STORM BROEI OOR SUINIGE KONTRAKTE
Boere wat hul vrugte aan die verwerkings maatskappy Langeberg en Ashton Foods (L&AF) lewer, het onlangs op ’n vergadering gal gebraak oor arbitrêre kwota-kontrakte en ongunstige voorwaardes vir die komende seisoen, skryf JOHAN COETSEE.
MEE Ras 120 omgekrapte Bolandse inmaak vrugteboere het onlangs op ’n spesiale vergadering hul kommer en misnoeë te kenne gegee oor hul verhouding met die verwerkings maatskappy Langeberge n Ashton Foods (L&AF). Dit is een van slegs twee inmaakvrugte-verwerkingsmaatskappye in Suid-Afrika. Die vergadering is gereël deur die Inmaakvrugte- produsentevereniging( IP V) op Robertson.
Daar is vrese dat kontrak voorwaardes vir die seisoen van 2018’19 vir die boere heelwat minder in die sak sal bring. Huidige kontrakte met individuele boere bepaal dat inmaakvrugte nog – soos tans – vir die seisoen 2017’18 ingeneem sal word, waarna nuwe kontrakte deur L&AF aan boere voorgelê sal word. Daar is ’n sterk gevoel onder produsente om saam te staan en te weier om enige nuwe kontrakte met L&AF te onderteken.
Dit is selfs genoem dat L&AF sekere hoeveelhede van boere se vrugte blatant “gesteel” het deur eensydige optrede. Dit volg nadat die maatskappy sedert Julie verlede jaar begin aandui het dat hy aan die huidige kontrakte wil verander, en dit ook doen.
Mnr. Wiehahn Victor, uitvoerende hoof van die IPV, sê die “eerste skoot was die sogenoemde ‘appelkoosbrief’ oor die inname van dié vrugsoort van November verlede jaar, wat ernstige frustrasies veroorsaak het”. Dit het gelei tot talle vergaderings tussen die IPV en L&AF sedert Januarie vanjaar.
KRAKE
Kort ná die appelkoosbrief het die “peer- en perskebriewe” in Februarie gevolg, waarin 13 produsente se perskekwotas opgesê en alle sapgraadperske-innames heeltemal gestaak is. Verdere krake het verskyn in die verhouding tussen L&AF en produsente te midde van dispute oor perske boord skedules. Toe, in Februarie vanjaar, het die maatskappy geweier om 6 000 ton perskes van kwotahouers in te neem. Eers ná ernstige onderhandelinge en beroepe deur die IPV is dit as sapgraad-vrugte ingeneem.
Ná 17 Februarie het L&AF aangekondig dat taaipitperskes teen R2 180/t – die prys wat vir sapvrugte betaal word – ingeneem sou word. Die finale betalings vir hierdie vrugte is nou deel van ’n dispuut en produsente dring aan op optrede.
“Die omgewing waarin die bedryf gefunksioneer het, is besig om drasties uit te rafel. Tans is die gevoel dat selfs huidige kontrakte ‘deurmekaar’ is en geen produsent werklik weet waar hy met L&AF staan nie,” sê Victor.
Nog slegte nuus is dat geprojekteerde agterskotte vir die 2016-’17-seisoen – behalwe dié van appelkose – skynbaar nie ten volle gehaal gaan word nie. Volgens Victor is die agterskot-projeksie van R4 110/t vir perskes afgebring tot R3 800/t, en dié van pere van R3 050/t tot R2 975/t.
“Dit het die speelveld drasties verander en die hele bedryf onder kwaai ekonomiese druk geplaas.”
TONNEMATE
L&AF se geprojekteerde tonnemate vir innames vir die seisoen 2017-’18 is 14 000 ton vir appelkose (dieselfde as die gekontrakteerde volume); vir taaipitperskes 61 000 ton (5% laer as die vorige jaar); vir pere is 20 000 ton geprojekteer (dit stem ooreen met die vorige jaar, maar is 30% laer as die gekontrakteerde volume).
Graderings vir die seisoen 2017-’18 bly dieselfde volgens kontrak, maar geen versapping svrugte gaan ingeneem word nie.
Die langtermyn kontrak vir die 2018-’19-seisoen en daarna is nog nie gefinaliseer nie, maar volgens voorlopige kontrakte wat die IPV onder oë gehad het, blyk dat die nuwe voorwaardes sommige boere se geldsake drasties kan knou: Volgens die formule waarvolgens produsente betaal word, gaan boere 13,6% per ton meer vir appelkose kry en 6% per ton minder vir perskes en pere. Victor sê dit kom neer op sowat R228/t minder vir perskes. Skynbaar wou die maatskappy ’n bepaling byvoeg dat 10% sapgraadvrugte gelewer moet word, maar dit is nou uit die voorlopige kontrak verwyder. In die nuwe kontrak gaan die minimumgrootte vir perskes skynbaar 60 mm wees, met geen toegewings vir vrugte van 57 mm tot 60 mm nie. Lewerings buite die spitstye gaan blykbaar nie meer toegelaat word nie – laat bonusse gaan skynbaar uit die kontrak geskryf wees. Vry-aan-Boord (FOB) word moontlik verander na ‘ex factory’. Wat produksie skedules betref, word hektare in die kontrak verander na tonnemate. Die oorblywende aspekte van die voorgestelde kontrak is in detail bespreek. In die geval van taaipitperskes kan dit ’n verlaging van R608/t tot R912/t meebring, wat nie net die boer raak nie, maar ook die plaasen fabriekwerkers.
WAT NOU?
Victor raai boere aan om boorde uit te haal wat ’n swak opbrengs lewer en onekonomies is. Hy sê ook boere moet ernstig klem lê op vruggrootte, hulle gereed maak om minder sapvrugte teen laer pryse te lewer, boord produksiekoste noukeurig bereken en goeie inligting bekom wanneer besluite oor boorde en kontrakte geneem word.
Mnr. Nassos Martals, L&AF se uitvoerende bestuurder, sê die maatskappy “respekteer en waardeer” die verhoudings wat die maatskappy oor jare met vrugteboere opgebou het. Hy sê die hersiening van die kontrakte is genoodsaak deur voortdurende markdruk weens onder meer die sterker rand, dalende wêreldpryse vir vrugte en sterker mededinging van ander lande.
“Ons glo vas dat die voorgestelde veranderinge op lang termyn volhoubaarheid vir die vrugteboerdery sal bring, asook die vermoë vir die besigheid as geheel om sy mededingendheid in die moeilike mark te behou.”