Doelwitte en waagmoed gee wenners voorsprong
Die wenners van DuPont Pioneer se Weeg-en-Wen™-opbrengskompetisie het elkeen sy eie wenresep. Landbouweekblad se joernaliste Gerrit Bezuidenhout, Marleen Smit en Johan Norval het met dié topprodusente gesels. Hier volg uittreksels uit enkele van die onder
Danksy ’n baie beter reënval in die somersaaigebiede het deelnemers aan die DuPont Pioneer Weegen-Wen-kompetisie dit vanjaar reggekry om in elke afdeling met ’n gemiddelde opbrengs van bykans ’n ton per hektaar hoër teenoor verlede jaar te spog.
Dit was nie net die graanoes wat beter gelyk het nie, want die getal inskrywings het ook met 10% toegeneem. Vanjaar het sowat 110 boere van oor die hele land in die agt kategorieë deelgeneem, sê mnr. Heinz Oellermann, sakebestuurder van DuPont Pioneer.
Landbouweekblad was in Augustus op die prysuitdelingsgeleentheid waar Heinz en mnr. Tony Esmeraldo, besturende direkteur van DuPont Pioneer in Suid-Afrika, die wenners en finaliste gelukgewens het.
In vanjaar se kompetisie het die wenners se resultate teenoor dié van die 2015-’16-seisoen aansienlik verbeter.
Dit is egter nie net reën wat vir beter opbrengste gesorg het nie, meen Heinz. Hy het die deelnemers aan die kompetisie geprys vir hul verbintenis tot proewe en om op hul eie plase te eksperimenteer om produksie en winsgewendheid te verbeter.
“Die groot faktor wat al die plaaslike finaliste, én die wêreld se beste mielie- en sojaboonprodusente, die Amerikaners mnre. David Hula en Kip Cullers, gemeen het, is dat dié boere hul eie navorsing doen. Hulle wag nie vir hul saadmaatskappye, hul plaagbeheermaatskappye of ander vennote om uit te vind wat die beste weg vorentoe is nie. Hulle probeer elke keer iets nuuts,” het Heinz gesê.
“Moet dus nooit ophou om self navorsing op jou plaas te doen nie – dit is uiteindelik die resep vir sukses.”
TWEE KEER TOPS
Die dubbele kroon wat mnr. Bernard Rabé vanjaar in dié kompetisie gewen het, is waarskynlik ’n prestasie wat min produsente hom sal kan nadoen.
Bernard is van die plaas Tweefontein naby Fochville (Gauteng). Hy het vanjaar die hoogste opbrengs vir mielies in die westelike produksiestreek, asook vir sojabone in die wes- telike produksiestreek behaal.
Hoewel die goeie reën vir die meeste boere ’n welkome verligting gebring het ná jare se droogte, is té veel reën ook ’n risiko. Die reënmeter het plek-plek vir Bernard oorgeloop, maar hy kla nie te hard nie en is verheug oor die uitstekende opbrengs te midde van hierdie uitdagings.
“Ons normale reënval vir die gebied is sowat 600 mm per jaar, maar ons het vanjaar 960 mm gehad, wat buitengewoon hoog is. Ons het beslis versuipskade gehad, wat ook die opbrengs beinvloed het. Die hitte-eenhede was ook nie vanjaar soveel soos verlede jaar nie,” sê hy.
“Ons stel elke jaar vir onsself ’n opbrengsmikpunt, na gelang van wat ons verwag die jaar se klimaat en reënval gaan bied. Dit beïnvloed onder meer ons bemestingspeile en plantestand.”
Hy verduidelik dat die boerdery se bemesting afwisselend toegedien word, met beter kolle wat meer bemesting kry.
“Die enigste bewerkings wat ek as standaard inbring, is om die kalk in die grond in te werk met ’n skotteleg of ploeg, na gelang van of daar keerlae is of nie. Uiteindelik gaan die bewerking egter oor die bekamping van onkruid. As daar bossies is, dan bewerk ons hulle met ’n skottelploeg. As daar meer is, dan ploeg ons hulle. En as daar nie bossies is nie, pas ons geenbewerking toe,” sê Bernard.