Plaasaanvalle:
Misdaad oorheers SA boere se lewe
IN geen land ter wêreld speel landelike misdaad só ’n groot rol in boere se lewens as in Suid-Afrika nie. Ongelukkig is Suid-Afrikaanse boere in die eerste liga, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldorganisasie vir boere (WFO).
Hy het op die eerste internasionale landelike misdaadkonferensie wat in Pretoria gehou is, gesê wanneer die boere van die wêreld oor plaasaanvalle en -moorde praat, “praat hulle eerste oor die situasie in Suid-Afrika”.
“As ons boere nie hul moue oprol en die draak van landelike misdaad aandurf nie, gaan die draak hulle verslind. As die huidige generasie dit nie bestry nie, gaan die volgende een erger ly.”
Hy sê dit kry nie die aandag in die wêreldmedia wat dit verdien nie. “As voorsitter van die WFO is dit een van my beloftes aan die boere van Suid-Afrika: Dat ek nooit ’n geleentheid sal laat verbygaan om die kwessie van plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika in die kollig te plaas nie.”
Hy sê hoewel navorsingsartikels daarop dui dat daar nie ’n verband tussen die politiek van die dag en plaasaanvalle bestaan nie, ervaar boere reg oor Afrika dit heeltemal anders.
“Van vroueboere in die Demokratiese Republiek van die Kongo (wat gereeld verkrag word), tot Nigerië (met gereelde ontvoerings vanaf plase), Suid-Soedan en Somalië (waar misdaad vereenselwig word met politieke onstabiliteit) en Suid-Afrika (waar boere ervaar dat populistiese uitsprake aanleiding gee tot meer misdaad in landelike gebiede) ervaar boere dat die politiek van die dag beslis aanleiding gee tot plaasaanvalle.”
Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), het gesê luidens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is bevind dat plaasaanvalle nie polities gemotiveerd is nie, maar dat die MRK die standpunt handhaaf dat politici versigtig moet wees met wat hulle sê en hoe hulle dit sê.
De Jager sê misdaadsyfers in ontwikkelende, arm lande is baie hoër is as in ontwikkelde lande. “Landbouleiers in Denemarke en België weet omtrent nie van misdaad in hul landelike gebiede nie.”
Daar is twee maniere om landelike misdaad te bestry, het De Jager gesê. “Die eerste is ’n benadering op kort termyn waarvolgens die polisie ’n sentrale rol speel met landelike veiligheidsondersteuning van boere af. Dit is ’n operasionele, kragdadige oplossing. Die tweede opsie is meer lang termyn van aard en poog nie om net ’n pleister op kanker te plak nie. Dit sal verg dat die probleem van armoede eers uitgeroei word. Ons sal nooit landelike misdaad uitroei voor armoede en honger nie eers gekeer word nie.”