Graan SA-finalis:
Ná twee seisoene wat hemelsbreed verskil, is baie boere in ’n kosteknyptang. Daar is egter raad, sê mnr. Jan Boshoff, finalis in Graan SA se Graanprodusent van die Jaarkompetisie. Die belangrikste is om jou prys vroegtydig vas te maak
‘Kom weg van moedverloor se vlakte’
Eers was daar ’n droogte waarin Suid-Afrikaanse boere reuseverliese gelei het. Dit is opgevolg deur ’n seisoen met rekordmielie-oeste en gevolglike drempelpryse. Nou bevind baie boere hulself in ’n netelige situasie waar oorvloed vir baie ’n albatros om die nek geword het.
Mnr. Jan Boshoff, een van Graan Suid-Afrika se finaliste as Graanprodusent van die Jaar, boer by Leandra in Mpumalanga. Hy sê hy besef dit maar alte goed. “Ek het geweldige empatie met dié situasie.”
Sy eie boerdery het in 2005 deur diep waters gegaan. “Die 2005-mielieseisoen het verskeie ooreenkomste met vanjaar se groot mielie-oes getoon: ’n rekord-oordragvoorraad en pryse wat net bly daal het. In Januarie 2005 het ek gesit met ’n groot oes, maar ’n prys waarteen ek nie kon verkoop nie. My landbouskuld het my uiteindelik gedwing om my oes te verkoop teen R400 per ton, waarmee ek nie eens kon begin om al die skuld te delg nie. Later moes ek R3 miljoen se beeste, die grootste deel van my kudde, verkoop – net om aan die gang te bly. In sulke toestande leer jy depressie ken, want jy weet nie waarheen volgende nie.”
Hy het besluit om die boerdery te staak. “Ek het ooreengekom om my grond te verkoop en was op pad Bethal toe vir die laaste reëlings. Op pad daarheen het die kopers gebel en gesê hulle wil die koop kanselleer. Toe moes ek die boerdery máák werk, anders was daar nie pensioengeld vir my oudag nie!”
Dit het hom ’n paar jaar gekos om weer sy selfvertroue te herwin. Hy het ’n waardevolle les geleer en die boerdery omgekeer. “Bemarking is seker die moeilikste ding van boerdery, maar jy moet dit onder die knie kry as jy wil hê die boerdery moet oorleef.”
Sy beste raad aan medeboere is: “Maak jou oes betyds vas. Dit help nie om jouself later te blameer wanneer jy ’n groot oes teen weggeepryse moet verkoop nie. Dít is hoe jy in die moeilikheid beland.”
Op die Safex-beurs is daar ’n slagspreuk as pryse daal: Rain makes grain. Met wolke en reën op die horison moet jy nie wag vir
die hoogste pryse nie; jy kan dit dalk nooit sien nie.
Jan se raad aan sy medeboere is om nie mismoedig te word nie. “Veral in die weste van Suid-Afrika is boere in ’n uiters benarde situasie. Boere moet egter nie op ’n hoop gaan sit nie. Gaan kyk, gaan soek oplossings, wees proaktief. Omring jouself met die regte mense, wat jou werknemers insluit. Neem die regte besluite oor grondbewerking en toerusting met die regte finansiële doelwitte en finansiers. Doeltreffende besluitneming is een van ’n boer se beste stukke gereedskap.”
BOERDERY TOT IN SESDE GESLAG
Van die begin af, toe Jan se oupa, ook Jan, die oorspronklike plaas Kromdraai verkry het uit ’n ruiltransaksie vir ’n geweer, het die boerdery ’n sterk familie-inslag gehad. Met die aankoms van Jan se kleinseun, Christof Hertzog, is die vyfde geslag nou op die plaas.
Saam met Jan boer sy seun, Chris, sy dogter Ester en haar man, Barry Hertzog. “Ons is in die proses om ’n volledige familieboerdery te word. In die toekoms sal daar ook meer op vennootskappe staatgemaak moet word om ’n boerdery te bedryf. Met boerderye wat ál groter word, raak dit moeiliker om alleen die hele besigheid te bedryf en te laat floreer.”
Twee van Jan se vier kinders en sy skoonseun is heeltyds betrokke as deelnemende vennote. “Dit gaan oor skaalekonomie. Maak dus jou kinders saam met jou vennote.”
Terwyl Chris en Jan sorg vir die saaiboerdery, is Barry feitlik uitsluitlik by die veeafdeling betrokke.
Sowat 1 400 ha word beplant, waarvan 370 ha onder besproeiing is en die res droëland. “Gewoonlik plant ons sowat 900 ha mielies en 500 ha sojabone, met 100 ha se ertjies as wisselbougewas wat ons op kontrak aan McCain op Springs lewer. Ons laat ons rig deur die mark en beplan om vanjaar ons mielie-aanplantings te verminder en meer op soja klem te lê. Slegs 650 ha mielies gaan vanjaar geplant word.”
Jan sê danksy vanjaar se gunstige weerstoestande kon hulle sowat 8 ton mielies per hektaar stroop, terwyl verlede jaar se droë seisoen ’n gemiddelde van 3,2 ton gelewer het. Die sojabone het op hul beurt ’n gemiddelde van 2,8 ton/ha op droëland en 3,4 ton/ha in besproeiingstoestande gelewer. Verlede seisoen het die ertjie-oes 4,5 t/ha bedra.
Die ertjies word in Julie geplant en einde Oktober gestroop, waarna mielies aangeplant word. “Verskillende lande word daarna op rotasiegrondslag met sojabone beplant, waarna die ertjies weer volg.”
“Die wisselvalligheid van die mieliemark net oor die afgelope twee seisoene het my net weer eens gewys dat as jy sien jy gaan