Vrugte: Stewige premies vir SA se pienk appels
Suid-Afrika raak toenemend bekend om sy vermoë om uitsonderlike Pink Lady-appels — die blosende lieflinge van die bedryf — te verbou. Supermarkte in Brittanje verkies selfs plaaslike appels bo dié van mededingers.
Toe ek jonger was, was daar net drie soorte appels: Geel, groen en rooi. Elkeen het ’n naam gehad wat ons al in die kleuterskool moes leer: Golden Delicious, Granny Smith en Starking. Nie lank gelede nie was daar skynbaar ’n ontploffing van kultivars en die kultivarlys is nou so lank soos die N1. Maar iewers in die 1990’s het die wêreld se heel eerste pienk appels die rakke getref.
Dit was ánders as enigiets wat verbruikers nóg gesien het; nie net mooi en herkenbaar nie, maar ook met ’n soetsuur smaak waarvan mense nie genoeg kan kry nie. Pink Lady-appels het ’n revolusie in die appelbedryf ontketen. Die revolusie is dalk verby, maar die evolusie daarvan nog lank nie.
Wat mense egter nie aldag besef nie, is dat Pink Lady nie die kultivarnaam is nie (sien die KASSIE op die oorstaande bladsy). Dit is ’n internasionale handelsmerk waaronder pienk appels, wat aan die internasionale Pink Lady-vereniging (IPLA) se streng vereistes voldoen, bemark kan word.
Dit was nóg ’n nuwigheid om appels onder ’n handelsmerk te bemark, maar dit was ’n geniale skuif deur Apal (Apple and Pear Australia Limited), wat die eienaars is van die oorspronklike Cripps Pink-kultivar.
Daarna het baie ander kultivars Pink Lady se suksesverhaal probeer navolg, maar niemand kon hulle dit werklik nadoen nie. (Aan sitruskant het ClemenGold die wêreld op dieselfde wyse oorrompel.)
“Dis moeilik om te sê presies waarom Pink Lady so besonders is, maar dit het te make met die unieke konsep. Die appel self is ’n uitsonderlike vrug en dis . . . pienk! Dis die wêreld se eerste en enigste pienk appel! Die vrug het ’n vroulike karakter gekry en ek dink baie huisvroue wêreldwyd het daarby aanklank gevind,” sê mnr. Calla du Toit, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pink Lady-vereniging (Sapla). Hy boer met dié besondere appels in die Witzenbergvallei naby Ceres.
“Die hele storie oor Pink Lady dra by tot die uniekheid, maar vir my as boer is dit ook wonderlik om te sien hoe die vrugte reageer om die natuur se meganismes (vir die treffende kleurontwikkeling).”
Selfs die stewige heffings wat boere aan die IPLA moet oorbetaal, is nie ’n probleem nie. Die handelsmerk – met sy helderpienk, swewende hart – word só goed bestuur dat die geld terugvloei plaas toe.
Nou vir die goeie nuus: Pink Lady-appels uit Suid-Afrika troon boonop uit bo ander lande se Pink Lady-appels in die oë van supermarkte in Brittanje. Soos Calla sê: “Dis wonderlik om te weet daar is mense in die wêreld wat régtig graag Pink Lady-appels van nêrens anders as Suid-Afrika af wil hê nie.”
‘Dis wonderlik om te weet daar is mense in die wêreld wat régtig graag Pink Lady-appels van nêrens anders as Suid-Afrika af wil hê nie.’
GESOG ÉN IN AANVRAAG
Pink Lady-appelboorde staan ook in Frankryk, Italië, Amerika, Chili, Argentinië, Uruguay, Brasilië, Australië en Nieu-Seeland.
“Naas Chili het Suid-Afrika die meeste hektare Pink Lady (in die Suidelike Halfrond) en is ons verreweg die grootste voorsiener aan supermarkte in Brittanje. Die Chilene en Nieu-Seeland het ’n groter markkonsentrasie in Europa, wat selfs groter geleenthede vir Suid-Afrika in Brittanje skep.”
Calla sê Europa en Amerika lewer dalk heelwat méér Pink Lady-appels, maar dit is die Suid-Afrikaanse produkte waaroor mense veral opgewonde is. Ja, sê mnr. Andy Macdonald, besturende direkteur van Coregeo in Kent, Suid-Afrika is die grootste en ’n báie belangrike verskaffer van Pink Lady-appels uit die Suidelike Halfrond.
“Suid-Afrika lewer effens kleiner appels, waarvan die Britse verbruikers baie hou, want sowat 75% van ons verkope is vooraf verpak.”
Andy sê Suid-Afrikaanse Pink Lady-appels kom op die regte tyd aan in die Britse mark.
“Ons vrugte uit die Noordelike Halfrond raak in Mei of Junie op en dan is ons gereed vir die nuwe oes uit Suid-Afrika. Dis ook die vinnigste om vrugte uit Suid-Afrika te verskeep, veral as jy in ag neem die ander groot alternatiewe is Chili en Nieu-Seeland. Suid-Afrika se appels kom eerste by ons aan.”
Calla sê dit kos net twee weke per see om appels van Suid-Afrika na Brittanje te verskeep. Dit duur twee keer langer van Nieu-Seeland en Chili af. “Dit het ook gehelp dat ons vir onsself ’n naam kon opbou vir Pink Lady-appels van goeie gehalte.”
Nog iets wat in plaaslike boere se guns tel, is dat alle produkte aan voedselveiligheidakkreditasie (soos Global Gap) voldoen.
“Dit is dus ’n veilige opsie vir die Britse mark. Ons vrugte is ook nie so groot soos dié uit Chili en Nieu-Seeland nie. Dus pas dit dié mark perfek. Ons verstaan die Britse mark ook goed. Hulle weet ons is altyd bereid om ekstra moeite vir hulle te doen, soos met flow
wrap-verpakking (sien die FOTO op bl. 44). Andy erken hulle is bekommerd oor die droogte in Suid-Afrika en die invloed wat dit op hul aanbod, veral tussen April en Oktober, sal hê. Hy sê die supermarkte kon weens die beperkte beskikbaarheid vanjaar nie groot promosies aanbied nie.
“Gewoonlik is Suid-Afrikaanse Pink Lady-appels se kleur net so goed soos die gehalte. Vanjaar was egter ’n uitsondering weens die droogte, maar die supermarkte was bereid
om ’n bietjie skiet te gee wat kleur betref.”
UITSOEK-TERREIN
Pink Lady-appels word in die Witzenberg, Koue-Bokkeveld, Bo-Swaarmoed en sekere dele van die Langkloof, en Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp verbou.
Veral Pink Lady-appels uit die Witzenbergvallei is bekend om hul goeie kleur. Sowat 70% van die vallei se appels voldoen gewoonlik aan die IPLA se Pink Lady-uitvoerstandaarde. Van die res word byna 20% plaaslik verkoop en dít wat oorbly, word vir sapproduksie gebruik.
“Jy kan nie Pink Lady in enige klimaatstreek verbou nie. In Suid-Afrika vind aanplantings plaas in die hoër, koue dele, met groot temperatuurverskille en genoeg koue,
Veral in die Ceres-omgewing is daar deesdae meer Rosy Glow-aanplantings as Cripps Pink, sê mnr. Calla du Toit, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pink Ladyvereniging (Sapla). “Die boere het vinnig gereageer op die verandering en danksy die unieke klimaatstreek vaar dit goed.”
Lady in Red, ’n Nieu-Seelandse kultivar, het ook onlangs planttelersregte in Suid-Afrika gekry en kan ook in die pienk kartonhouers bemark word. Die eerste hektare daarvan is reeds plaaslik gevestig.
want die kultivars het ’n hoë kouebehoefte. Dit moet verkieslik bo 800 m bo seevlak wees (die Witzenbergvallei lê 900 m bo seevlak). Daar moet ook ’n prominente wisseling tussen die dag- en nagtemperature wees, want verskille van meer as 12 °C tussen die dag- en nagtemperatuur begin die kleurvorming inisieer. As dit warm is in die dag, maar dit ryp die nag, kry jy ongelooflike kleur,” sê Calla.
Die kultivars is só terreinspesifiek dat daar eers halt geroep is met verdere aanplantings in Europa. “In die verlede het mense dit op verkeerde plekke geplant, maar nou moet die IPLA eers die terrein goedkeur as iemand nog daarvan wil aanplant.”
Calla sê veranderende klimaatspatrone in die Wes-Kaap maak boere bekommerd.
“Boere sal planne moet beraam om die voorkeurverskaffer te bly, maar aangesien daar sulke goeie samewerking tussen die Pink Lady-boere in Suid-Afrika is (deur Sapla), kan ons oplossings kry en die mark deurlopend voorsien.”
HOË PRYSE
’n Stewige heffing van €77 (sowat R1 200) per ton geld om die Pink Lady-handelsmerk te gebruik. “Dis relatief hoog,” sê Calla, “maar dit word gebruik om die handelsmerk te bevorder. Verlede jaar is meer $1,2 miljoen (sowat R15,7 miljoen) gebruik om die handelsmerk te beskerm.”
Die IPLA het ’n hooflisensiehouer in elke land. In Suid-Afrika besit Topfruit dié regte en altesaam 65 pakhuise is geregistreer om Pink Lady-appels te verpak. Daar is 25 gelisensieerde uitvoerders en 29 is afsonderlik geregistreer om die appels in Suid-Afrika en die res van Afrika te verkoop.
Aanvanklik was dit opsioneel om die handelsmerk in Suid-Afrika te gebruik, maar deesdae word alle appels wat aan die streng standaarde voldoen, onder dié vlag uitgevoer. “Dit maak finansieel baie meer sin vir ’n produsent, want op die oomblik verdien Pink Ladies groot premies, veral in Brittanje.”
Dit is moeilik om ’n presiese persentasie te gee, maar Calla reken Pink Lady-appels verdien tot 35% meer in Europa as konvensionele kultivars, soos Granny Smith-appels.
AFRIKA STEM OOK VIR PIENK
Statistieke toon dat die bedryf vanjaar sowat 1,6 miljoen kartonhouers Pink Ladyappels gaan verpak. Verlede jaar is altesaam 1,98 miljoen kartonhouers uitgevoer.
“Die droogte het maar ’n invloed gehad,” verduidelik Calla die afname.
Verlede jaar is net minder as ’n miljoen kartonhouers (elk die ekwivalent van 12,5 kg) na Brittanje uitgevoer en vanjaar word dié syfer op sowat 830 000 kartonhouers geskat.
Die naasgrootste mark vir Suid-Afrikaanse Pink Lady-appels is elders in Afrika, waar vanjaar ’n geskatte 440 000 kartonhouers verkoop sal word.
“Ons het in 2013 die eerste Pink Ladyappels wat in kartonhouers verpak is, na die res van Afrika uitgevoer. Lande, soos Nigerië en die Ivoorkus, hou veral van Pink Lady. Vir dié verbruikers is dit nie goed genoeg om ’n foon te hê nie, hulle wil ’n iPhone hê. Net so wil hullle nie ’n appel eet nie, maar ’n Pink Lady,” sê Calla.
Pink Lady is ook gewild danksy die puik houvermoë, wat nuttig is in Afrika waar die infrastruktuur en logistiek nog nie oral behoorlik op dreef is nie. “Die heffings om na die res van Afrika uit te voer is effens minder, want dié mark is tevrede met ’n ligter kleurspesifikasie. Daar is egter puik werk gedoen om die mark te ontwikkel en boere bly opgewonde oor die potensiaal in Afrika.”
Die res van die oes gaan na die VerreOoste (50 000 kartonhouers), die eilande in die Indiese Oseaan (36 000 kartonhouers) en die Midde-Ooste (17 000 kartonhouers).
TEGNOLOGIE EN NAVORSING
Dis nie om dowe neute dat verbruikers bereid is om meer te betaal vir die heerlike appels nie. Die IPLA werk baie hard om seker te maak élke appel onder die Pink Lady-vaandel waarborg ’n uitstekende eetervaring.
’n Appel kom nou maar eenmaal nie uit ’n fabriek nie. In Ceres Fruit Growers (CFG) se spoggerige pakskuur word duur tegnologie egter ingespan om so na as moontlik aan die ideaal te kom sodat elke Pink Lady wat verpak word, soos die vorige een lyk.
As die appels van die sowat 64 plase af inkom, word hulle stapsgewys afgekoel om interne verbruining te voorkom voor hulle vir twee tot drie maande in kamers met ’n beheerde atmosfeer opgeberg word. As paktyd aanbreek, word elke boer se appels afsonderlik gepak.
“Kameras help met kleur- en defeksortering om seker te maak die gehalte van die appels is deurgaans konstant,” sê mnr. Andries Pelser, pakhuisbestuurder, oor die Greefa GeoSort IQS4-sorteermasjiene wat 16 ton tot 17 ton appels per uur kan hanteer.
Die kamera neem blitsig 70 tot 75 foto’s van elke appel (in kleur, wit-en-swart en infrarooi). Nie net sien dit merke (beserings, kneusings, letsels, insekskade) op die appels en gradeer dit daarvolgens nie, maar dit verseker ook die appels voldoen aan Pink Ladies se spesiale kleurstandaarde – soos dat 40% van die appel dwarsdeur pienk moet wees.
Daarna word elke appel geweeg en die interne gehalte ook bekyk. Die interne sorteerder (spektrometer) dra veral by tot die eetplesier wat verbruikers ervaar wanneer hulle ’n hap vat van ’n ferm Pink Lady, met die kenmerkende soetsuur-smaak.
“’n Baie skerp lig word deur die appel geskyn en deur die spektrometer opgevang. Die kleur van die lig wat opgevang word, word ontleed en kan interne foute, soos verbruining, wat party jare ’n probleem by Pink Lady is, raaksien.” Die masjien neem dan die kombinasie van defekte, kleur en grootte in ag om te besluit hoe die appel verpak gaan word – vir die uitvoer-, plaaslike of sapmark.
Calla meen die deurlopende eenvormigheid van die vrugte is een van die redes waarom die Pink Lady-handelsmerk wêreldwyd so suksesvol is. “Die Pink Lady-handelsmerk het ’n internasionale netwerk navorsers. Verpakkers oor die wêreld heen kan dus die sagteware uitruil om seker te maak elke Pink Lady se gehalte is dieselfde.”
BESPROEI SLIM
Calla sê dit sit nie enige appelboer se broek om Pink Lady-gehalte appels te verbou nie.
“Die groot probleem is dat die vrugte ses maande lank aan die boom sit. Ek dink dis een van die redes waarom produksie in Suid-Afrika nie vreeslik gaan groei nie. Jou besproeiing moet oordeelkundig geskeduleer word om die bome vir só ’n lang seisoen nat te lei. Die produksiekoste is ook hoër, daarom moet boere premies verdien om dit die moeite werd te maak.”
Ten spyte daarvan is sy bloed pienk en sien hy ’n groot toekoms vir dié gesogte appels, sê Calla.