Wat is ’n onafhanklike trustee?
Hoewel die Suid-Afrikaanse trustreg nie ’n onafhanklike trustee vereis nie, het die belastinggaarder dalk ander idees. Familietrusts het egter ’n paar opsies om te verseker hulle bly binne die reëls.
Asof dit nie genoeg is dat Jan Taks homself al byna as ’n bykomende (en hebsugtige) begunstigde in trusts ingewurm het nie, kom daar nou ’n nuwe vereiste: Dié van “onafhanklike trustee”. Bestaan daar so iets? Die naaste wat ons aan ’n “onafhanklike trustee” kom, na my mening, is dalk waar trustmaatskappye testamentêr as trustees aangestel is om bates namens begunstigdes te bestuur. En in die geval van die algemene sogenoemde familietrust? Nee wat, ek twfyel. Hoe “onafhanklik” kan enigeen wees as hy of sy afhanklik is van die trustoprigter se goedgesindheid?
Ja, daar is uitsonderings, maar dit is min. In die Suid-Afrikaanse trustreg is daar in elk geval geen vereiste vir ’n onafhanklike trustee nie.
GOEDGESINDHEID
Daar is twee kernvereistes vir ’n trustee. Eerstens word hy of sy aangestel met die fidusiêre verantwoordelikheid oor eiendom namens en in die belang van ’n derde party (die begunstigdes). Tweedens moet daar ’n onderskeid wees tussen die beheer oor en die genot van trustbates.
Jy kan dink dat as pa, ma, broer en sus almal sowel trustees as begunstigdes is, die trust eintlik net ’n manier is om die voordele te bekom wat deur die trustvorm moontlik gemaak word. Intussen gaan sake egter nes voorheen voort.
Dit is hierdie toedrag van sake waarteen ons howe toenemend uitsprake lewer. Ek meen dit is veral in die lig van die Appèlhof-uitspraak in die saak Land Bank vs. Parker dat die probleem van “onafhanklike trustee” na vore tree.
Paragraaf 35 lui: “Die Meester behoort in die nakoming van sy statutêre funksie te verseker dat genoeg onderskeid tussen beheer en genot gehandhaaf word in elke trust. Dit kan gedoen word deur aan te dring op die aanstel van ’n onafhanklike buitepersoon as trustee in elke trust waar (a) al die trustees begunstigdes is en (b) die begunstigdes almal verwant is aan mekaar.”
Wat baie mense egter miskyk, is dat hierdie aanhaling nie ’n beslissing van die hof was (of kon wees) nie. Dit is wel wat bekend is as ’n obiter dictum, ’n sydelingse opmerking of mening van die regter. Dit is egter nietemin een waarvan beslis deeglik kennis geneem moet word.
Met respek aan die regter en ander regsgeleerdes se insette oor die onderwerp: Ek meen dat solank as wat die trustoprigter die trustees kan aanstel en solank as wat die “onafhanklike trustee” se vergoeding van die goedgesindheid van die betrokkenes – trustoprigter en begunstigdes – afhang, gaan ons nie die probleem oplos nie. Ek sien ook geen wetsbepaling wat die Meester magtig om ’n “onafhanklike trustee” te vereis nie. Kyk wat ek hierbo sê. Wie bluf nou vir wie? Hoe lyk “onafhanklik”?
Die Meester het egter wel die bevoegdheid ingevolge die Wet op die Beheer oor Trustgoed (Wet 57 van 1988) om self ’n trustee van sy keuse aan te stel.
Doen hy dit, kan ek aan die burokratiese nagmerrie dink – om nie te praat van die teelaarde vir korrupsie nie – as elke trust ’n staatsaangestelde trustee moet hê.
OPLOSSINGS
Wat nou? Wat kan jy doen om te verseker jou familietrust kom nie onder skoot nie?
Ek hou van die gedagte van ’n onafhanklike kundige wat trustees kan bystaan met besluite, maar nie self ’n trustee is nie.
Die probleem is dat trustees gesamentlik besluite moet neem en gesamentlik verantwoordelik gehou word vir die besluite.
Een kan, ingevolge ons trustreg, nie eenkant gaan staan en homself as ’n “onafhanklike” beskou en homself vrywaar van die gevolge van trustbesluite nie. Ja, hy kan uitgestem word en hy kan dit notuleer, maar uiteindelik sien ek nie ’n ander uitweg in erge gevalle as dat hy sal moet bedank nie.
Dit sluit nou aan by wat in party oorsese lande bekend staan as ’n “trustbeskermer”. Dit is iemand wat as ’n onafhanklike party tot die trust toesig hou oor die aanstel en werkinge van trustees. Dit is vir my ’n beter opsie as om op ’n “onafhanklike trustee” aan te dring.