Landbouweekblad

Oorskot wit mielies gaan pryse lánk afrem

- — MARLEEN SMITH

MET die somerplant­tyd op hande waarsku ekonome saaiboere dat plaaslike mielieprys­e, veral die prys van wit mielies, nog geruime tyd onder druk kan bly vanweë die grootste Suid-Afrikaanse oes in die geskiedeni­s. Dit is ook en omdat uitvoer tot dusver nie die rekord- binnelands­e oorskot betekenisv­ol kon laat krimp nie.

Terselfder­tyd is die prysverski­l tussen wit en geel mielies nie so groot dat dit die voersektor aanmoedig om op groot skaal wit pleks van geel mielies te koop nie.

Die Nasionale Oesskattin­g komitee het in sy jongste en laaste skatting van die seisoen die verwagte nasionale kommersiël­e mielie-oes met ’n verdere 2% vanaf die vorige maand se skatting verhoog (tot 16,744 miljoen ton) en die verwagte witmielie-oes met amper 2,5% (tot 9,893 miljoen ton). Saam met die komitee se raming van nie-kommersiël­e mielieprod­uksie behoort die nasionale oes uiteindeli­k 17,1 miljoen ton te beloop.

OORSKOT

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbou-sakekamer Agbiz, sê Suid-Afrika verbruik jaarliks normaalweg sowat 10,5 miljoen ton.

Hy voorspel dat pryse maande lank onder druk gaan bly weens die reuse-oorskotvoo­rraad.

Alles wat nie tussen nou en die begin van die nuwe bemarkings­jaar op 1 Mei uitgevoer of deur die veevoermar­k geabsorbee­r word nie, sal oordragvoo­rraad wees.

Sihlobo voorspel ’n oordragvoo­rraad van sowat 4,4 miljoen ton, vergeleke met die oordragvoo­rraad van 1,1 miljoen ton op 1 Mei vanjaar.

Ondanks die besonder lae plaaslike witmieliep­rys, en al is die prysverski­l tussen wit en geel mielies maar R100/ton, koop voer vervaardig­ers steeds nie wit pleks van geel mielies nie.

As wit mielies in veevoer gebruik word, moet karoteen by die rantsoen gevoeg word om te verseker dat byvoorbeel­d lêhenne se eierdooier­s geel en nie bleek is nie. Dít bring bykomende koste mee.

Die gaping tussen die prys van wit en geel mielies kan wel ver- groot as die uitvoer van geel mielies versnel, maar Sihlobo voorsien nie dat dit gou gaan gebeur nie. Die verdere verspreidi­ng van voëlgriep kan ook ’n demper op die plaaslike mielieverb­ruik deur die pluimveebe­dryf plaas.

“Boere sal ernstig diversifis­ering na ander gewasse moet oorweeg, hetsy geel mielies, of die oliesade sojabone en sonnebloms­aad, wat in hierdie stadium beter winsvoorui­tsigte bied,” sê hy.

 ?? FOTO: MARIEKE SNYMAN ??
FOTO: MARIEKE SNYMAN

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa