DIE UITROEI VAN DRIEDORING
Wat is die doeltreffendste metode om driedoringbosse uit te roei? Driedoring se wetenskaplike naam is Rhigozum
trichotomum. Dit behoort tot ’n klein groep van sewe Rhigozum-soorte, waarvan vier soorte in Suid-Afrika aangetref word. Dit is beperk tot Afrika en Madagaskar.
Benewens driedoring kom die kortdoringgranaat (Rhigozum brevispinosum) ook in die Noord-Kaap voor. Laasgenoemde dra groot geel blomme, maar driedoring het wit tot liggeel of selfs ligrooi blomme.
Driedoring is ’n voorbeeld van Suid-Afrika se inheemse struiksoorte wat probleemstatus verwerf wanneer dit só vermeerder dat dit digte stande vorm. Dit is vir mens en dier ’n probleem wanneer dit oormatig verdig, vandaar die naam “verdigterplant”.
Voordat ons driedoring as ’n probleemplant of onkruid uitkryt, moet ons eers agterkom waarom dit oormatig verdig het.
Veld wat weens droogte, gronderosie en/of oorbeweiding in ’n swak toestand verkeer, is dikwels een of meer van die redes. Dit is dan ook nie onvanpas om daaraan te dink as ’n “reddingsplant” nie, want wat kon in die plek van driedoring daar gegroei het? Gee ’n boskasie daarvan nie vir ander plante ’n kans om as ’t ware terug te keer nie deurdat toegang vir diere beperk word?
Die meganiese verwydering van driedoring sal waarskynlik onprakties wees, al is dit net weens die hoë koste. Bespuiting met chemiese onkruiddoders is sekerlik die mees ekonomiese manier van bestryding wat tyd en koste betref.
In die geval van onkruiddoders behoort ’n ewe groot oorweging die impak daarvan op ander plantsoorte te wees.
Sommige onkruiddoders onderskei tussen bome of struike en grasse. In die meeste gevalle is daar egter nie ’n fyner onderskeiding by boom- of struikdoders en grasdoders nie, met ander woorde ’n boom- of struikdoder sal waarskynlik alle bome en struike, asook kruidagtige plante, in ’n mindere of meerdere mate beskadig. Een manier om onkruiddoder-selektiwiteit te verkry of te verbeter is om dit só toe te dien dat die uitwerking soveel as moontlik tot die teikenplant beperk word. Byvoorbeeld, strooi korrels van die onkruiddoderproduk slegs by die stam van die teikenplant, pleks van toediening met ’n vliegtuig, trekkergedrewe spuit of rugsakspuit.
Relatief min onkruiddoders is vir die bestryding van driedoring geregistreer, maar tebutiuroon en bromasil (beskikbaar onder verskillende produkname) is wel.
Meer soorte onkruiddoders kon intussen vir die bestryding van driedoring geregistreer word. Kontak daarom jou naaste onkruiddoderhandelaar en hou streng by die voorskrifte op die produketiket.
Ek sal nie ’n digte stand driedoring probeer “uitroei” nie, maar dalk net “uitdun” omdat die plant wel waarde het, soos om gronderosie te beperk. Driedoring is wel nie ’n gesogte weiplant nie, maar dit dra by tot ’n mikro-omgewing wat bevorderlik is vir die vestiging van meer gewenste plantsoorte in die natuurlike proses van plantopvolging. Dr. Charlie Reinhardt is buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria en dekaan van die Villa Academy.