TE VEEL MENSE OP EEN PLAAS WERK NIE
Daar was al verskeie berigte oor die spogwynplaas Soms-Delta in die Franschoekvallei waar 180 plaaswerkers ’n 50%-aandeel in dié landgoed van 54 ha wyndruiwe bekom het. Plaaswerkers sal dus op ’n regstreekse en onregstreekse wyse kan voordeel trek uit 27 ha wyndruiwe.
Wynboere wat van beter weet, het met die aanvang van die projek al gesê dat 27 ha wyndruiwe met 180 plaaswerkers aan boord net nog ’n nodelose vermorsing van staatsgeld gaan wees. Die probleem is dat die wynbedryf feitlik nie meer volhoubaar is nie omdat die netto verdienste van die gewone wynboer tans minder as 1% op sy belegging is. Met 27 ha wyndruiwe is dit ekonomies onmoontlik om selfs 180 plaaswerkers se lone te betaal – byvoordele uitgesluit.
Die twee eienaars van Solms-Delta het nogal baie te sê. Volgens hulle gaan dit daarom om die siklus van armoede en afhanklikheid van plaaswerkers te verbreek en om met aandeelhouding ’n finansiële platform te skep om die “opbrengste” tot voordeel van die werkers se maatskaplike doelwitte aan te wend. Boere word ook aangemoedig om aandeelhouding- skemas vir hul werkers te oorweeg omdat dit vir plaaswerkers ’n goeie toekoms en volhoubare lewe tot gevolg sal hê.
Bogenoemde aanname klink na ’n baie eerbare taak, maar om winsgewend met wyn te boer, is nie maklik nie. Dit is eerder ’n stryd as ’n plesier, soos Solms-Delta blykbaar ook al ondervind het.
Volgens prof. Mark Solms, een van die eienaars, was daar ook ongunstige gebeure. Nadat hulle ruim dienskontrakte en byvoordele aan die plaaswerkers aangebied het, het werkers om die een of ander rede begin om laat op te daag vir werk. Sommiges het Maandae nie kom werk nie, terwyl ander weer net gedoen het wat hulle wil. Van hulle het selfs die pomp by die rivier gesteel en verkoop.
Daar word gesê dat Soms-Delta se eienaarskap gelykop verdeel