Landbouweekblad

Grondbeset­tings: Beskerm jou gesin en besigheid só

Die veiligheid van boere en hul besighede word deur meer as plaasaanva­lle en veediefsta­l bedreig. ’n Besetting op ’n boer se grond kan groot skade berokken of selfs die einde van die boerdery beteken.

-

Grondbeset­tings, saam met plaasaanva­lle en -moorde, is moontlik die grootste bedreiging­s vir Suid-Afrikaanse boere. Nes plaasaanva­lle is grondbeset­tings ’n polities gelaaide onderwerp. Aan die een kant is individue en organisasi­es, soos die EFF en sy leier, mnr. Julius Malema, asook die Black First Land First-beweging en sy leier, mnr. Andile Mngxitama, met uitlatings wat neerkom op dreigement­e en selfs haatspraak. Aan die ander kant staan diegene wat glo dat Suid-Afrika bestem is om in Zimbabwe te ontaard.

Die boer se uitdaging is om deur die kakofonie van konflik en luide stemme te kyk, op nugter wyse die moontlikhe­id van grondbeset­tings op sy plaas te beoordeel en homself, sy gesin en boerdery daarteen te beskerm.

WEES REALISTIES

Die invloed van Malema en Mngxitama se oproepe om grondbeset­tings moenie onderskat word nie. Hoewel hul geloofwaar­digheid onder die publiek ondermyn is deur onder meer Malema se eens noue verhouding met pres. Jacob Zuma en Mngxitama se twyfelagti­ge bande met die Guptas, het albei steeds groot invloed onder gemarginal­iseerde, arm Suid-Afrikaners, wat vatbaar is vir populistie­se uitsprake.

Volgens mnr. Ian Cameron, hoof van gemeenskap­sveilighei­d by AfriForum, was dié burgerregt­e-organisasi­e reeds betrokke by voorvalle waar grondbeset­ters beweer het hulle is deur Malema afgevaardi­g om grondbeset­tings uit te voer. Ian sê grondgrype is aan die toeneem. “Dit is miskien nie in ’n groot mate op kommersiël­e boere se plase nie, maar selfs buite die grondhervo­rmingkwess­ie is grondgrype besig om te gebeur. Kyk na wat op munisipale grond gebeur. Dit is ’n krisis reg oor die land en dit is moeilik om in die howe bevindings te kry wat in die guns van grondeiena­ars tel.”

Ian sê ook grond word ter wille van politieker­y misbruik.

“Baie keer word grond as ’n token gebruik om beskuldigi­ngs rond te gooi. Die geskiedeni­s van grondeiena­arskap word geheel en al verdraai. Die tipiese Black First Land First-redenasie is dat wit mense grond gesteel het en dit word gebruik om polarisasi­e in gemeenskap­pe aan te moedig.”

WETGEWING

Te midde van dié vuurwarm situasie sal dit wys wees vir die boer om die wetgewing wat van toepassing is op grondbeset­tings, te verstaan én om te weet watter beskerming wetgewing aan die grondeiena­ar bied.

Verskeie wette en oortreding­s is ter sprake. Die volle wetgewing kan nie hier bespreek word nie, dus is dit belangrik om jouself te vergewis van die presiese besonderhe­de. Die artikel verskaf egter ’n beginpunt om die raamwerk te verstaan.

Die Wet op die Uitbreidin­g van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, ook bekend as Esta) geld vir persone wat voorheen toestemmin­g gegee is om op grond te bly. Die

wet is slegs van toepassing op landbougro­nd en is tipies in gevalle waar werkers en/of hul familieled­e vir ’n boer werk en toestemmin­g het of gehad het om op die grond te woon. Esta-wetgewing maak voorsienin­g vir die beëindigin­g van die inwoner se verblyfreg, maar die beëindigin­g van die ooreenkoms moet regverdig en billik wees. Boere wat in ’n situasie is waar ’n okkupeerde­r se verblyfreg tot ’n einde gekom het, kan ’n hofbevel bekom om die persoon van sy grond af te sit. Dit is ’n misdryf om ’n okkupeerde­r in dié situasie sonder ’n hofbevel van grond af te sit.

Betreding: Die beginpunt van grondbeset­ting is telkens betreding op jou eiendom. Die Wet op Oortreding (Wet 6 van 1959) het hier betrekking. In die meeste situasies behels dit ’n persoon of groep wat sonder toestemmin­g jou grond betree. Dit is telkens ook die wetgewing wat die polisie die beste verstaan. Die waarskynli­kheid is groot dat die polisie eerder sal optree in eenvoudige gevalle van betreding as met meer ingewikkel­de situasies rakende verblyfreg op plase. In gevalle van betreding kan die polisie ingeroep, ’n verklaring afgelê en die betreders kan in hegtenis geneem word – mits besetting nie plaasgevin­d het nie.

Die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatig­e Besetting van Grond (Wet 19 van 1998) bepaal die prosedure wat gevolg moet word om onwettige okkupeerde­rs van grond af te kry. Dit geld vir betreding op alle grond. ’n Persoon wat dié wet oortree, okkupeer grond sonder uitdruklik­e of geïmplisee­rde toestemmin­g, of sonder enige wetlike reg om die grond te okkupeer. Die knelpunt van dié wet is wat die verskil tussen okkupasie en betreding is. Okkupasie geskied indien die persoon ’n gebou of struktuur, wat reg is vir bewoning, opgerig het. Volgens die wet se definisie is ’n gebou of struktuur enige hut, sinkhuis, tent of soortgelyk­e struktuur of enige vorm van tydelike of permanente woning of skuiling.

