VELD BLY GOEDKOOP VOERBRON
Ondanks die kwaai styging in grondpryse en ’n groot skuif weg van ekstensiewe beesboerdery af, bly die sellulose in natuurlike weiding ’n relatief goedkoop bron van energie vir herkouers, sê mnr. Kenny Crampton, nasionale verkoopsbestuurder van Voermol.
Meer as 70% van vleisproduksie vind by voerkrale plaas, maar speenkalwers word op die veld geproduseer, het hy in ’n aanbieding saam met mnr. Hendrik van Pletzen, tegniese bestuurder, op SA Stamboek se telingsimposium in Parys gesê.
“In die sentrale dele van die land wissel grondpryse van R6 000 tot R8 000 per hektaar en die weidingkapasiteit van die veld is nagenoeg 10 tot 11 hektaar per koei. Dit beteken die kapitaalbelegging in elke teelkoei is sowat R66 000 tot R88 000. Daarom bly dit belangrik om hierdie bron optimaal te benut. Goeie veldbestuur bepaal nie net die produksie wat moontlik is nie, maar ook jou wins.”
Om natuurlike weiding elke tweede of derde jaar vir ’n volle groeiseisoen te laat rus, is ’n veldbestuurspraktyk wat sonder enige twyfel tot beter veldtoestande en diere produksie lei, het hy bygevoeg.
Navorsing deur prof. Hennie Snyman van die Universiteit van die Vrystaat wys dat die dravermoë op goeie veldtoestande gemiddeld 5,2 ha per grootveeeenheid (GVE) is. Op gemiddelde veld is dit 8,3 ha/GVE en op swak veld 19,3 ha/GVE. Produksie op goeie veld is 1 238 kg/ha, op gemiddelde veld 768 kg/ha en op swak veld 368 kg/ha. Veld in ’n goeie toestand kan ook ’n droogte baie beter deurstaan.
“Veldbestuurtegnieke verskil van gebied tot gebied, maar daar is sekere riglyne wat oral werk. Een daarvan is om veld elke twee of drie jaar vir ’n groeiseisoen te laat rus. Dit verbeter saadproduksie, saailingontwikkeling en die opbou van wortelreserwes.”
Ander navorsing oor grasproduksie op veld wat gerus het teenoor veld wat bewei is, toon die produksie van vleiblougras was 434 kg/ha teenoor 114 kg/ha. Vir oulandsgras was dit 932 kg/ha teenoor 437 kg/ha en vir vingergras 153 kg/ha teenoor 33 kg/ha.
Oor die belangrikheid van aanvullende voeding het Kenny gesê SuidAfrikaanse grasvelde het gewoonlik tussen vyf en nege maande per jaar ’n tekort aan fosfor, ruproteïen en in sommige gebiede natrium.