Landbouweekblad

TEELMATERI­AAL: KOEIE VOLG SPEENKALFP­RYSE

- — THEUNS BOTHA

Die skerp styging in die prys van speenkalwe­rs sedert Mei het ook oorgespoel na die prys wat vir koeie op veilings betaal word, sê mnr. JJ van der Watt, ’n afslaer van BKB op Cradock.

Hy sê ondanks die droogte word uitstekend­e pryse van tot R17 000 vir gesertifis­eerde, dragtige koeie betaal. Beefmaster-koeie met ’n kalwers het op die jongste veilings in die Oos-Kaap tot R20 000 behaal. Ou slagkoeie se prys was gemiddeld R13 000 stuk, terwyl vet Jersey-melkkoeie tot R9 000 stuk behaal.

Volgens hom kom die grootste belangstel­ling uit die Vrystaat, waar boere heelwat oesreste en oortollige mielies het. “Talle boere sien dit as ’n beter geleenthei­d vir waardetoev­oeging as om hul mielies teen die heersende pryse as ’t ware ‘weg te gee’. Daardie boere is ook bereid om die hand dieper in die sak te steek vir beeste wat hulle net hoef af te rond pleks van om aanteelvee te koop.”

Van der Watt sê weens die droogte is die kontantvlo­ei van talle boere onder druk. Daar is verkopers wat bereid is om wanneer hulle ’n paar diere beskikbaar het, dit eerder te bemark terwyl die pryse goed is as om die diere af te rond en deur slagplase te verkoop. Hy meen nietemin dat die goeie pryse nog geruime tyd sal voortduur. “As die Wes-Kaap goeie reën kry, kan dit opnuut ’n goeie vraag na beeste skep.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa