Kom laat ons lag
Sy kon klein dingetjies groot laat lyk in die spontane wyse waarop sy dit ontvang en waardeer het.
Tant Sukie was ’n vrou uit een stuk gesny en – by wyse van spreke – kan ons ook sê dit was nie ’n klein stukkie nie. Sy was ’n formidabele vrou, nie net vanweë haar besondere persoonlikheid nie, maar ook haar sigbaarheid in die samelewing – letterlik én figuurlik.
’n Mens móés eenvoudig van haar kennis neem, al was dit dan net vir haar ongekunstelde lag waarmee sy ’n geselskap kon ooplag. Sy’t die gawe gehad om groot dinge klein te laat lyk as daar na ’n oplossing gesoek word, maar terselfdertyd kon sy klein dingetjies groot laat lyk in die spontane wyse waarop sy dit ontvang en waardeer het.
In haar tagtigs kon sy nie meer so gemaklik beweeg nie, maar die ongerief het haar nie in ’n gemakstoel vasgeknel nie. Wanneer sy kon, het sy nog in haar tuintjie gebuk om onkruid te verwyder.
Dit was juis met só ’n bukslag dat haar kleinseun, wat so pas in die kleuterskool met die eerste stappe van rugby kennis gemaak het, besluit het om ’n goedgemikte duikstoot teen Ouma se agterstewe te oefen. Die effek was heel geslaag, want Ouma het vooroor gebollemakiesie en in ’n blomstruik beland.
Kleinboet het hom boeglam geskrik en skreeuend die huis binnegehardloop om, wat vir hom soos ’n doodsberig gevoel het, te gaan uitsnik. Intussen kon Ouma op haar rug draai en heerlik lê en ontspan. Toe die verskrikte huismense buite kom, het Ouma hulle met ’n onbedaarlike lagbui begroet. Sy het gelukkig nie seergekry nie en kon laggend haar arms om Kleinboet plaas en hom troos: “Boetman, baie geluk, jong. Joggie Jansen sou wat wou gee om só ’n duikslag op ’n All Black uit te voer.”
Die insident het my laat dink aan besondere mense wat, ten spyte van ongerief vir hulself, só optree dat hulle ander se lewens ’n bietjie makliker maak.
Ouma Sukie sou al lankal heengegaan het, dan sal Boetman steeds met ’n glimlag dink aan ’n geliefde ouma wat ’n kind uit die moeilikheid kon lag.