Landbouweekblad

Diamond T-Vrydag op Nooitgedac­ht

Plaaswinke­ls en spoorwegbu­sse was in die veertigerj­are net so kenmerkend van die Bos-Kalahari as die rooi Afrikaner-osse, kameeldori­ngbome en warm son.

-

Daardie jare was perdekarre die algemene vervoermid­del, motors was skaars (en het meesal net in die skuur gestaan omdat dit te veel van ’n gesukkel op die sandpaaie afgegee het). Die mense het selde die dorp besoek, en hul boerderybe­nodighede en lewensmidd­ele by die plaaswinke­l, waarvan daar een in elke klein gemeenskap was, gekoop. Daar is meesal op die boek gekoop, wat aan die einde van elke maand skoongemaa­k is. Soms is die proviand met plaasprodu­kte – eiers, ingesoute bees- en skaapvelle, vars vleis of plaasgroen­te-en vrugte – betaal. Die besigste winkeltye het met die Diamond T-spoorwegbu­s saamgeval.

Ene meneer en mevrou Kunz het die winkel op die plaas Nooitgedac­ht besit. Aan al vier winkelmure was daar rakke aangebring. Suiker, koffie, meel en lekkers is in sakke van vyftig pond aangekoop. Dan het die winkelier dit in kleiner mate afgeweeg en in gemerkte papierkard­oesies op die rakke uitgestal. Die rolle helderkleu­rige sismateria­al het darem die rakke opgekikker, en is by die jaart verkoop.

In een hoek was ’n effense sementverh­ogie, waarop ’n lang tafel met ’n verskeiden­heid skale en ’n kasregiste­r gestaan het. Met die draai van ’n slinger het die kasregiste­r se geldlaai uitgeskiet vir kontanttra­nsaksies. Die somme is egter met potlood en papier uit die kop gedoen.

Die res van die winkel se vloerspasi­e is deur emmers, melkkanne, rolle draad, ysterpale, kakieklere en buitebande ingeneem. Soms was daar selfs ’n fiets, maar net met vooraf-bestelling en gedeelteli­ke betaling. Die reuk van Boxer- en Springbokt­wak het oor alles gehang.

’n Paar tafeltjies en stoele op die onderdakst­oep was die manne se groot kuierplek. Die vroue en plaaswerke­rs het selde self winkel toe gekom, veral nie op Dinsdae en Vrydae wanneer die Diamond T-spoorwegbu­s met sy gereelde vrag al die die aandag kry nie. Soms het daar selfs ’n passasier of twee saam met die bus gekom.

Dit was op so ’n Diamond T-Vrydag dat Edwin Malherbe vroeg-vroeg sy kar ingespan het om winkel toe te gaan. Hy is opgewonde, want hy verwag hierdie maand ’n aansienlik­e klompie geld vir sy room. Sy boekskuld is ook min. DIE DAG SE STORIES

“Hallo, ou Edwin! Het jy reën daar in jou geweste gehad?”

“Jy vra nog, Daan. By my is die droogte darem gebreek. Jy weet, ek en Dina het nog voor laaste week by die Sandgate verbygery toe sy die vlieswolki­e doer in die hemele opmerk. So groot soos ’n man se hand. En sy sê nogals vir my dat daardie wolkie vir ons gaan reën bring. Soos wat ons aanry plaas toe, het die weer al dreigender geword. By ons plaashek was dit waternat. Hoe verder

‘Met die draai van ’n slinger het die kasregiste­r se geldlaai uitgeskiet vir kontanttra­nsaksies. Die somme is egter met potlood en papier uit die kop gedoen.’

ons ry, hoe groter en magtiger het die strome water geword. By ons huis kon ’n mens sien dat dit ’n wolkbreuk moes wees. Met dié dat ek die voordeur oopmaak, stroom die water van die binnekant van die huis af uit. En binne-in my arms, sê ek jou, spring daar ’n tamaai geelvis! So ’n seweponder!”

Op die stoep het nog mense aangekom, en nou skater hulle dit uit. Dit beloof om ’n gesellige dag te word. Die spoorwegbu­s is juis effens laat.

“En hoe vorder jou draadspann­ery, Daan?” wil Gert weet. “Wat my betref bly dit geldmors, my mater. Dat jy nou nie meer boomstompe wil gebruik nie! Dink jy dat ysterpale nie gaan roes nie? Al wat jy doen, is om vir ou Kunz ryk te maak.”

“Die werkery hou my baie besig, Gertjie. Baie besig. Eers moet die bosse in ’n reguit lyn uitgekap word. Ek wil die drade mos nou darem ordentlik span. Dit is juis met die uitkappery dat Silas my eergister kom roep het. Hy het my gewys dat daar waar die rosyntjieb­os gestaan het, ’n yslike knop op die grond was. So hoog, dit kon tot by ’n uitgegroei­de man se middel reik. Toe ek daaraan raak, bewe en dril dit en maak aardige geluide. Te grieselrig.”

“En wat was dit toe, Daan?” Gert is nie maklik te vinde vir ander se bogstories nie.

“Ons het met die bospik aan die knop begin kap. Toe het Silas die grond rondom so effens weggekalwe, waar dit soos ledemate gelyk het wat te voorskyn wou kom. Totdat ons dit eindelik kon uithaal: ’n Brulpadda! Die grootste wat ek nog ooit in my lewe gesien het. En ’n sware ding! Maar ek en Silas het hom darem op die kruiwa gelaai gekry. En toe hy die kruiwa wegstoot pad se kant toe, het ek gesien hoedat die padda se pote tot op die grond sleep!” Nou bulder almal van die lag. Meneer Kunz kom by die voordeur uit om te verneem of daar manne is wat solank hul boekskuld wil nagaan. Só kan alles vinniger verloop wanneer die roomgeld met die bus opdaag. Hy wil vandag die winkel vroeg sluit en met sy boerdery aangaan.

Maar Daan wil eers oor Gert se seer nek uitvra. Dit is Silas wat namens hom antwoord. Hy het te vertelle dat hy by was, en met sy eie oë gesien het, hoedat Gert sy eetkamerta­fel met die tande opgetel het.

Gert het op sy hurke afgesak totdat sy kop regoor die blad was, en dit toe stewig vasgebyt. Daarna met die spierkrag in sy bene, rug en nek regop gekom. Die tafel is van stinkhout gemaak. Nog deur sy Kaapse grootjie nagelaat. So dit was nie ’n liggewig nie, nè.

’n Ongeloofli­ke verhaal, maar niemand weerspreek hom, of het selfs net ’n beduidenis van ’n glimlag op die gesig nie. Almal ken Gert se opvlieënde en nors geaardheid, en hulle wil nie onnodig met hom skoor soek nie. Vanaand sal hulle wel om die etenstafel by hul eie huise en gesinne lekker praatjies maak en lag oor die dag se stories.

NET NOG ’N DAG

Toe die rooi Diamond-T voor die winkel stilhou, het almal reeds by die hekkie uitgepeul en staan ongeduldig en wag. Die bestuurder het nie verniet die toeter heelpad van die Vermeulens se draai af ge-honk nie.

Die bestuurder en sy helper sorteer die possakke wat by die winkel afgegee moet word. Op elke seilsak is ’n silwer plaatjie met die ontvanger se naam en adres gegraveer. Die slot van die possak kan met die geadressee­rde se sleutel, asook met die poskantoor s’n, oopgesluit word. Dan word die leë roomkanne, waarop koperplaat­jies met nommers aangebring is, ook afgelaai. Die boere sal self uitsoek watter kanne aan elkeen behoort.

In die winkel is die Kunze besig om elkeen se inkopielys­ie op te maak, en die kleingeld van die roomgeld uit te keer nadat die winkelskul­d gedelg is.

Die son trek water. Die koffie is koud en die gesels is op. Elkeen laai sy aankope agter die sitbankie van sy perdekar op en maak dit daarna stewig toe met seile wat vir dié doel saamgebrin­g is. Toe die bladskud verby is en die winkelstoe­p leeggeloop het, haak Edwin sy kar se disselboom en maak die swingelrie­me vas vir die terugtog.

Hy ry in die ondergaand­e son terug huis toe. Die westerkim is bloedrooi soos die sonstrale teen die stofdeeltj­ies op die horison weerkaats. Die kameeldori­ngbome gooi donker silhoeëtte teen die kleur.

En Edwin verwonder hom oor die moontlikhe­id dat hierdie volmaakte dag, soos alle ander dae, in die vergetelhe­id sal kan wegraak.

Sonia van Rensburg het in die Bos-Kalahari op ’n plaas tussen Piet Plessis en Stella grootgewor­d. Deesdae is sy ’n boervrou in dieselfde omgewing. Hekel en mosaïekwer­k tel onder haar belangstel­lings, asook tuinmaak. Sy sien veral uit na die appelkose wat sy November gaan oes.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa