DIEANDERSÊ
Polisiemagte in Afrika sukkel in die algemeen om gewone misdaad die hoof te bied. Hulle is selfs meer uit hul diepte as dit kom by gewelddadige ekstremisme.
In ’n nuwe studie deur die Verenigde Nasies (VN) se ontwikkelingsprogram, waaraan meer as 500 djihadiste van grootliks Kenia, Nigerië en Somalië deelgeneem het, is gevind in meer as 70% van die gevalle was “staatsoptrede” – die moord of inhegtenisneming van ’n familielid of vriend – die sleutelgebeurtenis wat hulle oorreed het om by ekstremistegroepe betrokke te raak.
Die oorsaak van die probleem is deels histories: Polisiemagte in Afrika is deur koloniale magte ingestel om beheer oor die plaaslike bevolking te behou. Onafhanklikheid het nie regtig daardie funksie verander nie – hul rol bly grootliks bewindsbeskerming.
Gevolglik is die meeste Afrika-polisiedienste ernstig onderbeman. Die VN beveel 300 polisie-offisiere aan per 100 000 burgers, maar in Kenia is die verhouding slegs 203, in Nigerië 187 en in Mali – wat erg deurloop onder Islamitiese geweld – net 38. Verder het polisiemagte ook nie die nodige hulpbronne om hul werk te doen nie – van voertuie en brandstof tot papier, penne en drukker-ink is ontoereikend, en dan praat ’n mens nie eens van funksionele forensiese laboratoriums en nasionale vingerafdruk-databasisse nie.
Dis dus geen verrassing dat die koers van skuldigbevindings maar laag is nie. Selfs in Suid-Afrika, wat een van die meer gevorderde polisiemagte in Afrika het, eindig slegs ’n geskatte 10% van moordsake in ’n skuldigbevinding.