor van die voorgestelde koolstofbelasting soos voorsien in die koolstofbelastingwetsontwerp. Die implikasies van die Square Kilometre Array (SKA)-projek vir die landbou in die Noord-Kaap word met die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die SKA-bestuursmaatskappy bespreek.
Skakeling met die Departement van Energiesake en die Petroleumagentskap van Suid-Afrika oor die belangrikheid van en behoefte aan ’n skaliegasbedryf deur middel van hidrobreking vind plaas. Die sentrum skakel met die Departement van Energiesake oor die vertraging van die inwerkingtreding van die konsep-kennisgewing vir die vrystelling van lisensiëring en registrasie ingevolge die Wet op Elektrisiteitsregulering.
Die toename in mynaktiwiteite op landbougrond en die implikasies op lang termyn vir voedselsekerheid in Suid-Afrika word met die Departement van Minerale Hulpbronne en die Kamer van Mynwese bespreek. Voorlopige gesprekke met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake oor riglyne vir die ontwikkeling en struktuur van ’n rampbestuurplan ingevolge die Rampbestuurwet vind ook plaas.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is betrokke by ’n voltallige NARF-vergadering en die bekendstelling van die oorhoofse liggaam vir Landbou, Bosbou en Visserye, asook die voorgestelde wysiging van die Nasionale Veld- en Bosbrandwet.
Skakeling met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering oor die ontwikkeling van ’n nasionale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk word ook deur dié sentrum bestuur.
KOMMERSIEEL
Die sentrum vir uitnemendheid vir ekonomie en handel lewer insette oor en woon die Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) se subkomitee oor energie-aangeleenthede by.
Die sentrum dien in Nedlac se handel-en-nywerheidskamer om Agri SA se posisie ten opsigte van handelsbeleid te beïnvloed en behoorlik te onderhandel.
Die sentrum woon die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se landbouhandelsforum by en verskaf insette rakende die landbou saam met ander belanghebbendes in die sektor. Hulle berei Agri SA se kommentaar en insette voor op nuwe en gewysigde wetgewing en/of beleide.
Hulle formuleer ook strategiese vennootskappe met verskeie belanghebbendes binne staatsdepartemente en ander belanghebbendes om Agri SA as die leidende stem van die kommersiële landbou in Suid-Afrika te posisioneer.