Kies die regte beleggingsfonds
Om te weet watter beleggingsfonds die beste is, moet ’n mens kyk na die termyn, die belegger se persoonlike omstandighede en risikoprofiel, asook moontlike waarborge.
Enige belegging behels drie stappe. Eerstens moet jy ’n finansiële plan bou om te bepaal wat jy met die belegging wil bereik en hoe dit by jou ander planne inpas. Gegrond daarop moet die ideale beleggingsproduk gekies word om die optimale belasting- en boedelvoordele te bereik.
Nadat ’n volledige finansiële plan opgestel en die regte beleggingsproduk geïdentifiseer is, moet jy die onderliggende beleggingsfondse kies. Dié fondse bepaal die belegging se groei.
Almal wil altyd weet watter beleggingsfonds die beste is. Ongelukkig is die antwoord altyd dieselfde: Dit hang af.
TERMYN
’n Belegging se beoogde termyn is belangrik. Die prys van sekere beleggings, soos aandele in maatskappye, kan baie wissel. Dit is nie ongewoon vir hul prys om binne ’n maand met selfs 30% te daal nie. Om dus in aandele te belê vir korttermynbeleggings maak nie sin nie.
Vir korttermynbeleggings van een tot twee jaar is kontant of geldmarkfondse die beste opsie. Dit groei nie baie nie, maar daar is weinig risiko om geld oor die termyn te verloor.
Oor ’n termyn van tien jaar of langer raak die kans egter skraal vir kontant of geldmarkfondse om veel meer as inflasie te groei. Dit beteken die waarde van die belegging sal nie werklik veel toeneem nie. Oor dieselfde termyn sal ’n goed gestruktureerde belegging in maatskappyaandele die beste opbrengs van enige bateklas lewer. Hoe langer die termyn van die belegging dus raak, hoe meer aandele behoort in jou belegging te wees.
Navorsing bewys dat wanneer ’n belegging vir langer as 15 jaar gemaak word, die beste groei verkry sal word as dit 100% in aandele belê is. So ’n belegging is nie vir almal geskik nie omdat sulke beleggings al in die verlede soveel aan die begin van die termyn verloor het dat dit vyf jaar geduur het om terug te groei na die oorspronklike waarde. Die tien jaar daarna het egter daarvoor vergoed.
Aandelebeleggings vereis dus ’n sterk deursettingsvermoë, ’n vermoë om niks te doen nie. As die aandele jaar ná jaar swakker groei as kontant, raak dit baie moeilik om nie die aandele te verkoop en oor te skuif na kontant nie. Dit is egter die verkeerde ding om te doen, want dit is hoe jy die sewe vet jare ná die sewe maer jare misloop.
As jy nie kan terugstaan en niks doen wanneer die belegging swaarkry nie, is ’n belegging wat 100% in aandele is, nie vir jou geskik nie – selfs nie as dit oor die termyn die beste opbrengs sal lewer nie. Dit word jou risikoverdraagsaamheid genoem.
Risikoverdraagsaamheid staan saam met risikobehoefte. Dit is die hoeveelheid risiko wat jy sal moet loop om by jou einddoel uit te kom. Dit help nie om in kontant te wees as die groei wat jy nodig het 12% per jaar is nie. Jy sal nooit jou doel bereik nie.
Die bepaling van jou risikoprofiel met betrekking tot ’n belegging is dus nie so eenvoudig nie. Jou geregistreerde finansiele beplanner (CFP®) sal jou help om die persentasie aandele in jou belegging te kies waarmee jy gemaklik kan saamleef.
WAARBORGE
’n Sentrale waarborguitgewer bestaan nie. Die waarborg is so sterk soos die persoon wat sê hy waarborg dit. Eendag as jy die waarborg regtig nodig het, kom jy dalk agter daar het niks van die persoon of die waarborg oorgebly nie. Meestal is daar ook ’n groot ingeboude koste in enige fonds met ’n waarborg.
Ons ondervinding is dat die kool selde die sous werd is as dit kom by waarborgfondse.
Hoe meer aandele jou beleggingsfonds het, hoe beter behoort die opbrengs op lang termyn te wees. En hoe langer ons lewe, hoe belangriker raak daardie goeie groei.
Deur meer te leer oor beleggings en só fondse beter te verstaan, raak jou vermoë beter om die wisselvalligheid van aandelefondse te hanteer. Die beter groei van die beleggings op langer termyn is voordelig. Om roekeloos konserwatief te wees, is dikwels gevaarliker as om aggressief te belê.
Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG.