Willemse: Dít is hoekom SA landbou ’n toekoms het
Die mark vir landbouprodukte oorheers verbruikersbesteding in SuidAfrika. Die goeie nuus vir die landbou is dat dit allesbehalwe gaan verdwyn, ten spyte van ernstige probleme in die land.
Die vraag duik by baie byeenkomste op: Is daar ’n toekoms vir die kommersiële landbou? My antwoord is ’n onomwonde “ja”.
Natuurlik maak sekere kwessies onder die korrupte Zuma-regering sake baie moeilik vir kommersiële boere en ander private ondernemers. Dié aspekte word glad nie ontken nie en sal ’n groot struikelblok in die pad van vooruitgang bly solank pres. Jacob Zuma en sy Kabinet aan die stuur is.
Die doel is nie om hierdie struikelblokke hier uit te lig nie, maar ook nie om voor te gee dat dié kwessies nie belangrik is en selfs kommersiële boere se voortbestaan bedreig nie.
Die eerste vraag wat elke sakepersoon hom- of haarself egter moet afvra, is of daar ’n mark vir sy of haar produk is.
VERSTEDELIKING EN MIDDELKLAS
In die geval van Suid-Afrika kan ’n mens “ja” antwoord, anders as in baie ander Afrika-lande waar net ’n klein deel van die bevolking in stedelike gebiede woon en voedsel vanaf winkelrakke moet koop. In die geval van Suid Afrika woon ’n geraamde twee derdes van die bevolking in stedelike gebiede. Ruim sowat 80% van alle voedsel wat in die land verbruik word, word deur winkels en veral die supermarkgroepe voorsien.
Daar is meningsverskille oor hoeveel mense daar in Suid-Afrika is. Die amptelike raming is sowat 55 miljoen, maar nie-amptelike ramings is nader aan 70 miljoen mense. Asiërs, bruin mense en wit mense maak saam sowat 10% van die bevolking uit en het steeds ’n groot deel van die koopkrag as dit by voedsel kom.
Die nie-amptelike siening oor die getal mense in die land kan nogal beaam word deur die hoeveelheid mense wat om dorpe en stede plak. Plakkerskampe skiet oornag op en bly net groei. Dié mense is almal afhanklik van voedsel wat deur die kommersiële voedselketting voorsien word – vanaf die kommersiële boer tot op die winkelrak.
Afgesien van miljarde rande se landbouprodukte wat jaarliks gesteel word, word daar geraam dat die besteding aan voedsel, tabak en drank tot einde Junie vanjaar 8,7% meer was as in die vorige jaar.
Nog ’n feit wat sommige mense miskyk, is dat daar in die afgelope twee dekades ’n baie groot verskuiwing vanaf die laerinkomstegroepe na die middelklas plaasgevind het. Dit is ’n baie groot faktor in die vraag na voedselprodukte, veral hoëwaardeprodukte.
toon die huidige stand van Suid-Afrika se bevolking volgens LSM-groepe. In die bemarkingswêreld word die bevolking in 10 groepe verdeel. Dit sluit ’n wye verskeidenheid aanwysers in, onder meer opvoeding, werk en tipe huis. Die navorsing is deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gedoen en maak ’n belangrike deel uit van die raming van voedselverbruik in die toekoms.
Daar was in die afgelope twee dekades ’n grootskaalse verskuiwing weg vanaf die marginale groep (lae klas) na hoër klasse. Volgens die navorsers is sowat 9,5 % van die volwasse bevolking in die laer klas, wat hoofsaaklik basiese stysel-gebaseerde produkte verbruik. ’n Groot deel van dié mense woon in die Oos-Kaap en Limpopo (voormalige tuislande).
Die middelklas maak sowat 52% van die bevolking uit en verteenwoordig sowat 27% van die totale besteding. Dié groep verbruik al hoe meer hoërwaarde-voedselprodukte, soos suiwel, vleis, groente, vrugte en verwerkte produkte. Dit is ook waar die toekomstige groei lê.
Die hoërmiddelklas het ook aansienlik toegeneem. Saam met die welvarende deel van die bevolking is hulle sowat 38% van die bevolking met 71% van die beskikbare inkomste. Dit is die segment wat hoëwaardeen verwerkte voedselprodukte koop.
Die toekomstige groei in die vraag na voedselprodukte gaan kom uit die middelklas wat voortdurend daarna streef om na die hoër klasse te beweeg. Voedsel is ’n belangrik deel van die verandering.
Die feit is, Suid-Afrika is hoogs verstedelik en die bevolking het ’n baie hoër lewenspeil as in die meeste Afrika-lande waar slegs sowat 10-20% van die bevolking verstedelik is. In daardie lande is dit maklik om as ’n bestaanboer op hoogs vrugbare grond jou gesin te voed. Die teendeel is waar in Suid-Afrika.
VOEDSEL 25% VAN BESTEDING
Voedsel maak sowat 25% van die totale verbruikersbesteding in die land uit. Daar is baie optogte oor onder meer elektrisiteitstariewe en vervoergelde, maar as dit by die enkele grootse bestedingsitem kom, is daar min besef van die werklikheid. Die gewone bevolking se besteebare inkomste aan ander verbruiksitems word regstreeks geraak deur stygings in die prys van voedsel en dus die beskikbaarheid van voedsel.
Die groei in besteding aan voedsel, drank en tabak, asook die groei in totale besteding in die ekonomie, word in die getoon. Die groei in besteding en voedselbesteding is duidelik en die groei is in reële terme vinniger
as wat die ekonomie groei. Voedselbesteding as persentasie van totale besteding het in 2008 25,9% beloop en in 2015 sowat 25,2%. Dit hou dus grootliks tred met die groei in totale besteding. Onthou, Suid-Afrika is ’n nasie wat nie spaar nie, maar verbruik.
gee ’n ontleding van die besteding aan die belangrikste voedselkomponente, soos deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye verskaf is. Dit toon die besteding aan die verskillende hoofvoedsel-groepe vir die jaar tot Junie, asook die styging in die prys van die groep produkte. (Die tabel toon nie alle produkte nie.)
Die besteding aan voedsel het R638 mil- jard beloop. Besteding aan voedsel het in die afgelope jaar met 8,7% gegroei, maar die prysstyging was 10,1%. Dit toon dat verbruikers tog gevoelig is vir prysstygings en dan minder bestee aan voedsel. Hul le- wenstandaard daal.
Indien ’n mens vleis as voorbeeld neem, het die besteding R216 miljard beloop (op verbruikersvlak). Pryse het met 8,4% gestyg, maar besteding het stadiger gestyg met 6,3%. Dit is die neiging wat deurgaans dui op die belangrikheid van voldoende voedsel teen bekostigbare pryse in die ekonomie.
Dit is waarop ’n goeie regering behoort klem te lê. Die situasie gaan egter nie in die afsienbare toekoms verander nie. Grondhervorming is ’n mislukking en klein- en bestaansboere kan nie 50 miljoen of meer mense van kos voorsien via winkelrakke in die stedelike omgewing nie. Dit is bloot onrealisties.
Suid-Afrika het ook nie voldoende buitelandse valuta om afhanklik te raak van kosinvoer nie en die landbou is ’n netto verdiener van valuta.
Ten slotte, daar is baie kwellings in die land, waarvan misdaad en spesifiek plaasaanvalle, asook die politieke uitsprake van sommige mense dat grond genasionaliseer moet word, seker bo-aan die lys is. Die feit is, as die eiendomsreg op grond verdwyn, verdwyn banke se sekuriteit vir finansiering in die hele ekonomie. Dan sal banke ook genasionaliseer en kos op groot skaal ingevoer moet word.
Ek dink dit is ’n heel onwaarskynlike scenario. Kommersiële landbouprodusente is van die min ondernemers wat weet daar is ’n mark vir hul produkte. Die stryd bly om meer met minder te produseer en die nuutste tegnologie in te span.