Veeskool
Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf sal baat vind by ’n nuwe graderingstelsel wat op die Australiese MSA-stelsel geskoei is. Die bedryf sal egter geld moet bestee en verbruikers opvoed.
Die Australiërs is oortuig dat hul graderingstelsel maklik in Suid-Afrika toegepas kan word, sê dr. Pieter Prinsloo, ondervoorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
“Prof. John Thompson, ’n senior lektor in vleiskunde in Australië, het meegewerk aan die ontwikkeling van die Australiese graderingstelsel (MSA; Meat Standards Australia). Hy het my dié versekering gegee, want hulle het dit reeds by hul ander invoervennote gedoen. Die stelsel is hoofsaaklik gerig op verbruikers om ’n aangename eetervaring te voorspel.
“Dit is vir die RPO belangrik dat groot voerkraalondernemings, asook ander handelsmerke en gehalte-aanwysers, soos die Veldvleisvereniging (GFASA), almal toegang moet hê tot so ’n graderingstelsel om ’n aangename eetervaring vir verbruikers te voorspel volgens ’n standaardprotokol.
“Vir die primêre produsent om ’n premie vir sy vleis van goeie gehalte te kry, moet albei opsies vir hom beskikbaar wees om waarde by sy produk te kan voeg,” sê Pieter.
Hy sê ’n handelsmerk wat hoë gehalte aandui, soos dié van die GFASA, sal baat vind by die selektiewe toepassing van so ’n stelsel. Dit sal egter moet gepaardgaan met ’n opvoedingsprogram om verbruikers op te voed sodat hulle ingeligte besluite oor hul vleisaankope kan neem.
GESPREKVOERING
Op verlede jaar se Veeskool het me. Sara Strachan van Australië óók te kenne gegee Suid-Afrika kan hul stelsel volg.
“Ek droom daaroor dat ons formeel in gesprek met hulle sal tree en die program as ’n steekproef in Suid-Afrika begin,” sê Pieter.
Die MSA-stelsel is gegrond op meer as 100 000 verbruikers in agt lande se voorkeure en werk met ’n indeks wat waardes toeken aan die faktore wat vleisgehalte beïnvloed: sagtheid (30%), smaaklikheid (30%), sappigheid (10%) en algehele eetervaring (30%).
Pieter sê dit gaan egter geld kos en die abattoirs moenie self die koste dra nie. ’n Soort heffing kan gevra word om die proses te finansier. Die verbruiker sal uiteindelik daarvoor betaal. Lede van die GFASA betaal ’n bedraggie per kilogram vleis gelewer om hul handelsmerk te gebruik.
Die inwerkingstelling van die MSA-stelsel sal geld kos, soos om gradeerders op te lei en Australiese kenners hierheen te bring. ’n Besoek aan Australië om formeel met hulle in gesprek te tree en te kyk hoe die stelsel werk, is ook broodnodig.
HOËWAARDEPRODUK
Dr. Michael Bradfield, organiseerder van die Veeskool, sê grootskaalse veranderings is besig om in internasionale markte plaas te vind waar ’n skeiding ontstaan tussen lande wat rooivleis bloot as kommoditeit verkoop, en markte wat dit as ’n hoëwaardeproduk beskou.
Aan die een kant is daar die grootliks Derdewêreldlande wat rooivleis as ’n kommoditeit in ontluikende markte verhandel en gewoonlik weens die swak valuta wat dié opkomende lande beleef, ’n uitvoermark wil stig.
Aan die ander kant het Westerse lande dit reggekry om vleis as ’n hoëwaardeproduk te posisioneer en as deel van hul uitvoeraksies uit te voer na lande wat ’n besliste premie daarvoor betaal.
Toe die Veeskool nog in sy kinderskoene was, is veral klem gelê op die produksie van rooivleis en produksie-eienskappe wat dit doeltreffender en mededingender maak, soos voerdoeltreffendheid, vrugbaarheid en ’n beter uitslagpersentasie van karkasse. Deur bekende mense, soos die internasionale beesbeoordelaar mnr. Martin Seyfferdt, te gebruik, is altyd gesorg dat die strukturele korrektheid van beeste groot voorrang geniet.
Daarmee saam is gesorg dat weiding- en voedingbestuur, genetiese vordering, dieregesondheid en die ekonomie van ’n vee-eenheid altyd saam ’n beter boerdery met vleisbeeste moontlik maak.
DOELTREFFENDHEID
Mnr. Kobus Bester, voorsitter van die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF), sê Suid-Afrika het ’n paar jaar gelede opgemerk dat die Amerikaners deur middel van hul stelsels vir voerdoeltreffendheid en hoe hulle dit benut, bulle begin identifiseer wat ’n voeromsetting van minder as 4 realiseer (4 kg voer per 1 kg vleis geproduseer). Dit het daartoe gelei dat twee toonaangewende boere van Namibië, mnre. Mecki Schneider en Ebbie Fischer, hul eie moderne voermeetstelsel uit Kanada ingevoer het, terwyl Suid-Afrika se Landbounavorsingsraad ook onlangs so ’n stelsel aangeskaf het.
“As ons as ’n Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf dit in die volgende 10 tot 20 jaar kan regkry om die gemiddelde voeromsetting in die land tot onder 4 af te bring, sal dit vleis as ’n produk baie mededingend met ander proteïenkommoditeite maak.
“’n Koei se vermoë om elke jaar ’n kalf te lewer, is ook belangrik. Ons het die Veeskool gebruik om koeiprodukte in detail saam met voorste internasionale sprekers te bespreek.
“Prof. Bob Weaber van Amerika het byvoorbeeld lesings oor koeigrootte en -produktiwiteit gelewer. Ons eie dr. Dietmar Holm het boere praktiese raad oor die waarde van ’n enkele dektyd en die praktiese toepassing daarvan gegee,” sê Kobus.
WAARDEKETTING
Verlede jaar se Veeskool was uniek omdat dit na die hele waardeketting gekyk het. Onder leiding van vyf voorste plaaslike vleiskundiges en vyf internasionale kenners is die kwessie van klassifikasie, gradering en vleis as ’n hoëwaardeproduk in detail bespreek. Dit was duidelik dat die MSA-graderingstelsel die beste ter wêreld is. ’n Weldeurdagte graderingstelsel kan binneén buitelandse verbruikers aanmoedig om méér te betaal mits vleis se gehalte gewaarborg kan word.
Suid-Afrikaanse boere tel onder die bestes ter wêreld, maar ten opsigte van die klassifikasiestelsel het die land die afgelope 30 jaar gestagneer. Die geld wat aan navorsing en ontwikkeling bestee word, is net ’n fraksie van wat sy internasionale eweknieë bestee.
“Dit sal ongelukkig veroorsaak dat ons nie in die toekoms met ons produk met Eerstewêreldlande kan meeding nie,” sê Kobus.