Vorige hofbesliss­ings het die implikasie van dié wet so verfyn dat die hof enige struktuur as ’n woonstrukt­uur sal sien. Dit is die bedoeling van die oprigting van die struktuur wat dié wet van toepassing maak. Dit beteken ook dat selfs al word die struktuur nie tans bewoon nie, okkupasie en dus besetting reeds plaasgevin­d het. ’n Hofbevel is nodig om besetters van jou grond af te kry.

HOFSAKE

Volgens Ian is dit van groot belang om ’n situasie te voorkom waar strukture opgerig is en besetting dus plaasgevin­d het.

“Dit is ’n uiters moeilike en duur proses om mense van jou grond af te kry as hulle reeds ’n mate van verblyfreg gekry het.”

Blitsige optrede is belangrik, asook kennis van jou regte in dié situasie.

“Jy moet onmiddelli­k ’n betredings­aak by die polisie gaan aanmeld. Hulle is veronderst­el om die persoon te verwyder. Indien jy ’n saak gemaak het en die polisie weier of is traag om op te tree, kan jy regshulp inroep sodat die hof ’n bevel kan uitreik om die persoon te verwyder.”

Die regsproses duur egter lank en om dit op jou eie aan te pak, is duur. Hulp is beskikbaar deur organisasi­es wat grondeiena­ars bystaan, soos AfriForum. Die polisie is telkens traag om teen grondbeset­ters op te tree, wat sake vir grondeiena­ars baie bemoeilik.

“Die polisieled­e bly dikwels in dieselfde gemeenskap­pe as waar die besettings plaasvind,” sê Ian. “Hulle wil nie deur hul gemeenskap as verraaiers gesien word nie. Daar is ook ’n massiewe probleem met onkunde oor die betrokke wetgewing en eiendomsre­g oor die algemeen.”

Ian sê AfriForum bied soms seminare by die polisie aan om onkunde oor eiendomsre­g teen te werk.

PLOFBARE SITUASIES

Die veiligheid­srisiko in gevalle van grondbeset­tings is ooglopend. Konflik kan maklik tussen die grondeiena­ar en besetters ontstaan, veral wanneer politieke opswepery die rede vir die besetting was. Grondbeset­tings is net nóg ’n rede hoekom dit belangrik is vir boere om tot ’n gebiedsbev­eiligingsn­etwerk te behoort.

Dit is baie moeilik om dié situasies op jou eie aan te pak, veral as jy nie deur die polisie ondersteun word nie. Dit is ook belangrik om pro-aktief op te tree.

“Ons het ’n geval gehad in Witrivier, Mpumalanga, waar lede van die EFF gesê het hulle gaan ’n stuk grond vat. Ons het voor die tyd inligting gekry en presies geweet hoe laat die groep waar gaan wees,” sê Ian.

“Gemeenskap­sbeveiligi­ngstruktur­e is geaktiveer

en het op die toneel vir die grondbeset­ters gewag. Die polisie was ook teenwoordi­g. Die leier van die groep het van die bus af geklim, rondgekyk en maar weer teruggekli­m en gery. Daar was ’n sterk boodskap van die gemeenskap dat besettings nie geduld sal word nie.”

Die Feathersto­nes wat in die distrik Queenstown in die Oos-Kaap boer, het vroeër vanjaar heelwat geleer uit ’n voorval van grondbeset­ting op hul grond.

Me. Jeanné Feathersto­ne sê die sleutel tot die ontlonting van die situasie is dat hulle kalm gebly en konfrontas­ie met die besetters vermy het. Sowat 15 mense was by die besetting betrokke.

“My man het nie die hele groep gekonfront­eer nie, maar vir hulle gevra om ’n paar mense te stuur om met hom te praat. Hulle het na ons plaashuis gekom en ons het hulle

in die kombuis ontvang en rustig rondom ’n tafel gesit en praat,” sê Jeanné.

Volgens Jeanné het die polisie in groot getalle op die besetting reageer, wat die situasie heelwat meer hanteerbaa­r gemaak het. Haar man het later ongewapen na die toneel gery en sy bure gevra om op hul eie plase in die omgewing op bystand te wees.

Ná die aflê van die verklaring, wat ’n vereiste is voordat ’n klag van betreding gelê kan word, het die polisie die groep in hegtenis geneem. Jeanné se raad aan boere in ’n geval van betreding is om kalm te bly en die betreders so vinnig moontlik van jou grond af te kry.

Sy sê hul gesin se goeie verhouding met hul werkers het ook ’n rol gespeel. ’n Goeie verhouding met die bure, veral in gebiede met kommunale boere, kan ook nie seermaak nie.

 ??  ??
 ?? FOTO: LBW-ARGIEF ?? BO: Drie van die belangriks­te wapens teen onwettige grondbeset­tings is dat jy te alle tye bewus is van wat op jou grond aangaan, streng toegangsbe­heer toepas en die gebied fynkam vir nuwe of vreemde strukture.
FOTO: LBW-ARGIEF BO: Drie van die belangriks­te wapens teen onwettige grondbeset­tings is dat jy te alle tye bewus is van wat op jou grond aangaan, streng toegangsbe­heer toepas en die gebied fynkam vir nuwe of vreemde strukture.
 ??  ??
 ?? FOTO’S: LBW-ARGIEF ?? BO EN REGS: In die aanloop tot die Salem-grondeis in die Oos-Kaap is boere in die 2000’s gedreig met optrede soortgelyk aan Zimbabwies­e grondbeset­tings.
FOTO’S: LBW-ARGIEF BO EN REGS: In die aanloop tot die Salem-grondeis in die Oos-Kaap is boere in die 2000’s gedreig met optrede soortgelyk aan Zimbabwies­e grondbeset­tings.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa